Jay ‘uit veld geslaan’ oor goeie nuus

Jay du Plessis (Foto: Facebook)

Die Afrikaanse sanger Jay du Plessis sê hy is “uit die veld geslaan” nadat sy jongste album, So lank sal ek jou liefhê, binne net ses weke goue status behaal het.

Die sanger, wat wyd geprys is vir sy optrede tydens verlede jaar se Afrikaans is groot-konsertreeks, sê hy het nie verwag om dié mylpaal te behaal nie – veral nie enkele weke nadat die album vrygestel is nie.

“Dis wonderlike nuus en ʼn kunstenaar is altyd dankbaar daarvoor,” vertel hy tydens ʼn onderhoud. “Ek was werklik verras en uit die veld geslaan toe ek dit die eerste keer gehoor het. Maar dié nuus is die kersie op die koek. Ek het nie verwag dat die winkelverkope van die album so goed sal vaar nie weens die ekonomiese tye waarin ons leef en die feit dat die album ook aanlyn gekoop kan word.”

Hy sê ʼn nuwe musiekvideo vanaf die album gaan binnekort vrygestel word. “Ek het in dié stadium twee liedjies in gedagte, maar ek kan nog nie kies watter een in ʼn musiekvideo vervaardig moet word nie. Ek dink ek gaan my aanhangers kans gee om te kies deur dit op sosiale media te plaas – hulle is tog die outjies wat die musiek luister,” vertel hy.

Jay sê hy is veral trots op dié album – sy derde solo-album – omdat dit ʼn ander aanslag as van sy vorige musiek het. “Ons het doelbewus besluit om die album ʼn meer volwasse aanslag te gee – maar daar is ook baie van die pop- en dansliedjies op die album waarmee aanhangers my leer ken het. Ek wou ook al die verskillende kenmerke wat ek oor die jare opgebou het op die album ten toon stel, en ek dink ons het dit reggekry.”

So lank sal ek jou liefhê is in musiekwinkels landwyd en op verskeie digitale musiekplatforms, waaronder Joox en iTunes, beskikbaar. Vir meer inligting, besoek Jay se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.