Mej. SA praat by VN

Mej. SA 2018, Tamaryn Green (Foto: Maroela Media/Janie Monsieur)

Tamaryn Green, vanjaar se Mej. SA, is genooi om die 73ste algemene vergadering van die Verenigde Nasies (VN) in New York oor tuberkulose (TB) toe te spreek.

Dié onderwerp lê dié 23-jarige mediese student na aan die hart. Green het vroeër vanjaar bekendgemaak dat sy self drie jaar gelede ʼn stryd teen TB gevoer en gewen het.

Sy sal op 23 September, op die vooraand van die Suid-Afrikaanse Erfenisdag, haar persoonlike stryd met die wêreld se algemeenste siekte te deel.

Green se toespraak sal plaasvind voor die algemene vergadering, waartydens staatshoofde van reg oor die wêreld beoog om hulle te verbind tot wêreldwye strategieë om dié siekte te bestuur en hok te slaan. Dit is die eerste keer dat TB bespreek word tydens dié historiese vergaderings.

Green is deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), die Stop TB-kampvegtersorganisasie en die Suid-Afrikaanse departement van gesondheid, genooi om die VN se algemene vergadering toe te spreek.

Prominente figure en bekendes wat met TB gediagnoseer en daarvoor behandel is, sluit in oudpres. Nelson Mandela, aartsbiskop Desmond Tutu, die sangeres Tina Turner en die skrywer George Orwell.

Green het in Augustus vanjaar oor hierdie onderwerp gepraat as deel van haar bewusmakingsveldtog wat jaarliks deur die betrokke jaar se Mej. SA onderneem word. Green sal gedurende haar termyn fokus op TB – die voorkoming, behandeling en die stigma van die siekte.

“Daar word druk op die wêreld toegepas om hierdie dodelike siekte te bestuur,” het Green luidens ʼn mediaverklaring gesê. “Ek is baie dankbaar dat ek die mag van my Mej. SA-platform kan gebruik, wat groter is as wat ek ooit kon droom, en om in ʼn posisie te wees waar ek my stem kan laat hoor. As gevolg van my titel het ek die geleentheid om soveel mense te help.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.