Jo Black laat sy ‘maanhare’ waai

Die foto wat Jo Black Donderdagoggend op sosiale media geplaas het.

“Ek het besluit om oor te begin, om dinge beter te doen, met meer passie en integriteit en met intensie [sic].”

Só het die sanger en liedjieskrywer Jo Black Donderdag op sy sosialemediaprofiele geskryf by ʼn plasing van ʼn onlangse foto waar sy gesig skoongeskeer is. Dié foto is reeds meer as 1 700 keer gedeel en hy het selfs op Jacaranda FM met Martin Bester daaroor gesels.

“Ek het lank gewik en weeg oor die foto, want ek weet dit word gevolg met honderde positiewe en negatiewe kommentaar. Verandering is die enigste konstante op die oomblik en dit is dalk ʼn goeie ding. Elke dag is ʼn nuwe dag vir ʼn nuwe begin. ʼn Tweede kans om oor te begin,” het hy geskryf.

“Ons word nie gedefinieer deur die opinies van mense nie. As ek ʼn leeu se maanhare afskeer, sy tande pluk en sy naels knip, wat is hy dan? ʼn Leeu!” het die “Voel jy die genade”-sanger verder oor sy kenmerkende baard geskryf.

“Al voel en lyk hy nie op die oomblik so nie, verander dit glad nie sy identiteit nie. Om ʼn musikant te wees, definieer my nie. My baard, beroep of finansies, definieer my nie. Dis die hart wat ons definieer! Goeie tye bou selfvertroue, moeilike tye bou karakter! So hierdie foto is op tweede kanse, op ʼn nuwe begin,” het Black geskryf.

Jo Black tydens verlede jaar se Aitsa-toekenningsgeleentheid. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media.)

Black se aanhangers het nie geskroom om hul menings oor sy nuwe voorkoms te laat hoor nie. “Uitstekend, nou is my baard langer as joune,” het ene Lou Duvenhage geskryf by ʼn foto van sy eie baard.

Vele het ook sy voorkoms met dié van die Hollywood-akteur George Clooney vergelyk. “Met of sonder baard, ons love jou. Jou musiek, jou lewensuitkyk, eintlik jou menswees is ʼn inspirasie. En ja, Suid-Afrika het ʼn George Clooney [sic],” het Gladys Coetzee geskryf.

Black se baard het in 2017 ook sosiale media aan die gons gehad toe hy op Martin Bester en Tumi Morake se destydse ontbytprogram op Jacaranda FM gemaak het of hy sy baard afskeer. Hy het daarna ʼn foto geplaas waar sy baard afgeskeer is, maar het uiteindelik gebieg dat hy nie sy baard tydens die program afgeskeer het nie en dat die baardlose foto in 2015 al geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MakersMark ·

Elke keer as Jo& se liedjie ophou speel oor die radio en tv voel ek die genade.

charmaine ·

Kyk ek het geweet hy is n mooi man met die baard….maar genade hy is vrek mooier nog sonder die baard hoop sy vrou waardeer daai mooie gesig, sjoe!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.