Mej. Heelal kom SA toe

demi-leigh nel-peters

Demi-Leigh Nel-Peters. (Foto: Twitter/Mej. SA)

Demi-Leigh Nel-Peters, die Suid-Afrikaanse model en student wat in November as Mej. Heelal gekroon is, bring eersdaags die kroon huis toe.

Die nuus is op die Mej. Suid-Afrika-organisasie se amptelike Twitter-blad bekendgemaak. “Na 39 jaar kom die Mej. Heelal kroon terug [Suid-Afrika toe] vir ʼn week lange feesviering!”

Volgens die Mej. SA-organisasie sal Nel-Peters na verwagting op 24 Januarie op die OR Tambo Internasionale Lughawe land, waarna sy vir ʼn week ʼn druk skedule sal volg.

“Die publiek word uiteraard uitgenooi en aangemoedig om die geleentheid by te woon wanneer Demi-Leigh op die lughawe aankom om haar te verwelkom,” het dié organisasie aan Maroela Media gesê.

Nel-Peters sal ook daarna by een van die Cell C-instapsentrums in Johannesburg verskyn waar sy foto’s saam met aanhangers sal neem en handtekeninge sal uitdeel.

Sy beplan ook om ʼn draai in Soweto te maak, waar sy ʼn selfverdigingsessie sal aanbied as deel van haar Unbreakable-veldtog. Nel-Peters het dié veldtog van stapel gestuur nadat sy verlede jaar in ʼn gewapende kaping betrokke was.

Sy sal ook ʼn kinderhuis daar besoek voordat sy ʼn vlug na Kaapstad sal haal, waar Robbeneiland en die bekende jaarlikse perderesiesgala, die Sun Met, in haar visier is.

“Demi-Leigh gaan ook ʼn besoek aflê aan haar tuisdorp, Sedgefield, waar die inwoners onder meer ʼn parade beplan. Sy gaan uiteraard ook tyd saam met haar familie en vriende deurbring,” het die organisasie gesê.

“Sy gaan ook die huise wat herbou is ná die Knynsa-brande en die slagoffers van dié brande besoek.”

Nel-Peters sal dan vertrek na Sun City. “ʼn Opwindende kompetisie gaan op sosiale media plaasvind waar een gelukkige meisie die geleentheid sal kry om die dag saam met Demi-Leigh deur te bring,” het die organisasie gesê.

Nel-Peters vertrek na afloop van die toer in Suid-Afrika weer terug na New York in die VSA, waar sy sedert haar kroning woon.

Aanhangers kan sosiale media dophou vir meer besonderhede oor die verwelkomingsgeleentheid by die lughawe in Kempton Park asook die sosialemediakompetisie wat in Sun City van stapel gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

BEWONDERAAR ·

Wens so ek kon daai gelukkig wenner wees sal haar graag wil ontmoet. Hierdie vrou is voorwaar ‘n voorbeeld vir almal en ‘n uitstekende rol model.

Sulet ·

Moet die titel nie eerder wees: “Mej Heelal kom huis toe” nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.