Kate Middleton in die sop oor haar uitrusting

Kate Middleton, die hertogin van Cambridge (Foto: Twitter)

Kate Middleton, die hertogin van Cambridge, se uitrusting vir Sondagaand se 71ste Bafta-prysaand het vandeesweek die media en sosiale media aan die praat – dié keer as gevolg van die kleur van haar rok.

Middleton, wat gereeld as ʼn styl-ikoon in die poniepers bestempel word, word volgens CNN deur modehuise gereken as een van die stylvolste koninklikes nóg. Middleton word daarom gereeld geklee deur sommige van die voorste internasionale modehandelsmerke wat onder meer Tom Ford en Christian Dior insluit.

Die vrou van prins William, hertog van Cambridge, se modekeuse vir die Baftas (die pryse vir die Britse rolprentbedryf) in die Royal Albert Hall in Londen het egter die tonge van honderde sosialemediagebruikers laat klap.

Middleton het met ʼn donkergroen rok op die rooi tapyt verskyn – dít terwyl die meeste bekendes in swart geklee was ter ondersteuning van verskeie veldtogte teen seksuele aanranding en geslagsongelykheid.

Hoewel die Britse koninklike gesin dit meestal vermy om by politieke kwessies betrokke te raak, is Middleton erg oor die kole gehaal.

“Kwessies oor vroueregte is nie bloot politiek nie. Kate is ʼn vrou. Sy het ʼn dogter. Sy is veronderstel om standpunt in te neem. Dit is nie 1918 nie – dis 2018,” het die Twitter-gebruiker Martre laat hoor. “Dit is nogal jammer om te sien dat die hertogin van Cambridge nie swart of die Time’s Up-naald gedra het nie. Daar is niks polities daaraan om op te staan teen seksuele aanranding nie. Dit moes ʼn maklike keuse gewees het om te maak, maar hulle [die koninklikes] het nie geslaag nie,” het Diana Alston op Twitter gesê. Meer as 2 000 mense het haar inskrywing gedeel.

Piers Morgan, die Britse joernalis en televisieaanbieder, het Middleton intussen op sosiale media verdedig. “Die hertogin van Cambridge word ‘mishandel’ deur ‘feministe’ op Twitter omdat sy nie swart gedra het by die Baftas nie. Duidelik word sy nie toegelaat om haar feministiese reg uit te oefen om te kies watter kleur ook al sy wil dra nie,” het hy gesê.

Die Kensington-paleis het nie gereageer nie.

ʼn Groep van meer as 300 Hollywood-bekendes, onder wie Reese Witherspoon, Sarah Jessica Parker, Blake Lively en Charlize Theron, het aan die begin van die jaar ʼn veldtog teen seksuele misbruik en geslagsongelykheid in die werkplek van stapel gestuur.

Die veldtog, Time’s Up, is deur dié groep vroue in die vermaakbedryf begin nadat die eerste aantygings van seksuele aanranding en misbruik teen die bekroonde Amerikaanse rolprentvervaardiger Harvey Weinstein (65) gemaak is. Die doel van Time’s Up is verder om geld in te samel om die slagoffers van seksuele teistering se regsonkoste te subsidieer.

Volgens The New York Times beoog die veldtog ook om aan te dring op wetgewing wat verseker dat maatskappye gestraf en beboet word wanneer daar seksuele teistering of ongelykheid in hul werkplek is. Time’s Up beywer hom ook om maatskappye en individue af te raai om nié ooreenkomste met slagoffers aan te gaan wat hul verhoed om oor die teistering te praat nie.

Bekendes het ter ondersteuning van die veldtog swart op glansgeleenthede soos die Baftas en die Golden Globe-toekennings gedra.

Kate Middleton, die hertogin van Cambridge (Foto: Twitter)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

adriana ·

Dankie tog sy is nie beiinvloedbaar nie! En loop nie soos ‘n skaap agter ander aan nie. Sy het haar eie identiteit.

EIE KEUSE- EIE IDENTITEIT ·

Gelukkig is daar baie meer maniere om ondersteuning teen enige iets te bewys as om ‘n sekere kleur kledingstuk te dra. Wat mens in stilte doen het baie keer meer betekenis as om op die dak te staan en alles uit te basuin.

ELA ·

Se wat jy wil sy het stunning gelyk. donkergroen / swart samething diffrent flavour

ai ·

Ai tog…arme Kate! Daar is darem ‘n swart band onder die boonste deel van die rok ; D

HB ·

@adriana, ek stem 100% saam met jou. Sy het steeds pragtig gelyk. Dit beteken nie omdat sy NIE swart gedra het dat sy nie die veldtog ondersteun nie. Pragtige vrou met puik mode smaak. Diana sou trots wees op haar skoondogter.

