Jo Black baardloos of nie? Nóú weet jy

Jo Black (Foto: Facebook)

Die Afrikaanse sanger Jo Black se yslike baard is byna meer bekend as sy diep stem en Afrikaanse trefferliedjies en ʼn foto van ʼn baardlose Jo het Suid-Afrika Vrydag aan die gons gehad.

Aïda Steyn, Jo se agent, het Vrydag aan Maroela Media bevestig Jo se baard is definitief nie afgeskeer nie. “Dit is die grootste ongelukkigheid wat ek nog ooit by Suid-Afrikaners beleef het, toe hulle gedink het sy baard is afgeskeer!” het sy geskerts.

Jo was Vrydagoggend ʼn gas op Martin Bester en Tumi Morake se oggendprogram op Jacaranda FM. Martin en Jo het deelgeneem aan die sogenaamde “The Big Beard Challenge”, waar hulle luisteraars gevra het om in te bel om te besluit wie se baard moet waai.

In ʼn video van die program wat deur die radiostasie op Facebook gedeel is, kan gehoor word hoe Martin sê: “Hulle gaan nie vir jou stem nie, jy kan relax.” Jo antwoord egter: “Hulle gaan vir my stem! My hande is nat [gesweet]”.

Die eerste vyf luisteraars wie se stemboodskappe deurgegaan het, se stemme het getel. Sommer die eerste drie boodskappe het vir Jo gestem en die skeermasjientjie is dadelik nadergetrek. Jo sit gereed, die skeermasjien kom nader… en dan eindig die video.

Die tonge het egter begin klap toe The Breakfast Show kort daarna ‘n foto van ‘n baardlose Jo opgelaai het.

Dié foto is egter al in 2015 geneem. Jo het in daardie jaar, ter nagedagtenis aan sy oupa wat aan kanker oorlede is, sy baard vir Movember afgeskeer. Hy het aan die einde van November 2015 weer begin kweek aan dié welige baard wat nou weer op sy ken pryk.

Aïda verduidelik Jo se een dogtertjie het destyds sommer begin huil toe sy haar pa sonder sy baard sien. “Die gesin se huishulp het ook sommer uit die huis uit gehardloop toe sy dié ‘vreemde man’ sien! Soos wat Jo self sê, ‘niemand vat aan sy baard nie!’”

Sy voeg by dis vreemd dat mense geflous is deur die baardlose foto, want Jo het direk daarna regstreeks op Facebook Live sy bekende liedjie, Skepe, gesing – baard en al.

Jo het ook tydens die program ʼn toekenning ontvang vir sy CD, Skepe, wat platinumstatus (30 000 eenhede verkoop) behaal het (sien ‘n musiekvideo van Skepe onderaan hierdie berig).

Jo en sy vrou se twee dogtertjies is nou vyf en agt jaar oud. Dis nie duidelik wat hulle sou dink van ʼn baardlose pa nie! Dis wel duidelik dat talle aanhangers baie ontsteld was oor die nuus.

Aanhangers wat met hul eie oë wil sien die baard is nog daar, kan Jo se vertoning Saterdagaand (26 Augustus 2017) by Hoërskool Wonderboom bywoon. Volg Jo Black op Facebook vir meer inligting oor sy optredes.


ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tammy ·

Ek vertrou geen man wat al sy hare afskeer nie. Sien dit as verskuilde agenda!!

marianna ·

Ek en my man is 39 jaar getroud en daar word niks weggesteek agter sy baard nie nie . Die eerlikste mens wat jy kan kry.

Richardt ·

Nou wonder ek wat word on naelaks (geverfde naels) en mascara weggesteek? Of hare wat gekleur word…interessant. Mans (ek doen) oordeel ook vrouens daarvolgens. Ek skrop my naels, so ek hoef dit nie te verf om swart weg te steek nie. As ek grys word, so what? Tenminste jok ek nie daaroor (of oor my ouderdom/wegsteek) nie. So what as ek n sproet of twee het…wie prober jy kul deur jou gesiggie wit te verf? Vanaand sien ek elkgeval hoe die regte jy lyk…net my 2sent gedagte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.