Luister: Christia Visser se jaar vol nuwe avonture

Christia Visser (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Dis amptelik, 2019 was beslis die geliefde Christia Visser se jaar. Sy het haar sangloopbaan met twee trefferliedjies afgeskop, is in die bekende televisiereeks Fynskrif te sien én het boonop verloof geraak aan haar kinderjare-vriend.

Visser sê vanjaar het baie hoogtepunte maar ook laagtepunte gehad, maar sy kies om die hoogtepunte uit te sonder.

“As ek nou so terugdink, is ek ongelooflik dankbaar oor alles wat gebeur het. Dit was ʼn wonderlike jaar gewees,” sê sy.

“My musiekloopbaan is ʼn sukses en dit is aan die groei. Dit is ongelooflik vir my om te weet dat daar wel ruimte is vir my soort musiek en dat ek kan aangaan daarmee,” vertel sy.

Sy skerts dat sy nie die man van haar drome gevind het nie, maar hom eerder herontdek het.

Visser het vroeër aan Maroela Media vertel dat sy Thomas Webb vanaf sewejarige ouderdom ken, maar dat hulle in die hoërskool kontak verloor het toe sy gesin Gauteng toe getrek het. Dié twee se ouers is jare lank al huisvriende.

Toe Webb ses jaar gelede van die Rand af terugtrek Kaap toe, het hulle meer van mekaar begin sien, daarna ʼn verhouding begin en uiteindelik verloof geraak.

Christia Visser en haar verloofde, Thomas Webb. (Foto: Instagram)

Visser vertel hulle beplan om in April 2020 te trou, maar daar is ander dinge wat haar nou eers besiger hou as trouplanne. Daarom help haar suster om die troue te reël.

“Ons planne is baie rustig, nie een van ons is deftige mense nie. Ons gaan ʼn plaastipe troue hou, ek wil graag kaalvoet trou,” sê sy.

Dié dinge wat haar so besig hou, is natuurlik toneelspel en haar musiekloopbaan. Visser het vanjaar twee liedjies, “17 Shots” en “Die deur”, bekendgestel. Albei liedjies het ʼn draai op Maroela Media se Afrikaanse Top-20 gemaak.

Visser sê sy het nie geweet die liedjies gaan so goed vaar nie, maar sy is bly dat mense aanklank vind by haar musiek.

“As ek my lirieke skryf, sit ek my hart en ʼn deel van my siel daarin. Ek hoop altyd daar is mense daar buite wat aanklank vind daarby, en wat my soort musiek waardeer. Ek het regtig probeer om ʼn nuwe soort musiek te maak, want ek dink dit is tyd vir nuwe klanke. Daarom is ek dankbaar dat mense daarvan hou, want dit beteken dit kan aangaan,” sê sy.

Visser is tans besig om ʼn reeks vir BBC te verfilm, waarmee sy tot Februarie besig gaan wees. Meer oor die reeks kan sy nog nie verklap nie. Sy het ook pas ʼn liedjie saam met Refentse, Elandré en Brendan Peyper opgeneem. So, van afskaal is daar geen sprake nie.

Sy sê sy kry dit reg om albei haar beroepe en haar persoonlike lewe se balle in die lug te hou deur mense wat haar help.

“ʼn Mens kan dit nie alleen doen nie. Ek wil albei my beroepe volstoom aanpak. Dit gaan dus nie in die toekoms beter word nie, daarom is ek baie dankbaar vir almal wat ook die tweede myl saamloop om my te help,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mooi ·

Vat so! Geluk alles legeer pas saam, dís liries Vars, nuut
en pas perfek, bou so voort sterkte met alles.

Christiaan ·

Pragtige mens! Great songs. Great aktrise. ‘n Vars bries in die bedryf, nie die tipiese “blonde-koppie-kougom-poppie” tipe musiek nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.