Jan Braai, vader van Braaidag

Jan Schanell, beter bekend as Jan Braai. (Foto: Facebook)

Vir Jan Schanell, beter bekend as Jan Braai, is daar nie ʼn enkele kossoort wat nie tot perfeksie op die kole gaargemaak kan word nie.

Voordat hy as Jan Braai bekend gestaan het, was hy net ʼn doodgewone Afrikaner met ʼn liefde vir ʼn braaivleisvuur en ʼn passie om sy gaste te trakteer met sappige vleissnitte, seekos en selfs groente.

Hy vertel aan Maroela Media dat hy steeds daarvan hou om enige kossoort op die kole gaar te maak.

“Ek diskrimineer glad nie en braai alle diere. Biefstuk, tjops, hoender en vark, sowel as seekos en groente,” skerts hy.

“Ek het geen probleem met vegetariese disse nie en berei natuurlik self ’n paar groot vegetariese disse soos braaibroodjies en mieliepap voor, maar ek is nie mal oor nagemaakte vleisworsies nie. Ek voel as jy wil vleis eet, eet regte vleis en as nie jy nie vleis wil eet nie, eet groente wat lyk soos groente. Gelukkig woon ons in ʼn demokratiese land waar almal kan doen wat vir hulle lekker is.”

Vanjaar steek hy weer op Vrydag 24 September ʼn braaivleisvuur aan. “Ek gaan presies doen wat ek van alle Suid-Afrikaners verwag, so ek gaan rondom ’n vuur saam met vriende en familie kuier terwyl ons ons erfenis deel en ons landsvlag met trots laat wapper.”

Braaidag is immers ʼn dag wat hy in 2007 van stapel gestuur het – ʼn dag waarop miljoene Suid-Afrikaners hul gemeenskaplike erfenis kan vier deur saam te kuier rondom die braaivleisvuur.

“Ons land het ’n ryk en diverse erfenis, maar om te braai is ons gemeenskaplike erfenis waardeur ons ’n gevoel van nasiebou vier.”

Jan Braai spog met sappige vleisstukke wat oor die kole gaargemaak is. (Foto: Facebook)

Hy skerts dat sy vriende soms geïntimideer voel wanneer hy by ʼn braai opdaag. “Dan staan ek maar eerder in die kombuis saam met die slaaimakers en drink ’n glas wyn,” sê hy.

Jan se gewilde braaiprodukte strek oor ʼn reeks van vleisprodukte tot braaigereedskap soos roosters, tange, handskoene, koksmesse, potjies en braaipanne, en nou het hy ook ʼn nuwe reeks braaisouse beskikbaar. Dié produkte is by Food Lovers Market en Woolworths beskikbaar.

“Drie bedruipsouse (basting), in ‘original-’, ‘prego-’ en ‘ribs & wings’-geure, wat hoofsaaklik bestaan uit heuning, tamatiesous en paprika, is beskikbaar.

“Dan is daar drie brandrissiesouse – Peri-Peri, Jalapeno en Chipotle. Al die souse is identies, ons vervang net telkens watter brandrissie in die sous is. So die verskil in hoe die souse lyk en proe is maar net watter brandrissie daar in is, en dit is dus ’n uitstekende tentoonstelling van brandrissies, vir mense soos ek wat van hulle hou,” verduidelik hy.

“Laastens is daar ook drie nuwe potjiesouse, ’n konsep waaroor ek al lank dink maar wat tot nou glad nie bestaan het nie. Die idee is om ’n uitstekende potjie vir elke braaier toeganklik te maak. Daar is drie soorte, vir beesstert, lam en hoender. In alle gevalle maak jy die potjie vir vier mense.

“Jy begin deur die vleis met sout en peper te geur en dan in olie in die pot te braai saam met een opgekapte ui. Daarna voeg jy die groente by en die pakkies souse spesifiseer presies wat bygevoeg moet word. Jy voeg uiteraard ook die hele sakkie sous by. Die sakkie sous bevat al die kruie, speserye en vloeistof wat ná ’n stadige prutproses (90 minute vir die hoender, twee en ’n half uur vir die lam en vyf uur vir die beesstert) vir jou ’n absolute wêreldklas potjie gaan bied.

“Dit het ʼn heerlike smaakprofiel en net mooi genoeg vloeistof. Die ontwikkeling van daai souse en presies wat om agter op die verpakking te skryf was nogal pret, veral vir my vriende, familie en bure wat heeltyd kon potjie eet,” sê hy.

Hy vertel Jan Schanell en Jan Braai verskil nie veel van mekaar nie. “Ek is mos nie ’n akteur nie, so ek speel nie ’n rol wat vir my geskryf word nie. Dit wat jy op televisie sien, is wie ek is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Africangrey ·

Wens ek was daar, om die braaivleisvuur saam met Jan.

Excalibur ·

JAN, JAN, JAN…DIE BIELIE VAN ‘N BOEREBRAAI!!
Welgedaan Jan Schanell, JY het soos ons Springbok rugbytoets kampioenskap in 2005 die hele volk & nasie saamgesnoer in ‘n gemeenskaplike kultuur & vriendskap wat met geen tierlangtyntjies van diversiteit, verteenwoordigheidsbepalings, politiek, polimiek, ens bevark is nie…net solank JY kan Braai & Geniet. Ek sien uit na jou NUWE produkte om ons generasie (Gen), “Gen-Zee” jeug te leer braai met sukses as einddoel asook die herlewenis van die ou “Baby-Boomers & Gen-X” (waarvan ek & jy sekerlik lede is) se spog vryheidsleuse “Braaivleis, Rugby, Sunny Skies & Chevrolet” of “Dop, Tjop, Bikini & Swem”. BlouBul manne & vroue ek het ‘n voeltjie hoor fluit dat Uitkyk Vleis- en Supermark net gisteraand hierdie Jan Braai doepas op hul rakke geparadeer het vir vandag se Nasionale Braaidag…sien julle daar! Braai & Lawaai Groete van huis-tot-huis, Dankie makker Jan.

Harley Davidson ·

Ons erfenis word vertrap nou doen ons maar die regte ding ons braai.

AmY ·

Ek mis nie een episode van sy program op kykNET nie. Ek geniet dit regtig baie.
Maar ek wonder soms of al daai geregte die eerste keer reg is.
Of moet hulle ook maar vir ‘n tweede keer skiet?

absoluut ·

Gary Player het gese, “The more I practice the luckier I get”, nou maar met braai is dit dieselfde, hoe meer jy dit doen en geniet hoe meer wil jy dit doen en meer geniet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.