Luister: Radiovermaak steeds Leon van Nierop se groot liefde

Luan Jacobs en Leon van Nierop. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Hoewel hy bekend is vir sy romans, draaiboeke en werk as rolprentresensent en omroeper, sal radiovermaak altyd ʼn uiters spesiale plek in skrywer Leon van Nierop se hart hê.

Sy 1980-treffer Wolwedans in die skemer is waarskynlik een van die bekendste en mees geliefde Afrikaanse radiodramas en het luisteraars destyds so geboei dat selfs vergaderings en naskoolse aktiwiteite om die uitsending daarvan beplan is.

Ander radiovervolgverhale soos Nag van die strandloper, Herberg vir ʼn vlugteling, Stralerjakkers (wat ses jaar lank uitgesaai is) en Ratels (wat nege jaar lank uitgesaai is) het ook deur die jare gevolg.

Dié bekroonde radioregisseur en -skrywer skuif nou weer self agter die mikrofoon in vir Maroela Media se jongste radiovervolgverhaal, Operasie Umbra.

Dié aksiebelaaide spanningsverhaal is deur Joe Kleinhans geskryf en word deur “dramakoningin” en radiolegende Bettie Kemp in samewerking met Maroela Media vervaardig.

Kemp en Van Nierop is sedert die laat 1970’s ʼn droomradiovermaakspan en het verskeie projekte, waaronder Wolwedans, al saam aangepak.

Van Nierop vertolk die rol van Brand van Blerck en ʼn paar ander bekende stemme (en gesigte) soos dié van Stefan Vermaak (Villa Rosa), Su-an Müller-Marais (GROOTfm) en Luan Jacobs (Ballade vir ʼn enkeling) is ook in Operasie Umbra te hoor.

In dié podsending gesels hy met Maroela Media onder meer oor die pret om weer saam met Kemp in die ateljee te wees, maniere waarop hy skryfwerk in verskillende media aanpak en ook waarom radioskryfwerk altyd sy gunsteling sal wees.

  • Van Maandag 25 April is daar elke weekdag ʼn nuwe episode beskikbaar om na te luister. Luister na die episodes hier op Maroela Media of op een van die gemeenskapsradiostasies wat die drama uitsaai.
  • Luister na die volledige gesprek boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johanna ·

Ek luister graag Operasie Umbra. Ek vrek oor radio verhale. Dankue daarvoor

piet ·

Ek het ‘n punt daarvan gemaak om die boeke van ons bekende Afrikaanse skrywers te begin lees, mense wat nie altyd die krediet kry wat hulle verdien nie. Natuurlik is ‘n skrywer soos Deon Meyer nou wereldbekend en word sy boeke oral gelees maar nie noodwendig van ons ander goeie skrywers nie. Eintlik nou juis besig om Leon van Nierop se boeke te lees en het hoeka verlede week klaar gemaak met Wolwedans in die Skemer. Sy boeke is goed, die moeite werd om te lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.