Janie Bay en Early B span saam vir nuwe liedjie

Early B en Janie Bay (Foto: Verskaf)

Die gewilde sangeres Janie Bay, in samewerking met die bekende Afrikaanse kletsrymer Early B, het pas hul eerste liedjie saam, genaamd “Die Heelal”, bekendgestel.

Bay sê sy hoop dat “Die Heelal” mense sal aanraak. “Ek is dankbaar vir hierdie lied wat ek en Hunter Kennedy saam geskryf het en ek is opgewonde oor die samewerking met Early B. Dis vir my na aan die hart.

“Dit was vir my baie cool dat hy ingestem het om dit saam met my op te neem. Hy is volgens my ’n belangrike stem vir alternatiewe Afrikaanse musiek,” sê sy.

Bay het vir Early B die lirieke en musiek vir die liedjie gestuur en hulle het dit toe in twee verskillende ateljees opgeneem. Hy het daarna geluister, sy deel opgeneem en teruggestuur.

“Ek is mal oor wat hy daarmee gedoen het. My hoop is dat mense op hulle eie manier met ‘Die Heelal’ sal kan identifiseer en dat hul daar uit sal neem wat hul persoonlik nodig het,” sê Bay.

Early B vertel dat dit vir hom ’n eer was om “Die Heelal” saam met Bay op te neem.

“Ek is ’n groot aanhanger van haar werk. Die musiek gaan langer as ons hier op aarde wees en ek is trots om te sê ek is deel hiervan. Ek voel hierdie een gaan mense sommer vir baie jare bybly. Ek is vrek opgewonde oor die liedjie!”

Bay het in Mei vanjaar haar eerste enkelsnit, “Amper daar”, uitgereik. Dié liedjie het die afgelope paar maande groot sukses op trefferlyste, insluitende op Maroela Media se Afrikaanse Top-20, behaal.

Haar musiek-paadjie het die afgelope paar jaar indrukwekkende draaie geloop. Sy het in 2016 ’n platekontrak met Warner Music geteken en haar album Miscellany, wat in 2017 uitgereik is, was vir ’n SAMA-toekenning benoem. Haar musiek kan ook gehoor word in die plaaslike films Mooirivier en Vir Altyd. Sy het ook haar eie weergawe van “You are my Sunshine” opgeneem vir die fliek Stroomop.

“Die Heelal” is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.