Luister: ‘Broodnodige’ nuwe begin vir Joe Foster

Geluk is een van die belangrikste bestanddele in Joe se suurdeeg-brode (Foto: Instagram)

Joe Foster het al sy besittings in sy motor gepak en die Jakarandastad vir Knysna verruil waar hy sy sangloopbaan nou vir eers opsygeskuif het om sy ander groot passie, broodbak, uit te leef. Hy bedryf ʼn suksesvolle bakkery, geniet die klank van die golwe en die natuurskoon van die Tuinroete.

Sy liefde vir broodbak het begin nadat sy man, Ziechfried, vir hom vir sy verjaardag ʼn boek oor broodbak en suurdeeg gekoop het. Aanvanklik het hy nie veel daarvan gedink nie, maar nadat hy vir die eerste keer sy eie suurdeeg gekweek en ʼn brood daarmee gebak het, wou hy dit elke dag doen.

“Ons het in Knysna gaan bly om die inperking daar in ons familie-strandhuis deur te bring. Ek het ʼn bietjie verveeld geraak en begin brood bak. Ek het dit gesien as ʼn manier om die gemeenskap se gemoed ʼn hupstoot te gee en het net so ses brode ʼn dag gebak. Dit was baie informeel,” sê Foster.

Hy vertel dit was eers ná vlak 4 van die inperking, toe hulle terug Pretoria toe is, wat hy besef het hy mis dit.

The Sourloaf Bakery bak nou al sowat 100 brode per dag (Foto: Instagram)

“Ek het nie regtig geweet wat om te doen nie, en ek was ʼn bietjie depressief. Die musiekbedryf het tot ʼn stilstand gekom en ek het gevoel of ek in ʼn nuwe fase in moet gaan. Ek wou iets doen om balans te kry en ek het besef my passie vir broodbak mag dalk verder strek as net ʼn stokperdjie.”

ʼn Maand later het hy besluit om die sprong te maak. Hy het Knysna toe getrek en The Sourloaf Bakery begin.

“Dit was ʼn groot stap in geloof, want alles was baie onseker, maar ek het besef ek kán ʼn nuwe lewe in Knysna begin, en daar ís ander moontlikhede as wat ek tans doen.”

Hy het twee maande lank alles self gedoen vir die bakkery en kort daarna die vrugte begin pluk. Eers was daar net twee kliënte vir wie hy gebak het en voor hy sy oë kon uitvee was daar sewe groot kliënte.

“Ek het amper onmiddellik nog ʼn oond aangeskaf om by te hou met die bestellings. Ziechfried het intussen ook sy werk bedank en ons is albei nou voltyds by die bakkery betrokke. Nou bak ons sowat 100 brode per dag.”

Joe sê hy het geen planne om uit die musiekbedryf uit te tree nie (Foto: Instagram)

Joe skerts dat hy altyd gesê het dat as hy iets anders as musiek moet doen, hy iets wil doen wat broodnodig is, en dat hy dit nou effens letterlik opgeneem het.

“Ja, dis rowwe ure en ek het lanklaas so hard gewerk, maar dis nog ʼn nuwe bakkery en ons vat dit soos wat dit kom. Die genot wat ek daaruit kry maak my glas al voller,” sê hy.

Hy is deesdae vroeg uit die kooi om sy brode reg te kry vir die dag en doen self die aflewerings. Joe maak egter steeds ook tyd vir musiek en is besig om ʼn ateljee by hul Knysna-huis in te rig, sodat hy steeds deeltyd musiek kan vervaardig, skryf en maak.

Hy sê die broodbakproses is vir hom baie terapeuties en dit help vir sy angs.

Van Joe se pragtige brode (Foto; Instagram)

“Vir my is broodbak definitief terapeuties, dit hou my in die hede, en dit is iets waarmee ek vir lank gesukkel het. Ek het baie in my eie kop en gedagtes geleef en dit is ʼn gevaarlike plek vir mens om te wees.

“Ek het al besef ons is óf in die toekoms besig om angstig te wees, of in die verlede besig om te krap in wat verby is. En ʼn mens hoort nie eintlik in die toekoms of verlede nie, ʼn mens hoort in die hede.  En broodbak hou my in die hede. Dis ongelooflik om te sien hoe water, meel, en sout iets so ongelooflik kan maak.”

Joe bak sy brode slegs met suurdeeg wat hy self kweek. Voor hy gaan slaap en selfs as hulle weggaan van die huis af moet hul “suurdeeg-babatjies” gevoed en saamgeneem word.

“Suurdeeg kweek is ʼn twee week lange proses van water en meel saam meng. Dit is ʼn natuurlike proses wat al vir duisende jare gebruik word om brood te maak.”

Joe se brode kom ook in die plaaslike Food Lovers Market voor (Foto: Instagram)

Die beste deel van die bakkery is dat hy homself uitdaag en ʼn nuwe lewe begin.

“Ons het eintlik soveel tyd hier op aarde. Jy kan tien verskillende lewens hê, jy hoef nie net een te hê nie. Elke passie wat jy ontwikkel maak ʼn nuwe wêreld oop.”

“As jy vir my ʼn jaar terug gesê het ek gaan ʼn suurdeeg-bakkery bedryf, sou ek sê dit is malligheid. Maar ek glo God lei ons om onsself uit te daag. Ek het nooit gedink daai boek vir my verjaardag gaan hierheen lei nie, maar dit wys jou net hoe ongelooflik die lewe is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Schalk

Eers sanger dan bakster – vele nerings.