Luister: Rolene Strauss deel haar lewenslesse

Op 26-jarige ouderdom het die beeldskone Rolene Strauss al die Mej. SA- en mej. Wêreld-kroon gedra, sy het ʼn graad in medisyne verwerf en is die ma van ʼn skattige seuntjie. Nou kan sy ook ʼn vollengte album op haar curriculum vitae byvoeg.

Die inspirerende gesels-album, Secrets to my Growth, wat bestaan uit 14 snitte, het begin by ʼn droom om die persoonlike lewenslesse wat sy tot dusver geleer het, met ander te deel.

“Op ʼn manier is dit ʼn album wat ek vir my jonger self geskryf het,” vertel Strauss in ʼn telefoniese onderhoud met Maroela Media. “As jong meisie wat in 2011 aan Mej. SA vir die eerste keer deelgeneem het, en eintlik nie baie goed gedoen het nie omdat ek nog nie ʼn baie goeie weergawe van myself was nie, het ek besluit dat ek iets moet doen om persoonlik te kan groei. Ek wou hierdie lesse met ander deel.”

Tog het sy nooit gedink sy sou haar gesig op voorkant van ʼn Inhoud Huis-vervaardigde album sien nie. “Klomp mense wonder dalk nou of ek wil sing, want die gesels-album is ʼn moeilike konsep om oor te dra omdat dit die eerste een is wat in Suid-Afrika vervaardig is. Dit was ʼn uitdaging omdat ons die eerste mense was wat dit aangepak het. Ek is bietjie op my senuwees, want ek weet nie hoe mense dit gaan aanvaar nie, maar ek hoop dat mense daarvan sal hou.”

Rolene en Jo Black in die ateljee.

Rolene en Jo Black in die ateljee.

Strauss het ook op Johan Vorster, hoof van Inhoud Huis, se aandrang haar sangvernuf op die album uitgetoets. “Ons was in die ateljee die dag besig om op te neem en ek sê toe vir Johan ek sal graag wil hê iemand moet die deeltjie in die snit “Pretty Hurts” vir my sing. Hy vra toe hoekom probeer ek nie self nie. Ek het toe probeer en toe gebruik hulle dit. Ek deel baie persoonlike goed in die album en dit is maar net nog ʼn deeltjie van my wat ek deel wat ek nog nooit vantevore gedeel het nie.”

Hoewel sy die meerderheid van die snitte in die album self geskryf het, het haar man, die sakeman D’Niel Strauss, haar gehelp om vier van die snitte in die album neer te pen.

“Ek het al verskriklik baie by my man geleer. Ons verskil tien jaar en hy is baie wys. Hy het vier van die snitte geskryf terwyl ek die res geskryf het, en die snit wat ek en Jo Black saam doen is geskryf deur Jannes Erasmus, ʼn skrywer van Inhoud Huis.”

Sy vertel die eerste snit in die album is ʼn inleidingsnit en die snitte bestaan elkeen uit ʼn tema. “Een van die snitte wat ek nou al uitgereik het, se naam is “Pretty Hurts” en dit gaan oor die tye in my lewe wat mense my skaam gemaak het oor my voorkoms. Dit gaan oor hoe ek dit hanteer het en hoe moeilik en hoe sleg dit vir my was.

'n Skermgreep uit die video vir 'Pretty Hurts'.

‘n Skermgreep uit die video vir ‘Pretty Hurts’.

“Dan is daar ʼn paar inspirerende snitte, soos “You Are”. Dit gaan oor wie jy is as mens en dat ons nie hoef voor te gee nie, want mense gaan dit respekteer as jy eg is en wys wie jy regtig is. Daar is ook ʼn paar snitte wat gaan oor tydsbestuur, so dit is meer praktiese wenke wat ek al in my lewe geïmplementeer het.

“’On the Shoulders of Giants’ gaan oor hoe belangrik mentors in jou lewe is en hoe jy by ander mense kan leer. Die album bestaan uit ʼn groot verskeidenheid praktiese wenke, persoonlike stories en inspirerende snitte.”

Dit is vir haar belangrik dat mense nie die foute hoef te maak wat ander voor hulle gemaak het nie. “Daar is soveel goed wat ek al in my lewe by ander mense geleer het wat ek graag vir ander mense wil leer, maar ek is net een mens. Die doel met die album is dus om ʼn groter platform te hê om dit wat ek al geleer het met ander te deel. Ek het ʼn paar toekomsdrome ook wat gaan voortspruit uit die album wat ek nie nou mag sê nie, maar dit is definitief nie die einde nie, dit is net die begin.”

Secrets to my Growth is by alle toonaangewende musiekwinkels asook op digitale platforms soos iTunes beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

thea ·

ag asb, elke artikel oor die vrou moet daar van haar mediese graad gepraat word
sy het net die 5 jaar gedoen sy moet nog 2 jaar doen, interne jaar en dan die al om bekende Zuma jaar om n dokter te word, sy het iemand uit die kursus gehou wat regtig n dokter wou word en nie net n graad nie
wat se lewenslesse kon sy al gehad het
net glamour nou wil sy haar as n kenner voor doen.
verlede se mej sa was al klaar n dokter

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.