Die sangeres Karlien van Jaarsveld het Woensdag geboorte aan ʼn gesonde babaseuntjie gegee.
Johannes Samuel is op 1 April op 37 weke gebore. “Dit is nie ʼn april fools nie [sic],” het die sangeres op haar Instagram-blad geskryf by ʼn skattige foto van die pienkvoet saam met haar in die bed.
Sy het ook ʼn foto van haar man, Joe Breytenbach, saam met sy jongste spruit gedeel.
“Hy is perfek, gesond! Vandag is die derde dag en hy kom saam met my huis toe. Ek dink net mammas wat al prem babas in hospitale moes agterlaat, en leë arms huis toe gaan, sal kan verstaan watse joy en massiewe voorreg hierdie is [sic],” het Van Jaarsveld gesê.
“Dankie Here, hierdie is regtig ʼn voorreg vir my, ek sê in nederigheid vir U dankie dat ek hierdie mag beleef vandag.”
Van Jaarsveld het reeds ʼn tweeling, Daniël en Eliah (5), saam met haar eksman en rugbyspeler Derick Hougaard, en ʼn tweejarige dogtertjie, Elah, saam met haar man, Joe Breytenbach. Sy het ook in 2015 op 19 weke ʼn miskraam gehad met ʼn dogtertjie wat sy Evah genoem het.
Sy het in Oktober verlede jaar bekend gemaak sy is swanger. “Ek wou nog altyd vier kinders grootgemaak het. Ek is dankbaar vir my vyfde babatjie en bid vir ʼn voltermynswangerskap,” het sy vroeër in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.
Sheez, ek wraggies nie geweet sy was weer swanger nie. Geluk
Hartlik geluk, Joe en Karlien. Hoop die pragtige klein seuntjie gee julle net vreugde.
Baie geluk julle!!!
Hoekom is dit nuuswaardig?