Mej. SA-platform ‘bied geleenthede vir kleindorpie-dromers’

Die groep van vyf voormalige mej. Suid-Afrika-kroondraers wat deel vorm van die mentorskapgroep vir vanjaar se deelnemers. Van links na regs: Ntando Kunene-Mthethwa, Bokang Montjane-Tshabalala, Tamaryn Green, Liesl Laurie en Rolene Strauss. (Foto: Verskaf)

Die groep van vyf voormalige mej. Suid-Afrika-kroondraers wat deel vorm van die mentorskapgroep vir vanjaar se deelnemers. Van links na regs: Ntando Kunene-Mthethwa, Bokang Montjane-Tshabalala, Tamaryn Green, Liesl Laurie en Rolene Strauss. (Foto: Verskaf)

Die inskrywings vir die uiters gesogte Mej. Suid-Afrika-skoonheidskompetisie wat vroeër vandeesweek geopen het, geskied nou slegs digitaal en vroue tussen die ouderdomme van 20 en 27 word aangemoedig om hul inskrywingsfoto’s en inligting op die kompetisie se webwerf te laai.

Stephanie Weil, bestuurder van Weil Entertainment, wat vanjaar in samewerking met Sun International die kompetisie behartig, het aan Maroela Media gesê die digitale inskrywingsproses is daargestel om meer vroue die geleentheid te bied om in te skryf.

“Om heen en weer te reis na oudisies is nie altyd vir alle potensiële deelnemers moontlik nie en daarom het ons besluit om die proses eerder te vergemaklik deur dit aanlyn beskikbaar te maak. Op só ʼn wyse kan ʼn groter verskeidenheid en aantal deelnemers ons bereik,” sê Weil.

Weil, wat al vir ses jaar betrokke is by die skoonheidskompetisie, sê die beoordelaars vir die kompetisie sal later aangekondig word. Sy voeg by dat die kompetisie op soek is na dames wat ʼn Afrika-vrou vergestalt. Transgender persone word ook toegelaat om in te skryf.

Tamaryn Green antwoord 'n vraag tydens die mej. Heelal-kompetisie in Bangkok, Thailand. (AP Photo/Gemunu Amarasinghe)

Tamaryn Green antwoord ‘n vraag tydens die mej. Heelal-kompetisie in Bangkok, Thailand. (AP Photo/Gemunu Amarasinghe)

“Dit is uiteraard die Mej. SA-kompetisie en die wenner moet staan vir alles waarin ons in Suid-Afrika glo. Sy moet ʼn trotse Suid-Afrikaner wees,” sê Weil.

Sy sê ook dat die kroningsproses vir vanjaar se kompetisie, wat verlede jaar vir die eerste keer in die geskiedenis van die kompetisie verander het, later aangekondig sal word.

Waar daar voorheen drie finaliste gekies is van wie een as wenner en twee as eerste en tweede prinsesse aangewys is, is daar verlede jaar slegs twee finaliste, Tamaryn Green en Thulisa Keyi, gekies.

Green is aangewys as Mej. Heelal SA en Keyi as Mej. Wêreld SA, en die twee wenners het Suid-Afrika in dié onderskeie internasionale kompetisies verteenwoordig. Daar kon egter steeds slegs een amptelike Mej. SA wees en daarom het die twee gekose vroue ʼn beoordelaarsvraag beantwoord. Op grond van dié antwoorde is Green uiteindelik as die algehele wenner aangekondig.

Green, ʼn 24-jarige mediese student van die Paarl in die Wes-Kaap, is in Desember verlede jaar as die naaswenner in die 67ste Mej. Heelal-skoonheidskompetisie in Bangkok, Thailand, aangewys. Keyi het die top-30 in die Mej. Wêreld-kompetisie in Sanya, China, gehaal. Haar rok, wat deur die ontwerper Biji Gibbs ontwerp is, het die Designer of the World-afdeling van dié kompetisie gewen.

ʼn Rits voormalige Mej. SA-kroondraers het die afgelope paar jaar uitstekend gevaar op die internasionale skoonheidsverhoë en vanjaar se kroondraer het dus groot skoene om vol te staan. Rolene Strauss, wat in 2014 as Mej. SA gekroon is, is in dieselfde jaar as Mej. Wêreld aangewys. Demi-Leigh Nel-Peters, Mej. SA 2017, is ook in 2017 as Mej. Heelal gekroon.

Demi-Leigh Nel-Peters is in 2017 as mej. SA en uiteindelik as mej. Heelal gekroon.

Demi-Leigh Nel-Peters is in 2017 as mej. SA en uiteindelik as mej. Heelal gekroon.

Strauss en Green sal vanjaar saam met nog vier voormalige Mej. SA’s, Bokang Montjane-Tshabalala (2010), Liesl Laurie (2015) en Ntando Kunene-Mthethwa, as mentorskapgroep vir vanjaar se deelnemers dien. Die Mej. SA-organisasie het saam met dié vyf voormalige kroondraers ʼn mediaveldtog getiteld Miss South Africa Light Up Your Dreams van stapel gestuur.

“Mej. SA is nogal altyd deel van ʼn susterskap. Die vroue wat voorheen die kroon gedra het, kan die nuwe toevoeging tot dié susterskap lei en aanspoor om ongelooflike goed te doen. Dit is wat die Light Up Your Dreams-inisiatief so spesiaal maak.

“Die kompetisie dien ook as bewys dat jy van ʼn klein dorpie in Suid-Afrika, soos Volksrust, Eldorado Park of Sedgefield, afkomstig kan wees, en skielik is jou nuwe adres ʼn luukse woonstel in New York. Die geleenthede wat die platform bied, is so ongelooflik inspirerend en bemagtigend is,” sê Weil.

Thulisa Keyi van Suid-Afrika tydens Mej. Wêreld 2018. Haar rok, wat deur die ontwerper Biji Gibbs ontwerp is, het die Designer of the World-afdeling van dié kompetisie gewen. (Foto: Miss World Miss SA)

Thulisa Keyi tydens Mej. Wêreld 2018. Haar rok het die Designer of the World-afdeling van dié kompetisie gewen. (Foto: Miss World Miss SA)

“Daarom is dit vir my persoonlik so ʼn voorreg om deel te wees van hierdie kompetisie. Een van die eerste skoonhede met wie ek die voorreg gehad het om saam te werk is Rolene. Ons het saam so ʼn ongelooflike handelsmerk opgebou en ek voel geëerd om te kan sê ek het die hoogte- en laagtepunte van die kompetisie saam met ongelooflike vroue beleef. Ek hoop dat ek en die res van Weil Entertainment die res van Suid-Afrika trots sal maak met vanjaar se kompetisie,” sê Weil.

Skryf in by www.misssa.co.za. Die inskrywings vir vanjaar se kompetisie het Maandag 13 Mei geopen en sluit op Maandag 10 Junie. Die 16 finaliste sal op 11 Julie aangekondig word. Die wenner sal op Vrouedag, 9 Augustus, by die Sun Arena by Times Square in Menlyn, Pretoria, gekroon word. Dié geleentheid sal regstreeks op M-Net en Mzansi Magic uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.