Leandie vat wéér die pad met nuwe motiveringspraatjie

Ná die groot sukses van haar motiveringspraatjie, #NoOneCanBeatYouAtBeingYou, is Leandie du Randt Bosch en Irene-Louise van Wyk terug met ʼn nuwe vertoning genaamd #VerstaanMekaar.

Du Randt Bosch het in 2016 met die #NoOneCanBeatYouAtBeingYou-praatjie begin en binne twee jaar meer as 130 vertonings gelewer, wat bykans altyd uitverkoop was. En stééds is dié praatjie in aanvraag. Sy het gesê haar tweede praatjie, #VerstaanMekaar, sal aansluit by die vorige een.

“Die eerste praatjie het daaroor gegaan dat niemand ʼn beter jy as jyself kan wees nie. So, dit het gegaan oor jou verhouding met jouself. Noudat jy klaar geleer het om op jouself te fokus, kan jy begin fokus op verhoudings met ander mense en spesifiek hoe jy die verhoudings van jou kant af verbeter,” het sy aan Maroela Media gesê.

“Ek gee basies vir jou die toerusting om mense beter te verstaan. Ek doen dit deur Kobus Neethling se breinprofiele te gebruik, asook Gary Chapman se liefdestale.”

Du Randt Bosch het gesê afgesien van die feit dat #VerstaanMekaar meer fokus op verhoudings as #NoOneCanBeatYouAtBeingYou, sal daar ook ʼn verskil in die gehoor wees met haar nuwe praatjie.

“Die vorige praatjie was meestal op vroue gemik, maar hierdie een is vir vroue én mans. Enigiemand kan daarby baat, of dit ʼn ma-en-dogter-verhouding, sussie-en-boetie-verhoudings, vriendinne, ʼn werksverhouding of selfs ʼn huwelik is. Ek dink die goed waaroor ek gaan praat in #VerstaanMekaar kan jou help om mense oor die algemeen beter te verstaan.”

Du Randt Bosch en Van Wyk val weer vroeg in 2019 in die pad om #VerstaanMekaar na verhoë oor die hele Suid-Afrika te bring.

“Besprekings is oop vir Februarie en Maart volgende jaar, en ons toer oor die hele Suid-Afrika, ons sal selfs Namibië of Botswana toe kom as mense ons daar wil hê. Mense wat wil hê ons moet na hulle toe kom, moet ʼn geleentheid skep in die plek of dorp waar hulle is, ons uitnooi, en dan kom ons!”

Du Randt Bosch het gesê sy het ongelooflik goeie terugvoering gekry op #NoOneCanBeatYouAtBeingYou, en hoop om #VerstaanMekaar net so suksesvol te maak.

Om vir Du Randt Bosch te bespreek vir #VerstaanMekaar óf #NoOneCanBeatYouAtBeingYou, stuur ʼn e-pos aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.