Mej. SA praat openhartig oor gesondheidstryd

Mej. SA 2018, Tamaryn Green, vertel oor haar stryd met Tuberkulose (Foto: Maroela Media/Janie Monsieur)

Mej. SA 2018, Tamaryn Green, het Donderdag emosioneel onthul dat sy drie jaar gelede ʼn stryd teen tuberkulose (TB) gevoer en gewen het.

Green het oor hierdie onderwerp gepraat as deel van haar bewusmakingsveldtog wat jaarliks deur die betrokke jaar se Mej. SA aangeneem word. Green sal gedurende haar termyn fokus op TB – die voorkoming, behandeling en die stigma rakende die siekte.

“Dit het my drie jaar geneem voordat ek my storie kon deel. Ek kon baie van die trauma vermy het as ek al vroeër hieroor gepraat het, maar ek is nou in die proses om dit te verwerk. Ek wil mense aanmoedig om nie bang te wees om openlik oor hul probleme te praat nie, en om die hulp te kry wat hulle nodig het. Dit is die enigste manier hoe ons TB kan oorwin,” het Green gesê.

Mej. SA 2018, Tamaryn Green (Foto: Maroela Media/Janie Monsieur)

Green se veldtog, #breakthestigma, gaan nasionale en wêreldwye bewusmaking vir TB skep in die hoop om die stigma wat daaraan kleef, af te breek.

Green, wat ʼn sesdejaar- mediese student aan die Universiteit van Kaapstad was toe sy as Mej. SA gekroon is, is in haar derde studiejaar gediagnoseer met TB, maar was te bang om daaroor te praat weens die stigma wat daarmee gepaardgaan.

“Die krag van die Mej. SA-platform is groter as wat ek ooit kon droom. Ek is in ʼn posisie waar my stem gehoor kan word en ek die geleentheid het om soveel mense moontlik te kan help,” het sy gesê.

“Mense dink dalk TB gaan gepaard met ʼn sekere soort mens. Maar ek wil vir jou wys, ek is Mej. SA, party mense dink dalk ek is perfek, en selfs ék het TB gekry. TB diskrimineer nie, dit kan met enigeen gebeur.”

Green se #breakthestigma-veldtog sal in samewerking met die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Nasionale Departement van Gesondheid gedoen word. Die WGO beoog om TB teen 2035 heeltemal uit te wis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Essa ·

Tamaryn Green, dankie dat jy jou platform as Mej. S.A. gebruik vir bewusmaking van die verwoestende siekte TB. As tiener in my geliefde Wes Kaap in die laat 1960’s self getoets oor simptome – die virus infeksie het so algemeen voorgekom veral op ons plase. Nie gedink dis vandag nog so ‘n werklikheid nie. Jy is so pragtig. Voorspoed met jou goeie werk. ?

Robert ·

Essa: ek dink nie jy weet veel van TB af as jy sê dit word deur ‘n virus veroorsaak nie, dit word deur ‘n bakterie veroorsaak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.