Jozaan vind liefde ná ‘The Bachelor’

Jozaan en die nuwe man in haar lewe (Foto: Instagram)

Die laaste keer dat ons van Jozaan Digue, die blondekop-prokureur van Centurion, gehoor het, was toe Lee Thompson haar met ʼn stukkende hart huis toe gestuur het en vir Gina Myers die finale roos in die eerste seisoen van The Bachelor SA gegee het.

Jozaan het destyds aan Maroela Media vertel dat haar hart aan skerwe was en sy nie verwag het om daardie dag met leë hande huis toe te gaan nie.

“Ek dink die regte liefde sal mý vind, ek hoef dit nie te gaan vind nie. Ek glo altyd dat dit wat vir jou bedoel is, jou sal vind. Ek is oukei om enkellopend te wees, ten minste vir nou,” het Jozaan in Mei 2019 vertel.

En nou lyk dit of die liefde haar uiteindelik kom vind het!

Jozaan het onlangs op Instagram ʼn foto gedeel waarin sy vrolik lag terwyl ʼn nuwe man knus langs haar sit. “Jy is die beste ding wat ek nooit beplan het nie,” het sy by die foto geskryf.

Lee verbreek sy verhouding met Jozaan (Foto: Verskaf)

Daarop het ander The Bachelor SA-alumni Marisia van Wyk, Bridget Marshall, Gina Myers en Gillian Seetso kommentaar gelewer.

“Jy verdien net die beste. Só bly vir jou,” het Marisia geskryf. “Ek lief dit,” het Gina geskryf.

Hoewel Lee vir Gina aan die einde van die seisoen gekies het, het hulle reeds in die slotepisode se uitsending laat hoor dat hulle verhouding nie uitgewerk het nie. Gina en Jozaan het goeie vriende gebly ná die program, maar dit lyk nie of Lee intussen nuwe liefde gevind het nie.

Maroela Media kon Jozaan nie vir kommentaar bereik nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae