Marius Weyers ontslaan ná groot operasie

Marius en Evette Weyers (Foto: Facebook via Evette Weyers)

Die veteraanakteur Marius Weyers (72) is vandeesweek uit ʼn Kaapstadse hospitaal ontslaan ná hy onlangs opehartchirurgie moes ondergaan om sy hartklep te vervang.

Evette Weyers, die akteur se vrou, het aan Maroela Media vertel Marius sterk tans by die huis aan ná ʼn suksesvolle operasie.

Sy sê die akteur het vroeër verlede maand gehoor hy moet ʼn “dringende en lewensnoodsaaklike” operasie ondergaan nadat hy moeg geraak en steekpyne in sy hart gekry het terwyl hy gedraf het.

Weyers is op 27 Junie in die Busamed Paardevlei Privaat Hospitaal in Kaapstad opgeneem.

“Ek het geen benul gehad oor presies hóé ernstig die operasie sou wees nie,” sê Evette. “Mens se hart is skoon seer as jy daaraan dink. Hulle moes sy hele borskas oopsaag, en daar is uiteraard ʼn baie pynlike herstelproses daaraan verbonde. Die dokters is egter tevrede, en het hom daarom met baie sterk pynmedikasie huis toe gestuur waar ek nou na hom kyk.”

Sy sê die egpaar is baie ingestel op gesondheid, en sy glo dit sal bydra tot ʼn vinniger herstelproses.

“Ons stap gereeld met ons honde of gaan duik saam. Die dokters is baie positief daaroor dat dit tot sy herstel sal bydra. Daarby lag ons ook baie, en ons deel alles. Ek is net bly hy is nog hier saam met my – dis nog te vroeg vir hom om te gaan, ons het nog baie om saam te beleef. Dit sou vir my baie erg gewees het om hom te verloor.”

Evette is tussendeur Weyers se herstel besig om voor te berei vir ʼn solo-uitstalling by Marble Hall by die Kunstekaapteater einde Augustus.

“Hy is gelukkig ook nie iemand wat dit nou as ʼn gulde geleentheid sal sien om sommer net te lê nie,” skerts sy. “Hy sal gou kriewelrig raak, maar sy herstel is nou die belangrikste.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

nic van rensburg ·

Sterk word ou, sal beslis ‘n gebed doen vir jou aansterk. Rooiels se klimaat sal aanhelp.

Nicolene ·

Bitter dankbaar dat dit so goed gaan.
Alle sterkte en gou beter word
P.S – Sterkte mevrou met die “pasiënt”

Pierre de Villiers ·

Ek se nie dit is hier die geval nie, maar ek wonder hoeveel mense is bewus van `n kiem – MRSA – wat skuil in jou neusholte en uiteindelik groot skade en selfs die dood kan veroorsaak. Die kiem is in baie gevalle antibiotika weerstandig. `n Kenmerk van die kiem is juis dat dit die hartspier, vlies en klep aanval. Dit vreet letterlik die klep en so ontstaan `n lek in of aan die klep. Ek het myself daarmee “diagnoseer” terwyl dokters my vir vyf jaar rondgejaag as “koekoes”.

Riana Van Wyk ·

Wat is die kiem se naam en hoe en waar lees ek daaroor.
Groete

Jeannette ·

MRSA staan vir “methicillian resistant staphylococcus aureus” infeksie – dus ‘n infeksie wat deur ‘n staph veroorsaak word. Dit kan opgedoen word deur bv. eksterne beserings waar dit toegang tot die liggaam kry. Dit is ernstig en kan siektes soos bloedvergiftiging en ontsteking van slymvliese en sagte weefsel, soos die vliesweefsel in die hart en brein veroorsaak. Die kiem is redelik antibiotika-weerstandig en simptome sluit dié van ‘n ligte hartaanval in.

Lynette ·

Hallo Marius en Evette. Wil net se Evette waardeer elke oomblik wat julle saam het.
My man, Bennie Fourie ( hy was op laerskool Ferndale saam met Marius) is in 1998 oorlede na n hartaanval. Sou nou ook 72 gewees het. Mis hom nog baie. Marius en hy kon amper boeties gewees het. Baard ens.
Marius, word gou gesond. Jy het nog baie werk om ons te vermaak.
Evette, dankie vir jou spesiale sorg.
Groete. Lynette

Maddie ·

Wat ‘n pragtige foto! Spreek boekdele… spoedige herstel word u toegewens.

Tinka ·

Die hospitaal is in Somerset wes. Wens mense wil dit regkry. Dis 45km ver van Kaapstad af.

Elmer Swanepoel ·

Eintlik is die hospitaal in die Strand en nie S-wes nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.