Kate en William ná 11 jaar steeds ʼn koninklike droomspan

Prins William en sy vrou, Kate Middleton, het verlede jaar hulle 10de huweliksherdenking gevier. (Foto: Chris Floyd/Instagram)

Die viering van Kate Middleton en prins William se 11de huweliksherdenking op 29 April is ʼn gelukkige afwyking van die stormwaters wat die Britse koningshuis die afgelope twee jaar moes trotseer.

Benewens die dood van koningin Elizabeth II se man, prins Philip, in 2021, het prins Andrew se seksuele aanrandingsaak en die deurlopende drama wat met prins Harry en Meghan Markle se koninklike uittrede gepaard gaan, heelwat ongewensde aandag op die Britse koningshuis geplaas.

Ondanks dié uitdagings is die hertog en hertogin van Cambridge, wat vanjaar albei hul 40ste verjaardae vier, ná 11 jaar en drie klein woelwaters steeds een van die wêreld se gewildste pare en kernrolspelers in die toekoms van die Britse monargie.

Nagenoeg twee miljard mense het op 29 April 2011 vasgenael voor die TV gesit om Kate en William se sprokiestroue in die Westminster-abdy dop te hou.

Die Britse troonopvolger en die donkerkop skoonheid het as studente aan die St. Andrews-universiteit in Skotland ontmoet. Kate het die eerste keer William se oog gevang toe sy in ʼn waaghalsige, deurskynende rok aan ʼn liefdadigheidsmodeparade deelgeneem het. Die paartjie se vriendskap het gou in romanse verander, met Kate wat selfs in die tweede jaar van hul studie dieselfde woonstel as William gedeel het.

Hoewel hul paadjies ʼn kort rukkie in 2007 geskei het, het William vir Kate die jawoord in 2010 met sy ma, prinses Diana, se bekende blou saffierring gevra. ʼn Jaar later het hulle voor 1 900 gaste trou aan mekaar beloof.

Hier is 11 kenmerkende foto’s uit die droomspan se 11 jaar saam.

1. Studentedae (2005)

Die jong prins en sy donkerkop skoonheid kort ná hul gradeplegtigheid.

Kate en William ná hul gradeplegtigheid. (Foto: Middleton-familie)

2. Verlowing (2010)

Pas verloof en stralend.

Kate admireer haar verloofring. (Foto: Ben Stansall/AFP)

3. Troue (2011)

ʼn Moderne sprokiesverhaal het hom in 2011 afgespeel toe die wêreld se oë op die jong paartjie se groot dag was.

Kate en William deel ‘n soen tydens hul troudag in 2011. (Foto: Leon Neal/AFP)

4. Eerste koninklike-toer (2011)

William en Kate se eerste amptelike oorsese toer was na die VSA en Kanada twee maande ná hulle troue.

Die paartjie tydens ‘n geleentheid in Amerika. (Foto: Timothy A. Clary/AFP)

5. Liefde by die Olimpiese Spele (2012)

Die paartjie by ʼn geleentheid van die 2012 Olimpiese Spele in Londen.

William en Kate by die Olimpiese Spele in Londen 2012. (Foto: Adrian Dennis/AFP)

6. Eerste baba (2013)

Kate is daarvoor bekend dat sy deur haar modekeuses hulde aan prinses Diana bring. Met die geboorte van prins George het sy ʼn ligblou Jenny Packham-rok gedra, soortgelyk aan die turkoois rok wat prinses Diana gedra het die dag toe sy en prins Charles die hospitaal waar William in 1982 gebore is, verlaat het.

Kate en William buite St. Mary-hospitaal in Londen. (Foto: Andrew Cowie/AFP)

7. Tweede baba (2015)

ʼn Klein prinses is gebore! Die egpaar het in Mei 2015 vir prinses Charlotte aan die wêreld voorgestel.

Klein George soen sy kleinsus. (Foto’s: Kensington Paleis/Twitter)

8. Taj Mahal (2016)

Die hertog en hertogin het op dieselfde bank poseer waarop Diana in 1992 gesit het toe sy dié monument in Indië alleen besoek het.

Die paartjie by die Taj Mahal in Indië. (Foto: Money Sharma/AFP)

9. Derde baba (2018)

Prins Louis is soos sy sibbe in die St. Mary-hospitaal in Londen gebore. Kate het dié keer ʼn rooi rok met ʼn Peter Pan-kraag gedra soortgelyk aan prinses Diana se rooi rok wat sy kort ná Harry se geboorte gedra het.

Prins William en Kate saam met prins Louis. (Foto: AP Photo/Kirsty Wigglesworth)

10. Skitterend by 007-première (2021)

Kate het koppe laat draai in ʼn blink skepping wat enige Bond-meisie jaloers sou maak by die première van No Time to Die.

Die paartjie kort voor die première van No Time to Die. (Foto: @dukeandduchessofcambridge/Instagram)

11. Tiende huweliksherdenking (2021)

Chris Floyd het pragfoto’s van die gelukkige paartjie by die Kensington-paleis geneem om dié mylpaal te vier.

Prins William Kate Middleton het verlede jaar hulle 10de huweliksherdenking gevier. (Foto: Chris Floyd/Instagram)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nici

Nie besef sy gebruik nog haar pa se van nie. Was onder die indruk dat sy Catherine Dutchess of Cambridge is. Nie seker hoekom sy nog Middleton is nie. Dis nie die korrekte gebruik om ‘n getroude vrou by haar nooiensvan te noem tensy sy dit self behou het nie.

piet

Hoe langer die huwelik, hoe minder die hare. Genade, die ou se hare het in’n kwessie van 15 jaar alles uitgeval.