Medici ontken skuld aan sokkerster se dood

Diego Maradona in Maart 2020. (Foto: Alejandro Pagni/AFP)

Die psigiater wat Diego Maradona behandel het ten tyde van sy dood in November verlede jaar het alle verantwoordelikheid vir sy afsterwe ontken.

Vadim Mischanchuk, die psigiater se prokureur, het Vrydag gesê ʼn paneel van kenners het Maradona se dood aan agterlosigheid toegeskryf.

Die sokkerkaptein wat in 1986 die Sokkerwêreldbeker verower het, het in die ouderdom van 60 ʼn hartaanval gekry nadat hy ʼn operasie vir ʼn bloedklont ondergaan het.

Die 36-jarige Agustina Cosachov se prokureur het gesê sy het tydens ondervraging by die kantoor van die staatsaanklaer in San Isidro aan die buitewyke van Buenos Aires, Argentinië, “bewyse gelewer dat sy nie ʼn moord gepleeg het nie”.

“Daar is geen bewyse dat die psigiatriese medikasie wat deur Cosachov voorgeskryf is, en in daardie dosisse, ʼn hartdefek kon veroorsaak het nie,” het Mischanchuk bygevoeg.

Cosachov en die sielkundige Carlos Diaz het Maradona dood aangetref in sy bed in ʼn huurhuis in ʼn eksklusiewe buurt in Buenos Aires. Hy het daar tuissorg ontvang.

Cosachov is Vrydag vir langer as ses uur ondervra deur die staat en het ʼn lywige brief voorgelees voordat sy vertrek het sonder om die media toe te spreek.

“Sy was ʼn psigiatriese dokter,” het Mischanchuk gesê terwyl hulle die kantoor binnegegaan het. “Sy het niks te doen met die kliniese bestuur van die pasiënt nie.”

Dié verslawingspesialis is een van sewe mediese praktisyns wat ondersoek word vir manslag oor Maradona se dood in ʼn saak wat Argentinië aangegryp het.

Volgens die ondersoekrekord was Cosachov en die neurochirurg Leopoldo Luque (39) die sleutelpersoneel in beheer van Maradona se versorging.

Die ondervragingsfase van die verdagtes sal Maandag afgehandel word met Luque wat dan voor die aanklaer sal verskyn. Hy het ook herhaaldelik enige skuld ontken.

In die volgende fase van die ondersoek sal ʼn regter beslis of daar ʼn verhoor sal wees of nie.

Die sewe praktisyns word in die gesig gestaar deur agt tot 25 jaar agter tralies indien hulle skuldig bevind word. Hulle word ook verbied om die land te verlaat totdat die proses afgehandel is, wat jare kan neem.

‘Hulle het Diego vermoor’

Leopoldo Luque in November 2020 buite ‘n privaatkliniek in Olivos, Buenos Aires, waar sokkerlegende Diego Maradona ‘n breinoperasie vir ‘n bloedklont ondergaan het. Hy is kort daarna aan ‘n hartaanval oorlede. Luque en ses ander mediese praktisyns word van agterlosigheid in Maradona se laaste dae, wat tot sy dood gelei het, beskuldig. (Foto: Emiliano Lasalvia/AFP)

Staatsaanklaers het ʼn ondersoek van stapel gestuur nadat ʼn raad van kenners bevind het die sokkerster het voor sy dood onvoldoende versorging ontvang en is aan sy eie genade oorgelaat.

ʼn Prokureur van medebeskuldigde Dahiana Madrid (36), ʼn verpleegster, het aan staatsaanklaers gesê die dokters in beheer “het Diego vermoor”.

“Aan die einde was daar talle waarskuwingstekens dat Maradona gaan sterf, binne die bestek van min of meer ʼn dag, en nie een van die dokters het iets gedoen om dit te verhoed nie,” het Rodolfo Baque, ʼn prokureur, gesê.

Sielkundige Diaz (29) het net soos Cosachov ontken dat die psigiatriese medikasie wat Maradona geneem het sy harttoestand vererger het.

Diaz en Cosachov sowel as vier ander mense wat ondersoek word, het reeds getuienis gelewer: Madrid en mede-verpleër Ricardo Almiron (37); verpleegkoördineerder Mariano Perroni (40) en mediese koördineerder Nancy Forlini.

Twee van Maradona se kinders blameer Luque vir hulle pa se agteruitgang ná sy breinoperasie.

ʼn Paneel van 20 mediese kenners wat deur Argentinië se staatsaanklaer saamgeroep is, het verlede maand gesê Maradona se behandeling het gewemel van “tekorte en ongerymdhede” en dat die mediese span sy oorlewing aan “die noodlot” oorgelaat het.

Maradona was ʼn ikoon vir miljoene Argentyne nadat hy dié Suid-Amerikaanse land in 1986 na hulle tweede Sokkerwêreldbeker-oorwinning gelei het.

Die voormalige Boca Juniors-, Barcelona-, en Napoli-ster het jare lank ʼn stryd teen verslawing aan kokaïen en drank gevoer en het aan lewer-, nier-, en hartsiektes gely voordat hy dood is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jack

Maradona het sy gesondheid in gevaar gestel deur sy gestel met drank en dwelms af te takel. Nou is dit die medici se skuld dat hy gesterf het? Hy het self die grootste aandeel daaraan gehad.