King Louis van Wyk: ‘Ek tree nou uit omdat ék wil’

Louis van Wyk in sy kantoor. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Louis van Wyk in sy kantoor. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Hy tree vanjaar uit die musiekbedryf, kondig Louis van Wyk aan op die rusbank in sy huis in Pretoria-Oos.

Hy gaan ná 43 jaar in die bedryf “ ʼn bietjie rus” en die promotorsleisels aan sy dogter, die popsangeres Irene-Louise (of Rientjie, soos hy haar noem) oorgee.

Sy huis is stil, behalwe vir die twee Pekineeshondjies wat hom soos skaduwees volg terwyl hy tee maak. Sy vrou, Monica, pak eetgoed op houtborde uit. Was dit nie vir ʼn kykie in die dubbelmotorhuis waar 43 jaar se aandenkings van honderde vertonings getuig van ʼn buitengewone en roemryke lewe nie, sou jy dink dit is net nóg ʼn voorstedelike en gasvrye Afrikaanse huisgesin wat hier woon.

Hy wys al die plekke op die plakkate uit waar sy eksvrou, Sunette Bridges, oral sy vorige eksvrou, die ontslape sangeres Irene van Wyk, se naam uit jaloesie met ʼn swart koki-pen uitgekrap het. In sy boek, So jy dink jy wil ʼn ster wees, skryf hy ook hieroor. Vandag skud hy net sy kop.

“Irene-Louise wil nie met kunstenaars en sangers werk nie,” vertel hy prontuit. “Sy het te veel gesien van wat haar pa deur is. Ek sê dit met die grootste liefde in my hart, want ek het baie kunstenaars deur my hande gehad en nie almal is dieselfde nie, maar dit is nie maklik nie.”

Hy sê kunstenaars is soos die Kaapse weer. Hy het immers bykans 70 van die land se grootste kunstenaars bestuur, hy sal weet.

“Vanoggend is dit somer, vanmiddag is dit lente en vanaand is dit winter, jy weet. Om ʼn bestuurder te wees, is ʼn ondankbare werk. ʼn Kunstenaar verwag ʼn applous ná elke vertoning wat hy lewer. ʼn Bestuurder moet net sy werk doen. Hy kry geen applous nie, hy kry slegs sy kommissie en hy moet tevrede wees daarmee. Jy kry bitter min mense wat vir jou sal sê: ‘Baie dankie vir wat jy vir my gedoen het, ek sien dit raak en waardeer dit’. Dít gebeur weinig.”

Vir dekades lank was hy King Louis, die land se grootste musiekpromotor met sterre soos Steve Hofmeyr, Leon Schuster, Nianell, Kurt Darren, Pieter Koen en Dozi wat na hom gedraai het vir loopbaanadvies. Hy het ook internasionale groepe soos ELO, Deep Purple, Smokie en kunstenaars soos Bonnie Tyler na Suid-Afrika gebring.

Saam met sy kunstenaars het hy die land aan die brand getoer en was hy op die kruin van sy sukses in 2003 toe een van sy vroulike werknemers hom van verkragting aangekla het én ʼn handjievol vroulike kunstenaars hom van seksuele teistering beskuldig het. Die hofgedinge in die verkragtingsaak het uiteindelik in 2007 in Louis se guns tot ʼn stilstand gekom, en die ander beskuldigings het een na die ander soos mis voor die son begin verdwyn, maar die gebeure het hom en sy loopbaan nie sonder letsels gelos nie.

“Sommige mense maak dit nie 43 maande in dié game nie,” sê hy hardvogtig. “Ek het 43 jaar agter die rug en ek sal jou sê, dit was nie maklik nie.”

Louis van Wyk. (Foto: Verskaf)

Louis van Wyk. (Foto: Verskaf)

Hy het einde Maart 2003 die oproep ontvang wat sy hele wêreld in duie sou laat stort. ʼn Joernalis van ʼn groot koerant was besig om aantygings van molestering teen hom te ondersoek. Hy het sy ervaring in die bedryf, die monster waarvan hy onlosmaaklik deel was, gebruik om die situasie te beredder.

“Ek het geweet ek moet my mond hou en dit is presies wat ek gedoen het. Ek het nie baklei nie, ek het nie met die media gepraat nie, ek het nie met ander mense gepraat nie, ek het net stilgebly.”

Hy sê die enigste manier waarop hy ʼn regverdige spreekbeurt sou kry, is deur ʼn boek te skryf waarin hy sy waarheid van gebeure kon opdiep. So jy dink jy wil ʼn ster wees? het in 2008 die lig gesien en meer as 10 000 eksemplare is verkoop.

“As ek deur middel van die boek slegs een persoon se persepsie oor my kon verander, is ek tevrede. Persepsies kan enige mens se lewe verwoes.”

