Luister: Vierkuns vir ‘Die Kontrak’-hartebreker

Ivan Roux (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die bekende “Daai ding”-sanger Ivan Roux se lewe het sedert hy in 2018 as naaswenner van Die Kontrak aangewys is, handomkeer verander.

Die 28-jarige boorling van Centurion was al op verhoë oor die hele land te sien, en al is 2019 nog nie eens in sy vierde maand nie, het Roux reeds al vier sy doelstellings vir die jaar bereik.

Roux het aan Maroela Media vertel hy het vir hom vier doelstellings vir 2019 gestel: Hy wou vir ʼn Ghoema-toekenning genomineer word, optree by die Inniebos Kunstefees, 1 miljoen kykbeurte op Facebook kry en goue status bereik.

Sover het al hierdie doelstellings al vir Roux waar geword, maar hy mik nou nog hoër en wil graag vanjaar sy tweede album uitbring.

“Ek is met soveel goed op een slag besig. Maar ek sal graag wil begin skryf om hopelik vanjaar nog ʼn nuwe album te kan uitbring,” het Roux gesê.

“Om vir Ghoema genomineer te word was nog altyd ʼn groot droom vir my. Baie mense sê dit is nie so ʼn groot affêre nie, en dat dit net ʼn nominasie is. Maar vir my beteken dit dat mense al die moeite wat ek ingesit het, raaksien – dat mense die werk en jare raaksien wat ek afgestaan het om die kunstenaar te word wat ek vandag is. Vir my is dit ʼn ongelooflike voorreg.”

Volgens Roux is hy steeds besig om aan te pas by sy nuutgevonde bekendheid wat hy ná Die Kontrak verwerf het, veral omdat hy ʼn pa van twee, Damon en Skylar, is.

“Daar is maar nog dieselfde chaos in my lewe, net baie meer as vantevore. Dit raak nou net ʼn bietjie meer intens, want ek kan nie net na enige plek toe gaan nie, dan keer mense my voor. Jy moet baie versigtig wees vir wat jy sê, wat jy doen en hoe jy lyk. Maar oor die algemeen het my lewe op ʼn ongelooflike manier verander,” sê hy.

“Dit vang my wel nogal om so dikwels op die pad en weg van my kinders te wees. Elke af tydjie wat ek het, probeer ek beskikbaar stel vir my kinders, maar dit raak nogal emosioneel as jy baie lank op die pad is.”

Roux is tans besig met ʼn projek wat vir jonger kunstenaars die geleentheid gee om met bekende name saam te werk. First Friday Supper Club begin op 5 April by Monte de Dios in Pretoria.

“Dit is ʼn baie cool platform vir jonger kunstenaars om te kom gesels en leer by kunstenaars met ʼn bietjie meer ervaring. Elke geleentheid sluit ʼn maaltyd en vermaak in. Ons het so vyf nuwe sangers en dan sing ek aan die einde.”

First Friday Supper Club sal op elke eerste Vrydag van die maand plaasvind.

“Dit is basies ʼn kersligete onder die sterre met lekker musiek daarby. Dis ʼn baie cool konsep en dit is perfek vir as jy jou man, vrou, meisie of kêrel wil bederf,” het Roux gesê.

Vir meer inligting oor First Friday Supper Club, klik hier.

Vir meer inligting oor Ivan Roux, volg hom op Facebook.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sonja Alberts ·

GGGGGRRRRRR!!!!!!!!!!!!!!MOOI WAS NOG NOOIT LELIK NIE!!!!!WOW HY SING STUNNING!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.