Luister: Melissa Massyn ʼn jong dromer met groot planne

Melissa Massyn. (Foto: Verskaf)

Kykers het haar aanvanklik leer ken as die klein snip Susan in die rolprent Hoofmeisie en kort daarna as die tienermeisie Katie in die TV-dramareeks Erfsondes.

Maar Melissa Massyn (21) het intussen behoorlik haar skoolskoene ontgroei en is hard aan die werk om haar merk in die Afrikaanse vermaakbedryf te maak. “Dit is vir my belangrik om altyd besig te bly en te skep. Ek dink jong akteurs en aktrises is in die wonderlike posisie waar ons vir onsself geleenthede kan ontsluit en self vir ons platforms kan skep om ons werk vir die wêreld te wys,” sê sy.

Sedert Massyn in 2011 haar eerste tree in die vermaakbedryf gegee het, was sy ook te sien in die rolprent Agent 2000, die kortprent Tithe, die webreeks Chasing Joburg, asook talle verhoogproduksies en televisieadvertensies. Sy doen ook gereeld stemwerk vir radio-advertensies.

Deesdae is Massyn egter hard aan die werk aan ʼn verhoogproduksie waarvan sy die medeskrywer is en waarvan sy self die regie sal behartig. “Ek wil nie in hierdie stuk speel nie, ek wil juis agter die skerms wees. Wanneer dit kom by teater geniet ek dit baie om agter die skerms betrokke te wees. Met televisie en rolprente verkies ek om voor die kamera te wees, maar teater bied my wonderlike uitdagings ook van die verhoog af.”

Die produksie, Unwrite Me, handel oor ʼn skrywer wat deur haar karakters ʼn persoonlike uitdaging moet oorkom en navigeer.

Massyn verduidelik dat sy veral opgewonde oor dié produksie is omdat dit ʼn geleentheid bied vir opkomende akteurs om hulself in die toneelbedryf te bewys. “Die produksie sal bestaan uit ʼn lekker kombinasie van ervare en meer onervare mense in die bedryf, en dien sodoende as ʼn ideale platform vir opkomende akteurs om hul voet in die deur te kry,” sê sy.

“Ek sien baie daarna uit om deel te wees van ’n span mense wat glo in toneelspel en om jong akteurs touwys te maak oor wat dit vat om so ’n toneelstuk – van begin tot einde – op die planke te bring.”

Massyn, ʼn aktiewe vlogger, beplan ook om die hele proses om die produksie op die planke te bring op video vas te vang en as ʼn webreeks op haar YouTube-kanaal te laai. “Ek dink jonger mense het dit in hierdie opsig makliker, want tegnologie is so deel van ons bestaan; dit is nie iets nuuts wat ons moet aanleer nie. So ek probeer om tegnologie en sosiale media so doeltreffend moontlik aan te wend en dit deel te maak van wat ek doen,” verduidelik sy.

Sy vertel die teks van Unwrite Me word tans gefinaliseer, waarna daar met oudisies begin sal word. “Voorlopig sal dit net in die Kaap opgevoer word, maar die plan is om later deur die land te toer. Daar lê egter nog baie werk voor.”

Melissa Massyn soos sy gelyk het in 2011 in die rolprent “Hoofmeisie”.

Massyn, ʼn boorling van KwaZulu-Natal, werk hard daaraan om as aktrise te groei en te leer. Deesdae woon sy so tussen Johannesburg en Kaapstad en geniet sy dit om beskikbaar te wees waar sy nodig is.

Sy is egter steeds dankbaar vir die geleenthede wat rolle soos Susan en Katie haar gebring het. “Hoofmeisie het definitief vir my ’n begin gegee. Daarsonder sou ek dalk nie besef het wat ek met my lewe wou doen nie,” sê sy.

Erfsondes was ook ’n lekker uitdaging en ek is absoluut verlief op my karakter, Katie. Om saam met Leon Schuster te werk was ook ’n baie groot voorreg.”

Sy verklap die mens saam met wie sy nog die graagste wil werk, is Lizz Meiring. “Ek het haar al ontmoet en sy is net die gaafste, vriendelikste persoon. Sy is so kreatief en kunstig, en jy kan sien dit kom uit haar hart en dit is nie iets wat sy móét doen nie. Sy straal net kuns uit en ek wil deel daarvan wees.”

Oor die toekoms is Massyn geheimsinnig. “Daar is baie goed in die pyplyn, maar ek kan nog niks daaroor sê nie,” lag sy. “Maar die teaterproduksie is die grootste ding wat op die oomblik gebeur en dit is waar my fokus nou lê. My YouTube-kanaal hou my ook bedrywig en dan natuurlik werksessies wat ek vir opkomende akteurs aanbied,” sê sy.

“Ek geniet dit om ander akteurs leiding te gee en te help. Ek is ook nog jonk en ek leer nog steeds elke dag, maar ek het ongelooflike mentors in my lewe en ek wil met ander deel dit wat ek al geleer het. Ek wil ander mense inspireer om toneelspel lief te hê net so baie soos ek dit liefhet.”

Melissa Massyn is vasbeslote om die wêreld te bewys wat alles in haar steek en dit lyk nie of enigiets haar maklik gaan keer nie. Hulle sê mos immers, dinamiet kom in klein pakkies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Essa ·

Katie in Erfsondes is die karakter waarmee ek hierdie jong aktrise leer ken het. Absoluut wonderlike vertolking; ek hoop om nog baie van Katie te sien in die Erfsondes reeks wat binnekort begin. Voorspoed met alles wat jy beplan en aanpak Melissa.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.