Luister: Motorfietse vat weer die pad vir Madibadag

Zelda le Grange. (Foto: Verskaf)

Zelda le Grange. (Foto: Verskaf)

Soos dit al tradisie geword het, en as deel van die Nelson Mandela-eeufeesviering, gaan motorfietsryers van oor die land vandeesmaand weer saamtrek vir liefdadigheid.

Motorfietsryers kom Saterdag 14 Julie om 08:00 byeen by die Parade in Kaapstad. Die rit sal om 09:30 na die Drakenstein-gevangenis vertrek.

Sondag 15 Julie kom motorfietsryers om 08:00 by die Nelson Mandela-stigting in Houghton bymekaar. Die rit sal om 09:30 van daar af na die Uniegebou in Pretoria vertrek.

Die Bikers for Mandela Day-inisiatief, in samewerking met die Nelson Mandela-stigting, trek vanjaar saam met die doel om meisiekinders op skool te hou deur sanitêre doekies in te samel vir die sowat drie miljoen meisies wat gereeld skool misloop omdat daar nie geld is vir basiese toiletware nie.

Zelda le Grange, ontslape oudpres. Nelson Mandela se voormalige persoonlike assistent, het die projek in 2010 van stapel gestuur om Madiba se nalatenskap te vier deur minderbevoorregtes te help.

Motorfietsryers van oor Suid-Afrika word elke jaar aangemoedig om deel te neem deur ritte en saamtrekke in hulle eie dorpe of stede te reël of andersins deel te neem aan die massasaamtrekke wat in die Wes-Kaap of Johannesburg plaasvind. Die inisiatief word ondersteun deur die Stad Kaapstad.

Tot dusver het meer as 10 000 mense voordeel getrek uit dié projek – die afgelope nege jaar het motorfietsryers oor die hele Suid-Afrika weeshuise help opknap, kos en komberse by ouetehuise afgelewer, skryfbehoeftes aan skole verskaf, groentetuine geplant vir arm gemeenskappe en geriewe opgeknap by sentrums wat slagoffers van verkragting ondersteun.

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

Die inisiatief was ook betrokke by die bou van ʼn klaskamer en kleuterskool op ʼn plaas in De Rust in die Wes-Kaap in 2010. Twee jaar gelede is berig dat kinders van hierdie kleuterskool reeds kan lees en skryf teen die tyd dat hulle laerskool toe gaan.

“Vanjaar se projek stel meer motorfietsryers in staat om deel te neem aan hierdie nege jaar oue tradisie van pret terwyl goeie dade gedoen en Madiba se 100ste verjaarsdag gevier word,” het Le Grange gesê.

“Madiba het geglo dat selfs die kleinste poging ʼn verskil kan maak. Ek hoop eienaars van enige tweewielaangedrewe voertuie met enjins, van bromponies tot groot motorfietse, sal deelneem om ʼn doeltreffende rol in hierdie projek met so ʼn goeie doel te speel.”

Volgens Le Grange is R180 genoeg om aan een meisie se jaarlikse sanitêredoekiebehoeftes te voorsien en haar in die skool te hou. “Met so min kan so baie bereik word. Dit het uiteraard ʼn groot invloed op ons ekonomie as jy uiteindelik drie miljoen meisies het wat die werksfase  met soveel verlore skooldae betree.”

Voornemende motorfietsryers kan gratis registreer by https://www.nelsonmandela.org/nelson-mandela-100 en deelnemers word versoek om elkeen ʼn pak sanitêre doekies saam te bring – of soveel as wat hulle kan bekostig – vir die rit.

Al die produkte wat ingesamel word, sal dan aan minderbevoorregte meisies versprei word deur Bikers for Mandela Day se projekvennoot, Mimi Women, ʼn trots Suid-Afrikaanse organisasie wat sanitêre doekies vervaardig, verkoop en versprei. Maatskappyverteenwoordigers sal ook by albei geleenthede in Kaapstad en Johannesburg doekies verkoop.

Om oorsese motorfietsryers die geleentheid te bied om deel te neem aan die geleentheid en skenkings te maak vir die Bikers for Mandela Day-inisiatief, is ʼn groepfinansieringsblad geskep om Mimi Women te ondersteun. Om ʼn skenking te maak deur middel van GivenGain, besoek https://www.givengain.com/e/bikersformandeladay2018/.

Vir meer inligting oor die Kaapse of Johannesburgse saamtrekke besoek die Bikers for Mandela Day-webblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jaco ·

Die hele wereld hemel ‘n mens op elke jaar, met “madiba” dag. Genade, hou eerder ‘n JESUS dag.

Hendrik van George ·

Stem. As Nelson Mandela se naam aan enigiets gekoppel word, laat dit my koud….

Gestremde ·

Die bikers initiatief maak nie vir my sin nie en daar was onlangs ‘n artikel in die nuus oor miljoene rande se sanitêre doekies wat by skole in Kwa-Zulu Natal stof opgader en deur die rotte vernietig word. Dit was ook bevraagteken omdat dit vir Laerskool kinders uitgedeel was wat nog nie eers maandstondes het nie . Nou hoe dan nou? Asseblief bikers…gaan kyk waar is daar rerig ‘n behoefte en konsentreer eerder daarop.

WB ·

Hulle gaan blykbaar nou groter. Paar kleuterskole ook op die agenda LOL

Nell's Angel ·

As for me and my Yster, we won’t ride for this bloke.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.