Kim K en Kanye se paaie skei

Kanye West en Kim Kardashian in 2019 op die Innovator-toekenningsgeleentheid in New York, VSA. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Die televisiester Kim Kardashian het Vrydag na ʼn huwelik van byna sewe jaar aansoek gedoen om te skei van haar man, die kletsrymer Kanye West, het haar publisiteitsbeampte aan AFP gesê.

Die nuus van dié mega-bekende paartjie se egskeiding kom slegs enkele weke ná berigte dat die paartjie nie meer saam woon nie en huweliksberading ondergaan het om “gereelde verhoudingskwessies” uit te stryk.

Die skinderwebblad TMZ het Vrydag eerste berig dat die egskeiding “so vriendskaplik as moontlik” hanteer word.

Volgens TMZ het Kardashian, wat onlangs 40 geword het, vir gesamentlike toesig van hulle vier kinders gevra en het haar prokureur Laura Wasser die egskeidingsdokumente Vrydag ingedien.

Kardashian se publisiteitsbeampte het ook die egskeiding bevestig, maar het nie enige verdere besonderhede verskaf nie.

Die egpaar het in 2012 begin uitgaan en is twee jaar later tydens ʼn weelderige seremonie in Italië getroud en het mettertyd een van die wêreld se mees herkenbare paartjies geword.

Skinderkoerante berig reeds maande lank dat Kardashian en West se huwelik op die rotse is, terwyl West met geestesgesondheidskwessies sukkel en ʼn onwaarskynlike en omstrede toetrede tot die Amerikaanse politiek gemaak het.

West (43) het hom al vantevore uitgelaat oor sy stryd met bipolêre gemoedsversteuring. In Julie verlede jaar het die vermaaklikheidsmagnaat bekend gemaak dat hy as ’n kandidaat in die Amerikaanse presidentsverkiesing sal staan. Hy het in ʼn onsamehangende toespraak onthul dat hy sy dogter wou laat aborteer en in trane uitgebars.

Hy het ook ʼn rits uitlatings op Twitter gemaak, wat later uitgevee is, waarin hy sy vrou en skoonma, Kris Jenner, daarvan beskuldig het dat hulle hom wou laat opsluit en daarop gesinspeel dat hy wil skei.

‘Medelye en empatie’

Kim Kardashian en Kanye West op verlede jaar se Vanity Fair-partytjie. (Foto: Frazer Harrison/Getty Images/AFP)

Kardashian het destyds ʼn beroep op die media en publiek gedoen om “medelye en empatie” te toon ná haar man se wisselvallige gedrag.

“Diegene wat geestesgesondheid of selfs kompulsiewe gedrag verstaan, sal weet dat die familie magteloos is tensy die familielid ʼn minderjarige is,” het Kardashian in Julie in ʼn lang Instagram-inskrywing gesê.

Die egpaar het vier kinders: sewejarige dogter North, Saint (5), Chicago (3) en ʼn 21 maande oue seuntjie Psalm.

Afgesien van familiebesoeke het West die afgelope paar maande op sy plaas in Wyoming gewoon terwyl Kardashian en die kinders in Kalifornië woon.

Dit is ʼn eerste egskeiding vir West en ʼn derde vir Kardashian, wat bekendheid verwerf het op die Amerikaanse televisiereeks Keeping Up with the Kardashians, wat die lewens van haar familielede in Los Angeles volg.

West het in Chicago grootgeword en het 21 Grammy-musiektoekennings ingeoes. Hy het eers as vervaardiger naam gemaak voordat hy ʼn string bekroonde ateljee-albums uitgereik het en meer as 20 miljoen kopieë verkoop het.

Hy het onlangs ʼn baie openbare terugkeer na die Christelike evangelie gemaak en het uiteindelik ʼn langverwagte gospelalbum uitgereik.

Die paartjie het in 2012 begin uitgaan te midde van Kardashian se egskeiding met haar tweede man, Kris Humphries.

Hulle eerste kind North is in 2013 gebore en die paartjie is die jaar daarna getroud op ʼn 16de eeuse landgoed in Florence, Italië, ná ʼn voorhuwelikse viering wat by die Versailles-paleis in Frankryk plaasgevind het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alta Alleman

Kan jy jouself indink hoe hy as president sou wees?

Mickey

arme kinders, met daai name.

Johan

En?

Wil

Ja nee wat, ek is maar bly ek is in ‘n era gebore, en opgegroei toe die mensdom darem nog ‘n paar “marbles” oor gehad het.