Leandie du Randt se raad vir as die grendelkoors jou pak

Leandie du Randt sê sy maak seker dat grendelkoors haar nie onder kry nie en deel graag haar raad as motiveringspreker. (Foto: Willem Botha.)

Die aktrise, sakevrou en motiveringspreker, Leandie du Randt, sê daar was eintlik nog maar min tyd vir stilsit sedert die afsonderingsmaatreëls in Suid-Afrika bykans twee maande gelede ingestel is.

Maroela Media het aanlyn by die aktrise gaan inloer om te hoor hoe dit met haar gaan en wat sy in die afsonderingstyd doen.

“Dit gaan goed met my, man, ek is so dankbaar en geseënd met lekker werk in hierdie lockdown. Ek het al twee aanlyn praatjies gedoen, ʼn dramaklas aangebied vir mense wat dit nie gestudeer het nie, maar steeds ʼn akteur wil wees, asook ʼn webinar vir die liefdadigheidsorganisasie Vintage with Love,” vertel sy.

Leandie is ook klaar besig om nog twee aanlyn praatjies vir volgende week te beplan. “Ek sal Dinsdag nog ʼn dramaklas aanbied en Woensdagaand gesels ek met die kreatiwiteitskenner dr. Kobus Neethling oor mense se breinprofiele.”

Sy het boonop aan die begin van die afsonderingstydperk ʼn spanningskortrolprent met die titel Kwarantyn op Instagram se IGTV uitgereik. Dit vertel die verhaal van ʼn vrou wat vir 21 dae alleen in isolasie is met die Covid-19-pandemie.

“Ons sien hoe sy positief en gemotiveerd begin en dan, ná ʼn sekere tyd, iemand in haar woonstel begin gewaar. Of is dit alles net in haar kop?”

Anders as die karakter van haar kortrolprent is daar gelukkig min tyd vir die aktrise om te tob, maar sy bieg dat die inperking maar ook sy uitdagings aan haar gebied het. Haar grootste uitdaging was om haar aanlyn sakeonderneming aan die lewe te hou.

“Ek moes vinnig en kreatief dink oor hoe om my aanlyn sakeonderneming aan die lewe te hou. Die onderneming het my nog elke dag van die inperking besig gehou.”

Leandie sê sy het in die afsonderingtyd daarop gefokus om haar aanlyn winkel staande te hou. (Foto: Verskaf.)

To Be Gift Boxes, wat Leandie saam met haar skoonsussie bedryf, verskaf volgepakte geskenkbokse vir elke geleentheid.

Sy vertel hulle was verheug toe die onderneming uiteindelik ʼn sertifikaat kon kry om noodsaaklike produkte tydens die inperking te versprei.

“Ons kon onmiddellik nuwe geskenkbokse bedink wat net essensiële produkte bevat. Dit het beteken ons moes kreatief dink, ons produkte aanpas en begin woeker, maar dit het gewerk en hou ons nou lekker besig. Terselfdertyd het ek baie geleer van hoe om vinnig aan te pas in hierdie tye.”

Sy vertel haar span fokus nou daarop om geskenkbokse vir Vadersdag gereed te kry.

“Dit werk so lekker om vir iemand wat jy nie tydens die lockdown kan sien nie, ʼn geskenk te kan stuur. Ons kan enige plek in Suid-Afrika aflewer en daar is geskenk vir babas, kids, oumas, oupas, mans en vroue,” vertel sy opgewonde.

Leandie erken daar het sedert die inperking ʼn rustigheid in haar lewe gekom.

“Ek dink die lekkerste van als is dat ek wel kan inlê en laat slaap, ʼn koppie koffie in die wintersonnetjie kan geniet as ek wil, of sommer ʼn hele series kyk. Ek staan nou verder weg van die gejaag van die rat race. Ek dink die inperking het ons almal gedwing om bietjie daarvan te laat gaan.”

Sy dink dit is beslis ʼn goeie ding wat die hele Covid-19-pandemie meegebring het.

Leandie sê as die hartseer of stres haar wel wil pak te midde van al die Covid-19-nuus en inperkingsmaatreëls, is die lysie wat sy begin maak van als wat sy het om voor dankbaar te wees, die enigste ding wat help.