Nettie ·

Dankie tog dat Kate Middleton haar nie laat voorsê watter kleur om te dra nie! Liewe land, sy was by die geleentheid – hoogswanger of te not, dit behoort genoeg te gewees het, maar nee – daar is mos altyd die tannies wat niks beter het om te doen as om te kyk waar ander mense skeef trap nie ……..

Gerda Grové ·

Bottelgroen by pragtige smarag halsnoer
Perfekte kombinasie!

Liezl ·

Pragtig, dis haar kleur! Daardie rok kon net sowel deurgegaan het as ‘n swart rok…lyk baie naby aan dit. Ek sien geen fout met dit nie. Die feit dat sy wel daar is, sê tog ook dat sy belangstelling het en omgee.

Robert ·

Daar is altyd die kritici wat ‘n eier te lê het. Of dit nou volstruis eier of mossie eier is, hulle moet gehoor word. Plaas hulle haar komplimenteer oor haar bereidwilligheid om aan die veldtog deel te neem en stylvolle klere drag. Sou seker ook ‘n eier gelê het indien sy nie op gedaag het nie.

Lollie ·

Koos hoekom het jy dit gelees? Hou op om negatiewe kommentaar te skryf oor n artikel. Jy is nie die enigste persoon nie so as jy nie van hulle wil lees nie onthou net daar is ander wat wil. ‘Skip’ die artikels wat jy nie van hou nie!
Maroela Media wil almal tevrede stel, nie net sommiges nie.

Theresa B ·

Ag los haar uit. Sy is pragtig en lyk altyd pragtig. Diana sou mal gewees het oor haar. Good for you Kate!! Wys al die stywe nekke hoe ‘n mens, mens kan wees!!

Jacky de Klerk ·

Kate het haar gemaklike self gelyk, en kleur gaan haar nie van haar verrigtinge weerhou nie, wat al klaar ‘n plus punt is, sy kon tuis bly dan was die tonge nog steeds los. Goed gedoen Kate

Estelle ·

Ek wens net Kate kon al hierdie boodskappe kry! Daar is reeds so baie druk op haar om “reg” op te tree en sy balanseer dit goed met nog haarself wees. En sy het soos ‘n ware prinses gelyk!!

Hoe Nou ·

Ek verstaan nie as julle se sy us haar eie mens en laat haat nie vertel wat om te doen nie.
As julle gelees het sou julle sien dat die hele Konlike familie nie betrokke raak by politiek nie.
Dus laat sy haarself voorse om nie betrokke te raak nie.
Diana sou betrokke geraak het en beslis swart gedra het, maar nie te min het sy pragtig gelyk.

Elize ·

Sy lyk baie mooi en dit is darem ‘n baie donker groen. Die mense wat gekla het is seker dieselfde klomp wat elke keer iets oor Diana te sê gehad het toe sy nog gelewe het.

Denise ·

Baie mooi Kate jou kleur rok is nie wat saak maak nie, jy as persoon wat omgee is wat van belang is hoe vervelig is die wat kritiek gelewer het asseblief kry n lewe !!!!!!

Verstommend ·

My mond hang oop. Is dit nou AL wat die mense het om oor te bekommer; die kleur van ‘n ROK???

Terwyl miljoene honger en dakloos is… en rerig, het die kleur van ‘n rok of t-hemp al ooit gemaak dat een mens minder vermoor of verkrag word?? Tsk!

Net so verstom!! ·

Ja wragtig, ek stem saam, mense is werklik stompsinnig en leef met oogklappe aan…..solank dit hulle nie raak nie is hulle oge toe vir ander mense se pyn en lyding…..ons het meer empatie nodig in hierdie wereld veral in SA.

BB ·

Ek dink sy was asemrowend in die pragtige skepping en het almal groen van jaloesie gemaak.

Theresa ·

Wow! Sy lyk asemrowend mooi in die lieflike skepping! In elk geval is dié donkergroen so na aan swart as demmit aan ‘n vloekwoord. Sy het ten minste bygewoon en daarmee haar standpunt gesteun?

Estelle Oelofsen ·

Terloops, sy lyk pragtig!. Eenvoudig en Smaakvol. Baie dames van aansien kan by kaar gaan kers opsteek. Alles moet mos altyd uithang. Dan het hul die vermetelheid om te sê die mans respekteer hul nie. Ekskuus?

Verisca ·

Ironies. Hulle staan op vir vroue regte, maar iemand Wat nie soos n skaap volg nie, word geboelie. Wat van Kate se reg om haar eie besluite te neem?

Luister ·

Genoeg van swart. Die punt is gemaak!
Gaan nou oor in dade; en kla die mans aan.

POP ·

Waaroor is die bohaai? Die rok is dan groen – nie swart nie.
En boonop lyk sy pragtig en stylvol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.