Mathys Roets breek albei sy bene

Mathys Roets het albei sy bene en sy toon gebreek toe hy uit sy rolstoel geval het. (Foto: Facebook)

Die bekende ‘Droomvrou’-sanger, Mathys Roets, het verlede week beide sy bene en sy toon gebreek toe hy uit sy rolstoel geval het.

Roets het Dinsdag aan Maroela Media gesê hy het uit sy rolstoel geval toe hy by sy ouers gaan kuier het.

“Ek is net by ʼn trappie op en toe haak die voorwiel van my rolstoel vas. Ek het toe uit die stoel uit gegly en op my hurke bo-op my bene geland,” het hy gesê.

Roets het nie dadelik besef dat sy bene gebreek is nie, en het nog Saterdag gaan gholf speel. Hy speel altyd gholf in ʼn stut wat hom regop hou.

“Terwyl ek gespeel het, het ek gevoel iets is nie lekker nie, maar ek het gedink my bene is net sleg gekneus. Toe ek daardie aand by die huis kom, het ek gesien daar is groot fout, en dit is tóé eers dat ek hospitaal toe gaan en die dokter bevestig dat ek albei my bene gebreek het.”

Roets het uiteraard geen pyn in sy bene nie, maar hy is meer bekommerd oor skade aan die weefsel en die moontlikheid vir infeksie.

Hy laat wel nie toe dat dié ongeluk hom onderkry nie.

“Ek is maar nog steeds op en af en ek vlieg al weer Sondag Kaap toe vir my vertonings saam met Dana Snyman. Ek kry hierdie week ʼn beenstut vir my regterbeen wat in ʼn slegter toestand is, maar verder gaan ons aan. Ek het te veel verpligtinge nou, ek kan nie stilsit nie. Ek vat dit nou maar net rustiger,” het hy gesê.

Roets het ʼn foto op Facebook geplaas waar hy bederf word met koffie in die bed. Hy het gesê sy verloofde, Jané, kyk baie mooi na hom.

Hy het gesê dit is vir hom die moeilikste om te weet dat hy vir die volgende ruk lank nie meer sy ekstreme sport sal kan doen nie.

“Ek sal darem reg wees om in die winter weer te gaan ski, maar ek sal vir drie of vier maande nie weer kan gholf speel nie. My motorfiets staan ook net so in die garage, want ek kan nie op hom klim nie. So ek gaan vir ʼn tyd lank nie baie kan doen nie, maar dit sal ook reg kom.

“Ek was aanvanklik baie depressief, want ek het gedink ek gaan nou lank moet stilsit. Ek begin binnekort in Stellenbosch en Kaapstad werk aan ʼn nuwe CD, so ek kan dit nie nou los nie, maar ek sal die ding kan regkry met die regte stutte en die regte behandeling,” het hy gesê.

Roets was in April 2009 in ʼn ernstige motorfietsongeluk en is sedertdien in sy onderlyf verlam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Melanie ·

Jammer om dit te hoor Mathys. Die goeie nuus is dat jou stem niks oorgekom het nie. Sing Mathys! Ons geniet jou optredes baie. Sterkte!

Joey ·

Jy ‘n inspirasie vir so baie van ons. Sterkte Glo jy sommer gou weer ?. Blessings

GM ·

Wow, wat ‘n inspirasie. Dié man is besiger (of is dit meer besig? – my brein laat my nou in die steek hier) as baie mense wat nog die gebruik van al hul ledemate het.

Jax ·

Mathys, Jy is n voorbeeld vir so baie mense. Ek ken jou binne-pyn en neem dikwels n bladsy uit jou lewensboek om myself weer moed in te praat.
Jy bly in my gebede!

Genoeg ·

Hier uit Namibië kan ons jou net sterkte toewens en ons bid dat jy spoedig volkome sal herstel Mathys. Jy is eenvoudig vir ‘n ieder en elk ‘n groot inspirasie.

My mening ·

Hy is n wonderlike inspirasie vir almal. Sterkte en hoop jy is sommer gou gesond!

Gesiggie ·

Ek stem…. Mathys jy verloor nie moed deur als wat jy al deur is… is jy nogsteed hoopvol en laat jy nie toe dat enige iets jou onder kry… sterkte aan jou

B.B. ·

Mathys jys n voorbeeld vir soooooo baie mense MET BENE..!! wat altyd n verskoning soek om niks te doen, omdat hulle altyd net “moeg” is.

Jepetto ·

Dis wys ons net roll stoele kan nie orals vokome beweeg nie Daar is so baie piblieke plekke wat nie rolstoel vriendelik is nie sterke .Mathys

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.