“Dankbaarheid is my lewensfilosofie en ek leef al sedert 2012 uit hierdie verwysingsraamwerk. Sommige dae is moeiliker as ander. Dan huil ek maar vir uur, maar klim daarna weer op die trein, want ek het keuse: ek kan eerder die victor wees as ʼn victim. Dit begin in mens se gedagtes en dit is ʼn keuse.”

Die foto is in 2017 tydens die verfilming van die televisiereeks “Slank” geneem toe Leandie met dr Kobus Neethling ‘n onderhoud gedoen het. (Foto: Verskaf.)

Haar raad aan mense wat gemotiveerd in hierdie tyd wil bly:

  • Fokus op als wat jy het om voor dankbaar te wees in hierdie tyd en lys dit. “Dink aan die dak bo-oor jou kop, jou warm klere, internet, kos, jou gesin by jou of wat ook al;
  • Hou jouself gereeld besig met dit wat vir jou lekker is as jy nie werk het om jou hande mee besig te hou nie. Dit kan lees, skryf, verf, oefen of kosmaak wees.
  • Leer ʼn nuwe vaardigheid aan as jy angstig raak oor jou toekoms. “Die internet is jou vriend en jy kan so baie dinge leer wat self ʼn ekstra inkomste genereer.” Sy verwys na haar en Neethling se gratis webinar wat jou kan help om mense se breinprofiele beter te verstaan. “Dit kan jou dalk prikkel en laat besluit om in te skryf vir die kursus om breinprofiele te ontleed.”
  • Leer ken die Here beter in hierdie tyd en luister na wat Hy vir jou wil leer tydens die afsonderingsperiode oor jouself en jou geliefdes. “Die Here se genade is elke oggend nuut en verniet. Ek kry slegs rustigheid by Hom as ek angstig raak omdat ek weet Hy is in beheer, al voel dit miskien nie aldag vir ons so nie. Ek weet dit, want as ek terugkyk oor my lewe, was Hy die een wat my uit my storms gelig het nadat ek my lewensles daarin geleer het. Being in it, sucks, maar jy sal weer uitkom. Kinders van die Here is nie desperaat nie – hulle glo met ʼn kinderlike geloof dat als vir hulle ten goede sal meewerk.”;
  • Kies om te sien hoe die inperking ook positiewe punte het vir almal. “Ons leer weer om rustig te raak. Of jy nou meer of minder tyd saam met jou geliefdes spandeer, besef jy opnuut weer wat regtig in die lewe belangrik is en dat mens elke sekonde van elke dag as kosbaar moet beskou. Elkeen van ons het geleer om aanpasbaar te wees en vinnig te kan verander in ʼn wêreld sonder ʼn normale roetine. Ons leer gou hoe om gemaklik te word met verandering.

Leadie het in 2015 Neethling se kursus gedoen om ‘n praktisyn te word in die NBI breinprofiele en gebruik dit dikwels om haar katakters te ontleed, en haar geliefdes, kollegas en haarself te verstaan. (Grafika: Verskaf.)

Leandie sê sy wil ʼn spesiale dankie sê aan elke leser vir volgehoue ondersteuning aan haar en haar kunstenaars in hul afsonderlike loopbane.

“Veral nou, tydens die inperking waar ons nie in lewende lywe op ʼn verhoog kan wees nie. Ek is dankbaar vir almal wat my motiveringspraatjies aanlyn ondersteun en ons onderneming se geskenkbokse bestel. Sonder julle kan ek nie my droom uitleef nie.”

  • Volg Leandie du Randt op Facebook of Instagram. Lesers kan kaartjies vir haar aanlyn dramaklas op Dinsdag 26 Mei hier aanskaf. Stuur ‘n e-pos aan [email protected] vir die bespreking. Onthou ook om Woensdagaand 27 Mei om 20:00 in te skakel vir haar onderhoud met Neethling. Die uur lange gesprek gaan jou meer duidelikheid gee oor hoekom jy en jou geliefdes is wie julle is. Registreer hier vir die gratis webinar.

Kyk Du Randt se kortrolprent Kwarantyn hier op YouTube.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Chris

Baie goeie en mooi positiewe gesindheid. Ek ken die dame van geen kant af nie. Ek het nog altyd haar vir die lewensvreug en houding wat sy uitstraal bewonder. As die meeste van ons maar dieselfde gedagtegang en ingesteldheid openbaar. Dit is aansteeklik en opbeurend. Soos in elke mens se lewe is daar hobbels en sy het van haar hobbel ontslae geraak. Gaan so voort. Leef voluit die lewe is verniet