ʼn Christen is hy wel, maar erken dat hy nie iemand is “wat met die Bybel onder die arm loop en heeldag teksverse aanhaal oor hoe God my bygestaan het nie”.

“Ek wil wel iets aanhaal, en dit is dat dit sekerlik nie in die lewe gaan oor hoe jy val nie, maar hoe jy opstaan. Ja, daar was niks oor nie,” sê hy en tuur vir ʼn oomblik voor hom uit.

“Ek het lank opgehou. Ek het vir drie jaar niks gedoen nie, ek het net gesit. Weet jy hoe erg is dit om een oomblik King Louis te wees, en jou telefoon lui onophoudelik, en jy het 14 van die land se heel grootste kunstenaars op jou boeke, en die volgende dag word jy hanteer asof jy melaats is en almal waai en jou telefoon hou op lui en jou inkomste val na nul toe en almal gooi jou met klippe en jy voel jy is almal se sondebok en almal spoeg op jou? En jy weet binne jouself, maar jy het niks verkeerd gedoen nie en nou moet jy ʼn pad gaan stap met die gereg om jou onskuld te bewys.”

Ja, dit is so, erken hy, waar daar ʼn rokie trek, is daar ʼn vuurtjie en as hy op die kantlyn gesit het, sou hy ook gesê het, ag, kom nou, as soveel meisies dit sê, is jy natuurlik skuldig!

“Hoe meer jy sê dit is nie waar nie, hoe meer sê mense ja, sure, kom nou Louis, jy kan ons maar vertel. Maar ek moes stilbly. Om my onskuld te bewys het my baie geld gekos. Ek was in die landdroshof skuldig bevind, maar ons het van die begin af geweet dit gaan verkeerd loop, want die voorsittende beampte het net nie van my gehou nie en as dít gebeur, kan jy sien waarheen dit gaan.”

Met R20 000 kon hy skuld erken en aangaan met sy lewe. “Ek het geweier. Ek het byna ʼn halfmiljoen rand uitgehaal om my onskuld te bewys. Ek het die appèlsaak gewen binne 45 minute voor twee bevoegde regters. Daarna het al die klein, positiewe berigte op bladsy vyf beland, want my storie was nie meer sensasioneel genoeg nie.” Hy trek sy skouers op.

“Sensasie is ʼn b*****m. As hy rol, dan rol hy en dis moeilik om te stop. ʼn Mens moet verstaan, koerante maak nie die nuus nie, hulle rapporteer net die nuus, maar ʼn mens moet ook verstaan, as mense kan geld maak deur koerante en tydskrifte te verkoop, dan sal hulle dit doen.

“Hansie Cronjé en Joost van der Westhuizen is ook deur die publiek gekruisig toe hulle foute begaan het, en toe Joost dood is, is Loftus volgemaak en die hele land het gehuil. Op die ou end is ons almal maar net mense. Watter ou, enige ou in die wêreld, sal met eerlikheid élke fout wat hy gemaak het, openlik erken?”

Louis van Wyk. (Foto: Verskaf)

Louis van Wyk. (Foto: Verskaf)

Hy sê hy en Irene-Louise het saam besluit dat hulle met Music Profile Management in die toekoms op motiveringsprekers gaan fokus. Die maatskappy het reeds bekende name soos Hykie Berg, Melinda Bam, Leandie du Randt Bosch en Donnalee Roberts onder sy vlerk. Die komediant Craig du Toit Nel is ook een van Louis se jongste kliënte. “Ek sal aanhou werk saam met die ouens van die popgroep ADAM en Irene-Louise tot die dag wat hulle besluit hulle wil my nie meer hê nie.”

Sy lang loopbaan in die vermaakbedryf het hom geleer om nie mense so maklik te vertrou nie en dat kunstenaars en bestuurders nie noodwendig vriende kan wees nie. “Dit werk nie so nie. Daar is ʼn werksverhouding tussen ʼn bestuurder en ʼn kunstenaar en dit is iets wat ek dalk vroeër moes besef het.”

Louis vertel sy kinders by Irene (wat in 2009 in ʼn motorongeluk oorlede is), Irene-Louise en Vaughn, het deurentyd in sy onskuld geglo. “Ek en Vaughn het op ʼn tyd ʼn heavy paadjie gestap en daar was ʼn tyd wat pa en seun mekaar nie in die oë kon kyk nie, maar dit was as gevolg van die bedryf. Vaughn het lank vir my gewerk en alles wat hy weet, het ek hom geleer. Hy het nou sy eie besigheid en hy het gevoel dit is beter vir hom om sy eie pot te krap en homself te verryk en dit is wat hy gedoen het. Ek is baie trots op hom.”

