Leer ken ons nuwe Mej. SA

Tamaryn Green is Sondagaand as Mej. Suid-Afrika 2018 gekroon. Sy sal ook die land verteenwoordig tydens die Mej. Heelal-kompetisie. (Foto: Verskaf)

Tamaryn Green is Sondagaand as Mej. Suid-Afrika 2018 gekroon. Sy sal ook die land verteenwoordig tydens die Mej. Heelal-kompetisie. (Foto: Verskaf)

ʼn Lewenslange droom van ʼn 23-jarige mediese student van die Paarl in die Wes-Kaap is Sondagaand bewaarheid toe sy as die 60ste Mej. Suid-Afrika-kroondraer aangewys is.

Tamaryn Green, wat tans besig is met haar sesde en finale jaar as MBChB-student aan die Universiteit van Kaapstad, vertel sy het voorheen aan skoonheidskompetisies deelgeneem en droom al haar lewe lank daarvan om vir die Mej. SA-kompetisie in te skryf.

“Ek wou nog altyd deelneem, maar ek wou eers my studies voltooi om ʼn mediese dokter te word. Vanjaar is my hart egter in die rigting van die kompetisie gestuur. My hart het vir my gesê: ‘Dit is jou jaar,’” vertel sy.

Green glo dat Mej. SA soveel meer is as net ʼn kompetisie. “Dit is ʼn roeping, ʼn geleentheid om terug te gee aan die land wat tot dusver so ryklik aan my voorsien het. As Mej. SA sal ek in ʼn sterk posisie wees om by te staan in die herkonstruksie van ʼn beter Suid-Afrika.”

As Mej. SA wil sy graag die vroue van Suid-Afrika inspireer en bemagtig om die beste weergawes van hulself te wees. “Ek wil hulle wys dat hulle ʼn stem het en dat dit gehoor, raakgesien en waardeer kan word. As ʼn vrou glo ek daar is ʼn goue draadjie wat alle vroue dwarsoor die wêreld verbind. Saam kan ons die jeug van die wêreld ophef, inspireer, koester en opvoed.”

Green glo die land se krag lê in sy diversiteit. “Daar is geen ander land soos Suid-Afrika nie. Dit het ʼn unieke skoonheid, ʼn natuurlike bekoring en ʼn diverse nasie. Dis waarin ons krag lê. Dit is die dinge waarop ons trots moet wees en dit is wat ek as Mej. SA wil tentoonstel. Die wêreld moet weet wat dit beteken om ʼn lojale, trotse Suid-Afrikaner te wees.”

Haar ouers is haar rolmodelle. Pa David is ʼn kurrikulum-adviseur en ma Ellirene is ʼn graad R-onderwyseres.

Tamaryn saam met haar ouers, David en Ellerine Green. (Foto: Verskaf)

“My ma is die mees ondersteunende en hardwerkendste persoon wat ek ken. Sy hou die huishouding aan die gang terwyl sy as graad R-onderwyseres werk. Sy plaas almal voor haarself en is werklik inspirerend,” sê Green.

“My pa is die mees volhardende man wat ek ken. Hy het my geleer hoe die lewe werk deur stories van die alledaagse lewe te vertel. Hy het my ʼn beter, sterker vrou gemaak deur my oë oop te maak vir die mooi en die lelik in die wêreld. Hy is ons familie se beskermer en sal berge versit om te verseker dat ons gelukkig is.”

Green vertel haar 26-jarige suster is ʼn gekwalifiseerde fisioterapeut en haar 19-jarige broer is ʼn tweedejaar- BA-student.

Sy vertel sy bring graag haar vrye tyd saam met haar gesin deur, maar hou ook van stap en swem. “Ek is mal oor die natuur. Een van my persoonlike doelwitte vanjaar was om soveel as moontlik staptogte te voltooi. Daar is iets skouspelagtigs daaraan om jou omring deur niks anders as God se pragtige skepping nie te bevind. Stap help nie net vir fisieke gesondheid nie, maar help ook kop skoonmaak. Ek is ook mal oor water en sal in enige dam, swembad of see swem.”

Tamaryn Green. (Foto: Facebook)

As sy nou as Mej. SA twee bekendes kon ontmoet, sou sy die Hollywood-aktrise Angelina Jolie en Suid-Afrika se huidige president, Cyril Ramaphosa, kies.

“Angelina is nie net mooi en talentvol nie, maar wy haarself toe aan bewaring, opvoeding en vroueregte. Ek is geïnspireer deur haar voorspraak vir vlugtelinge en haar toewyding aan die groter oorsaak. President Ramaphosa is tans besig om die nalatenskap van Nelson Mandela, wat ʼn persoonlike held van my is, te hervestig. My passie is om die jeug van ons land te bemagtig en op te voed en ek glo ek kan dit bereik deur met president Ramaphosa in aanraking te kom.”

Green vertel sy hou nie van sjokolade nie en eet eerder springmielies. “Ek is gek oor springmielies en kan dit oggend, middag en aand eet.”

Sy doen dit graag terwyl sy ʼn goeie roman lees. “Ek luister ook nie na ʼn spesifieke genre van musiek nie, maar ek hou van musiek waarop ek kan dans. Ek is ook mal oor Ed Sheeran.”

Haar gunstelingdisse is haar ma se tradisionele Sondagmiddagete en ʼn braai met ʼn braaibroodjie. “Ek eet ook graag sushi en kyk na reekse soos Grey’s Anatomy en Friends.”

Green haal graag Jeremia 29:11 aan: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ʼn toekoms gee, ʼn verwagting!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Carien Laubscher ·

Baie voorspoed, meisiekind. Ek ken jou pappie en weet dat jou fondasie stewig is. Baie geluk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.