Kurt Darren teen ʼn vinniger pas 24 kg ligter

Kurt Darren (Foto: Facebook)

Kurt Darren leef deesdae “teen ’n vinniger pas,” soveel dat hy die afgelope drie maande ’n stewige 24 kg afgeskud het.

“Ek voel fantasties en het baie meer energie,” het Darren Dinsdagoggend aan Maroela Media gesê.

Darren het die afgelope 12 weke nie net gewig verloor nie, maar ook spiermassa aangesit nadat hy die Kaizen Wellness-eet-en-oefenprogram begin volg het. Hy vertel dat dié program beslis nie ’n vinnige uitweg was nie en vasbyt, dissipline en tyd in die gimnasium gekos het.

Darren oefen elke weeksdag van vyfuur die oggend vir ’n uur en ’n half in die gimnasium. “Dan is ek reg vir my dag,” verduidelik hy.

Hy glo dat die geheim daarin lê om bloot gebalanseerd te lewe. Darren vertel dat hy beslis nié honger gely het tydens sy dieet nie en selfs koolhidrate kon eet. “Vanoggend kon ek roosterbrood en eiers eet. In die middae kan ek byvoorbeeld steak en aartappel eet,” sê hy.

Darren en sy vrou, Dunay, geniet dit om saam kos te maak en het so saam-saam dié eetplan gevolg. Ook Dunay lyk deesdae “te goed”, skerts hy.

Darren vertel dat hy nié met die program begin het met die oog om bloot gewig te verloor nie. Hy wou ook sterkter word aangesien hy aan sy rug kon begin voel wanneer hy lank op die verhoog staan.

“Dit was nie die gewig-ding nie. Ek wil nie hê my rug moet my pla wanneer ek my kinders van die gras af optel nie. Ek wil nog baie jare saam my kinders en vrou deurbring en musiek maak,” sê hy.

Darren en sy gesin het sowat vier maande gelede van die Kaap na Gauteng verhuis. “Dit is fantasties. Ons kinders se nefies en niggies is hier.” Hy verduidelik dat die besluit ’n goeie skuif vir sy jong gesin én besigheid was. “Dit het gevoel of ek byna drie jaar lank op vakansie was. Toe besluit ek om terug te kom. Ek lewe teen ’n vinniger pas.”

’n Nuwe manier van eet het ook vir Darren ’n hele nuwe manier van leef geword. “Ek is ook weer van voor af lus vir skryf. Dit werk soos domino’s.”

Darren begin vandeesweek aan nuwe musiek skryf en terg dat aanhangers ’n nuwe enkelsnit in Desember vanjaar kan verwag. Al lyk die nuwe Kurt Darren deesdae maerder en sommer jonger ook, verseker hy dat sy nuwe musiek nié sal verander nie en aanhangers kan uitsien na nog ’n dansliedjie wat die voete sal laat jeuk.

Darren het vanjaar saam met die sanger Tony Campbell ook ’n nuwe maatskappy begin wat geleenthede, onder meer bootreise, reël. “Dit was ’n besige en redelike tawwe jaar, maar 2019 gaan selfs nóg beter wees,” sê Darren.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pappi ·

Wel Gedaan ou KURT”!…..Ons was saam Tieners in die Tagtigs….Groot vrinne gewees….Daar in Kloofsig ,Lyttelton Centurion woonagtig….Ek self in die Fiksheids Bedryf…..So Great om te sien Hy is so n Fantastiese Voorbeeld!…..

pb ·

Wow!!! absoluut nuuswaardig. Maar steeds kan hy nie wysie hou nie

Poot ·

@pb
En dit ly vir my “pb” dat jy nie net by ‘n kompliment kan hou nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.