Leandie skep asem na huweliksbootjie sink: ‘Ek is nou oukei’

Leandie du Randt. (Foto: Verskaf)

Leandie du Randt. (Foto: Verskaf)

In Februarie vanjaar het dit wat sy eens geglo het die ondenkbare is, met Leandie du Randt gebeur: Sy en haar man, die musikant en akteur Bouwer Bosch, het die moeilike besluit geneem om hul huwelik van drie jaar te beëindig.

In die knus koffiewinkel in Pretoria, waar die somerreën al vir etlike dae aaneen val, laat dié Jagveld-aktrise en motiveringspreker die koppe draai in ʼn stylvolle geel jas, haar blonde kroon pas versorg deur een van haar vele skoonheidsborge.

“Mense kom sê vir my: ‘Ek was so geskok oor jou egskeiding’. Dan sê ek: ‘You and me both’,” sê sy met ʼn wrang glimlag.

Haar jongste motiveringspraatjie getiteld Dis oukei om jouself te skei van alles, handel juis oor die lesse wat die egskeiding haar geleer het – nie nét oor die huwelik nie, maar ook oor haarself en ander.

“Ek het steeds die wêreld se respek vir Bouwer. Ons was ongelooflike goeie maats vir mekaar, en ons moes maats gebly het. In die jaar wat ons begin uitgaan het, het ons albei ʼn ouer aan die dood afgestaan.”

Du Randt se ma, Elmarie, is oorlede ná komplikasies met vroeë Alzheimer se siekte en Bosch se pa, Pierre, het sy stryd teen kanker verloor.

Hoewel hulle probeer het om hul vriendskap ná die egskeiding te behou, het Du Randt later besef dit is nie moontlik nie. “Die eerste keer dat ek hom weer by ʼn geleentheid gesien het, het ek besef ek is nie oukei nie. Ek het ʼn Uber bestel en op pad huis toe my oë uitgehuil. Ek moes hom uit my lewe sny sodat ek weer vars kan begin.”

Leandie saam met twee van haar beste vriendinne, die aktrises Hanna Grobler en Je-Ani Swiegelaar. (Foto: Verskaf)

Leandie saam met twee van haar beste vriendinne, die aktrises Hanna Grobler en Je-Ani Swiegelaar. (Foto: Verskaf)

Voordat sy haar nuwe praatjie begin bemark het, het sy vir Bosch daarvan in kennis gestel. “Ek wou uit respek vir hom hom gerusstel dat ek nie details van ons huwelik met die gehore sou bespreek nie, maar dat ek wel die lesse wat ek geleer het, wil deel. Dit was die eerste en enigste keer wat ons gepraat het in ses maande.”

Die egskeiding het haar lewe in ʼn nuwe fase gesit, en al verskil dit hemelsbreed van die visie wat sy vir haar lewe gehad het, moes sy leer om te aanvaar dat die lewe met ʼn mens gebeur en dat sekere dinge buite jou beheer is.

“Ek het hierdie drome in my hart wat ek elke dag met die Here deel en Hy weet wat dit gaan vat om daar uit te kom. So ek moet vertrou dat dit wat met my gebeur het deel is van die paadjie wat lei na waar ek wil wees.”

Sy vertel ook in haar praatjie hoe sy ander mense beleef het ná haar egskeiding. “Die ergste ding wat ek beleef het, was Christene se oordeel. Dit was interessant om te sien watter mense my oordeel en watter mense my net liefhet en omhels. Soveel Christene het vir my gesê: ‘Toe skei jy nou maar net, jy weet die Here keur dit nie goed nie’.”

Pa Neels, dominee in ʼn NG-gemeente, het haar deur dié geestelike stryd gelei. “Hy het gesê ek moet ophou om myself te oordeel, want ek vat die oordeel wat mense oor my vel en sit dit op myself. Hy het my telkemale herinner dat al wat die Here wil hê is dat jy jouself moet wees en dit is hoekom ʼn groot deel van my boodskap juis daaroor handel. As jy jouself omring met mense wat jou nie toelaat om jouself te wees nie, moet jy hulle laat gaan.”

Leandie en haar pa, Neels. (Foto: Verskaf)

Leandie en haar pa, Neels. (Foto: Verskaf)

Sy gee toe die moeilikste deel van die helingsproses was om haarself te vergewe. “Ek het gevoel ek is nou ook net ʼn statistiek. Maar die gesegde dat tyd alles genees, is baie waar. As ek dink hoe ek nou, nege maande later, voel teenoor hoe ek gevoel het – ek het my oë uit gehuil, ek het vir dae in my bed gelê…”

Haar vriende en familie het laer om haar getrek toe die noodlot tref. Haar broer, Corné, en sy vrou, Michelle, het haar ingeneem vir twee weke en na haar omgesien. Michelle is ook een van haar sakevennote in hul suksesvolle geskenkboksmaatskappy, To Be Gift Boxes.

Dié aanlyn winkel, wat mense in staat stel om geskenke vir troues, verlowings en ander geleenthede te bestel, groei van krag tot krag, en het tans ooreenkomste met groot name soos SARIE, Women’s Health, Men’s Health, Tuis en Fair Lady.

“Van Januarie af kan mense ook ʼn nuwe webwerf verwag, waar ons dit vir hulle nóg makliker gaan maak om geskenke aanlyn aan te koop. Ons doen baie moeite om seker te maak die produkte is mooi en stylvol.”

Dié slimkop entrepreneur het ook die moeilike besluit geneem om Skoonma Clothing, haar suksesvolle aanlyn kleremaatskappy, vir ʼn rukkie te sluit. “Ná die egskeiding het ek gevoel ek het te veel balle in die lug en êrens gaan ek iets laat val. My hart was op daardie stadium die grootste bal waarna ek moes omsien.”

Leandie saam met haar broer, Corné en sy vrou, Michelle. Leandie is die peetma van hulle twee spruite. (Foto: Verskaf)

Leandie saam met haar broer, Corné en sy vrou, Michelle. Leandie is die peetma van hulle twee spruite. (Foto: Verskaf)

Soos wat sy gesels, besef sy weer wat ʼn uitdagende jaar 2019 werklik was. “Ek raak sommer weer hartseer as ek dink aan toe ek daardie mense [wat Skoonma se klere gemaak het] moes afdank.”

Tog was dit nie die laaste sien van die blikkantien nie. Sy is ʼn nuwe Leandie, sê sy, ʼn splinternuwe mens in ʼn nuwe fase. Dié nuwe fase gaan sy in egte Leandie-styl inlui met ʼn damesaand by die Rockwood-teater in Pretoria op 13 Maart, waar sy vir die eerste keer haar nuwe praatjie sal lewer. Irene-Louise van Wyk sal die musiekvermaak verskaf.

“Ek wil hê jy moet jou man en kinders by die huis los en jou vriendinne bring en saam met my ʼn glas wyn kom drink en moan oor die lewe,” sê sy en haar kenmerkende rasper-lag weergalm deur die koffiewinkel.

Sy sien uit daarna om 2019 vaarwel te roep en beplan om die nuwe jaar saam met haar beste vriendin, Michelle Gouws, tydens ʼn Europese toer af te sluit. “Ek reis baie. Dit hou my sane. My pa noem my nie verniet Leandie Wieletjies du Randt nie,” sê sy en haar lag helder weer die vaal koffiewinkel op.

Vir meer inligting oor Leandie se damesaand klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.