Albei sy kinders het nie maklike jeugjare gehad nie. “Hulle is saam deur my en Irene se egskeiding en almal het geweet dat Irene ʼn alkoholis was. Dit was vir hulle moeilik om daarmee saam te lewe en dit te hanteer. Alhoewel ons geskei was, was ek steeds Irene se bestuurder en ons was steeds pelle. Ek treur nou nog oor Irene.”

Hy vertel hy kan nou, nege jaar ná Irene se motorongeluk, steeds nie na baie van haar musiek luister nie. “My vrou weet ek mis nog vir Irene – met ʼn broederlike liefde. Sy was ʼn fantastiese mens.”

Louis beskryf sy kortstondige huwelik en egskeiding met Sunette Bridges as “ ʼn absolute nagmerrie”. “My kinders het met tye baie swaar gekry. Irene-Louise het eendag vir my gesê sy kan nie ʼn maatjie huis toe bring nie, want die kind se ouers het gesê haar pa is te veel in die koerante. Hopelik het dit alles hulle ryker in ondervinding en sterker as mense gemaak en hulle geleer om te onderskei tussen reg en verkeerd en om te sien wat die media en kontroversie aan ʼn mens kan doen.”

As hy iets kon verander? “Hoe kan ek dit verduidelik? Ek sal maklik my hand op iemand se been sit en gesels of aan jou raak en gesels, maar daar word niks daarby bedoel nie. Ek sal maklik gemaklik wees en grappies maak, maar dit blyk dat party mense dit opgeneem het as grense wat oorskry word. Ek moes dalk net meer van ʼn introvert gewees het, maar dan sou ek my persoonlikheid moes verander.”

Benewens ʼn paar reise wat hy wil onderneem, wil hy nou net rus en die volgende fase van sy lewe saam met Monica geniet.

“Ek het baie gesondheidsprobleme en het al tien operasies gehad, waarvan min mense weet. Ek het vier nekoperasies gehad en het geen mobiliteit in my nek meer nie. Ek is nou 62, dit is 43 jaar later en ek geniet nie meer die bedryf nie. En ek sal dit eerlik sê: Daar is baie mense in die bedryf van wie ek nie hou nie en daar is baie mense wat nie van my hou nie. Dit is tyd vir my om uit te kom. Ek wil klaarmaak wat ek begin het en dan wil ek die res van my lewe rustig wees saam met my vrou.”

Hy en Monica is die laaste 10 jaar saam waarvan hulle agt jaar getroud is. “Daar was net 12 mense by ons troue. Ek het geleer dat jy nie almal in die wêreld nodig het om vir jou lief te wees nie. ʼn Mens het net ʼn handjievol goeie mense om jou nodig.

“Elke keer as ek bid, voor ander mense, saam met ander mense, voor ʼn ete, wanneer ook al, sê ek dankie vir my vrou. Sy het my gevat soos ek is en as sy my moet los, sal ek binne ʼn dag vrek. Ek sê altyd sy is ʼn engeltjie met vlerkies wat reguit na my toe gestuur is. Sy het my gekry tien jaar terug, jy kan dink waar was ek tien jaar terug in my lewe. Nie op ʼn goeie plek nie.

“Ek sê ook altyd daar bestaan tog ʼn ding soos third time lucky. Dan sê Monica, ja, sy hoop dit werk vir haar ook,” skerts hy en lag uit sy maag uit.

“Ek hoop net nie dat ek eendag onthou sal word vir al die verkeerde goeters nie, want ek dink ek het baie bygedra tot mense se loopbane en die bewyse is daar. Ek gaan nou rus op my eie voorwaardes en my eie tyd en ek word nie uitgedruk nie – dit is wat die verskil maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Petter King ·

hi Louis, dankie vir jou bydrae in my lewe, Model 2000 het ek geopen in Bloemfontein toe Andrea Stelzer Mej SA was, het jy haar gebring vir die openings aand. Steve, Dozi en vele meer het jy aan my toevertrou om optredes in die Kaap vir hulle te reel. Dankie en sterkte met jou aftrede, geniet nou alles wat rustig na jou kant toe kom. Petter – Colesberg Garage Theatre

Pietman ·

‘n Groot karakter met groot impak op die musiekbedryf. 43 Jaar!!

Chanell Botha ·

Louis, jy en Monica is stunning mense! Ons het julle 4 jaar terug leer ken toe ons vir n rukkie een van jou huise gehuur het. Ek wens julle alles van die beste toe in jou aftrede en vir Irene-Louise alle sukses toe om haar pa se groot spore te vul! Geniet elke oomblik van nuwe memories maak! Groete, Chanell Botha

pbotha ·

moenie kommer nie Louis…soos met Joost en andere sal jy eendag n groot begrafnis he…dis maar ons manier!! Terwyl jy leef is jy sleg en onder verdenking. As jy dooi is jy die hero en almal wil bietjie van die limelight vang op die dag. Ek ken jou nie…maar 43 jaar in die bedryf wil gedoen wees. Rus lekker

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.