Madonna en kinders besoek hospitaal in Malawi

Madonna (Foto: Facebook)

Die internasionale popsangeres Madonna het ʼn besoek aan Malawi afgelê om die eerste herdenking van die mediese fasiliteit, wat vernoem is na een van haar aangenome kinders wat in dié Afrikaland gebore is, te vier.

AP berig Madonna (59) het Maandag die Mercy James Institute for Pediatric Surgery and Intensive Care by die Queen Elizabeth Central-hospitaal in Blantyre besoek. Die popster se liefdadigheidsorganisasie het die fasiliteit befonds. Dié fasiliteit spog met die eerste suksesvolle skeiding van ʼn Siamese tweeling in Malawi.

Die vermaakwebwerf People.com berig die sangeres het saam met al ses haar kinders na Malawi gereis om dié mylpaal te vier. Haar 21-jarige dogter, Lourdes Leon, 17-jarige seun, Rocco Ritchie, die 12-jarige Mercy James en David Banda, en die vyfjarige tweeling, Estere en Stella, het die besoek aan die hospitaal meegemaak.

Sy het ʼn foto van haar en haar kroos voor ʼn kleurvolle muur van die hospitaal op Instagram gedeel. “Boom van die lewe. Een jaar later. #everythingislove,” het sy gekoer.

Leon is Madonna se dogter uit haar huwelik met Carlos Leon en Ritchie is haar seun uit haar huwelik met die rolprentvervaardiger Guy Ritchie. Mercy, David en die tweeling, Estere en Stella, is al vier uit Malawi aangeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.