‘Katinka die kat’ wil bemoedig, inspireer

Katinka Weyers. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Mense herken Katinka Weyers, beter bekend as Katinka die Kat, as die maltrap blondekop wat grappige video’s op sosiale media deel. As’t ware is dié inhoudskepper ʼn entrepreneur, baanbreker en bowenal ʼn persoon wat nie net getrou aan haarself is nie, maar ook die Here.

Of dit nou video’s vir sosiale media, ʼn nuwe handelsmerkveldtog vir ʼn kliënt, ʼn opbouende video vir haar motiveringsplatform, Get up gurl, ʼn nuwe besoeker aan haar Mosselbaai-vakansiewoonstel of ʼn trouvideo is, wanneer Katinka iets aanpak, doen sy dit vir die Here.

“Ek het al die lewe gedoen met God en sonder God, waar ek hom nie deel van my doen en late gemaak het nie. Een ding wat ek kan sê, as God in jou lewe is, het jy ’n doel,” het Katinka aan Maroela Media in haar woonstel in die hartjie van Kaapstad gesê.

Sy wonder soms waarom sy ʼn platform het. “Is dit om vir myself te kan sorg? Om geld te maak? Nee. Die Here gee jou die geleentheid om ’n verskil te maak in ander mense se lewens. As ek dit vir een persoon kan doen, is ek gelukkig.”

Katinka (25) maak al sedert haar tienerjare video’s vir sosiale media. Toe sy destyds daarmee begin het, kon sy nie in haar wildste drome dink dat dit eendag haar werk sou word nie.

Sy was van jongs af gek oor mense wat video’s vir sosiale media gemaak het. In daardie stadium was die meeste van dié mense oorsee, en om in hul voetspore te probeer volg, het Katinka aanvanklik Engelse video’s op sosiale media maak.

Sy lag wanneer sy vandag aan daardie eerste video’s dink. “Ek kan nie Engels praat om my lewe te red nie!”

Dit was haar ma wat voorgestel het dat sy oorslaan Afrikaans toe, en dit is toe dat sy haar tuiste op sosiale media gevind het.

“Ek het baie vinnig besef hoe ongelooflik en sterk Afrikaans is. Ek kon myself soveel beter uitdruk as in die Engelse video’s,” onthou sy.

Haar eerste Afrikaanse video’s het oor ʼn karakter, Olga die pliggie, wat sy self geskep het gehandel. Dié video’s het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei.

Katinka het ná skool besluit om ʼn kursus by ʼn filmskool aan te pak, hoewel sy raad gekry het om eerder praktiese ervaring op rolprentstelle agter haar naam te kry.

“Bouwer Bosch is die een wat dié raad vir my gegee het.

“Ek het in daardie stadium van my lewe nie regtig geweet wie ek is nie, ek was baie beïnvloedbaar en nie op die beste plek in my lewe nie.”

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Ses maande nadat sy die kursus begin het, het sy begin wonder of dit die regte pad vir haar lewe en loopbaan is. Sy het onophoudelik gebid vir die krag en deursettingsvermoë om haar kwalifikasie te voltooi, of ʼn teken dat sy ander weivelde moet verken.

Toe bel Bouwer haar weer, dié keer om haar te nooi om op die stel van Thys & Trix te werk. Dit was haar teken, sy het besef dat sy die waagsprong sal moet neem, en vandag is sy nie een oomblik spyt oor daardie besluit nie.

Katinka het kort daarna aan die werklikheidsprogram, Survivor SA, deelgeneem. Sy erken dat talle mense ná die deelname haar werk en lewe op sosiale media begin volg het.

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Wanneer sy dink oor die beroep waarin sy haarself bevind, is sy trots daarop dat sy ʼn lewe vir haarself uit ʼn werk kon kerf wat nie as ʼn tradisionele lewenspad deur baie beskou word nie.

Toe sy destyds met haar werk as inhoudskepper begin het, was dit ʼn wildvreemde konsep vir tientalle mense in haar binne- en buitekring. Vandag, sê sy, is daar al tieners wat nie net video’s vir sosiale media maak nie, maar ook geld daaruit genereer.

“Daar is baie meer kompetisie as wat daar aanvanklik was, maar niemand is jy nie en dít is jou krag.”

Die vrese verbonde daaraan om relevant in dié veranderende bedryf te bly, is iets wat sy blus met die wete dat dit nie die hoofdoel van haar werk is nie.

“Die oomblik wat jy daaroor begin dink en stres, is wanneer jy moet terugkeer na die basics toe. Daar is seisoene in jou lewe, en as jy nie nou relevant is nie, is dit heeltemal oukei. Dit beteken dat die Here waarskynlik ʼn ander plan met jou lewe het.

“Dit is dalk ʼn teken dat jy op ander dinge, soos vriendskappe of jou huwelik, moet fokus.”

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Katinka is in 2020 met haar langtermynkêrel, Braam, getroud. Wanneer sy vandag aan hul ontmoeting en liefdespad dink, weet sy dat dit eintlik liefde met die eerste oogopslag was.

“Braam is my mens. Ons omring onsself met mense wat netso lief is vir die Here.

“Ons glo in ʼn opbouende en bemoedigende boodskap.”

Dit is juis dié boodskap wat sy hoop om uit te straal, selfs al is daar soms ʼn suurknol of twee wat lelike kommentaar op haar video’s lewer.

Dit is juis Braam wat haar geleer het dat konfrontasie dikwels vrugteloos is, en dat daar krag daarin is om iets van haar rug te laat afrol.

“Wanneer jy jouself ken, is dit nie nodig om jouself teen daardie kommentaar te verdedig nie.

“Daar gaan altyd mense wees wat nie van jou hou nie. Jy kan die beste perske aan die boom wees, maar daar gaan altyd mense wees wat nie van perskes hou nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.