Mej. SA vanjaar op Vrouedag gekroon

Die groep van vyf voormalige mej. Suid-Afrika-kroondraers wat deel vorm van die mentorskapgroep vir vanjaar se deelnemers. Van links na regs: Ntando Kunene-Mthethwa, Bokang Montjane-Tshabalala, Tamaryn Green, Liesl Laurie en Rolene Strauss. (Foto: Verskaf)

Die groep van vyf voormalige mej. Suid-Afrika-kroondraers wat deel vorm van die mentorskapgroep vir vanjaar se deelnemers. Van links na regs: Ntando Kunene-Mthethwa, Bokang Montjane-Tshabalala, Tamaryn Green, Liesl Laurie en Rolene Strauss. (Foto: Verskaf)

Die inskrywings vir vanjaar se gesogte Mej. Suid-Afrika-skoonheidskompetisie het Maandag geopen.

Dit volg nadat Cell C, die selfoondiensverskaffer wat sedert 2014 saam met Sun International as hoofborg van dié glansryke skoonheidskompetisie gedien het, in Maart vanjaar aangekondig het dat hy sy borgskap aan die kompetisie beëindig het.

Luidens ʼn mediaverklaring sal Weil Entertainment vanjaar in samewerking met Sun International die kompetisie behartig. Die wenner sal op Vrouedag, 9 Augustus, by die Sun Arena by Times Square in Menlyn, Pretoria, gekroon word.

Die prysgeld en borgskappe vir die kompetisie beloop sowat R3 miljoen. Die wenner sal wegstap met ʼn kontantprys van R1 miljoen, ʼn motor en ander pryse. Die eerste prinses sal ʼn kontantprys van R250 000 ontvang en die res van die top-16 finaliste sal elkeen R25 000 ontvang.

ʼn Rits voormalige Mej. SA-kroondraers het die afgelope paar jaar uitstekend gevaar op die internasionale skoonheidsverhoë en vanjaar se kroondraer het dus groot skoene om te vul.

Rolene Strauss, wat in 2014 as Mej. SA gekroon is, is in dieselfde jaar as Mej. Wêreld aangewys. Demi-Leigh Nel-Peters, Mej. SA 2017, is ook in 2017 as Mej. Heelal gekroon terwyl die huidige Mej. SA, Tamaryn Green, tweede geëindig het in verlede jaar se Mej. Heelal-kompetisie.

Die Mej. SA-organisasie het saam met dié vyf voormalige kroondraers ʼn mediaveldtog getiteld 'Miss South Africa Light Up Your Dreams' van stapel gestuur.Van links na regs: Ntando Kunene-Mthethwa, Bokang Montjane-Tshabalala, Tamaryn Green, Liesl Laurie en Rolene Strauss. (Foto: Verskaf)

Die Mej. SA-organisasie het saam met dié vyf voormalige kroondraers ʼn mediaveldtog getiteld ‘Miss South Africa Light Up Your Dreams’ van stapel gestuur. Van links na regs: Ntando Kunene-Mthethwa, Bokang Montjane-Tshabalala, Tamaryn Green, Liesl Laurie en Rolene Strauss. (Foto: Verskaf)

Strauss en Green sal vanjaar saam met nog drie voormalige Mej. SA’s, Bokang Montjane-Tshabalala (2010), Liesl Laurie (2015) en Ntando Kunene-Mthethwa, as mentorskapsgroep vir vanjaar se deelnemers dien. Die Mej. SA-organisasie het saam met dié vyf voormalige kroondraers ʼn mediaveldtog getiteld Miss South Africa Light Up Your Dreams van stapel gestuur.

“Mej. SA is die grootste beweging vir vrouebemagtiging. Die platform bied geleenthede vir so baie – van finaliste tot Mej. SA’s en uiteindelik internasionale deelnemers,” het Strauss luidens die mediaverklaring laat hoor.

“Die groei wat ek ervaar het as Mej. SA het nie net tot die wonderlike eer om die Mej. Wêreld-kroon te dra gelei nie, maar my ook gehelp om my studie as mediese student te oorleef toe ek ná my diensjaar as Mej. Wêreld moes teruggaan universiteit toe. Dit is ʼn eenmalige en lewensverrykende geleentheid.”

Die inskrywing vir vanjaar se kompetisie het Maandag 13 Mei geopen en sluit op Maandag 10 Junie. Die 16 finaliste sal op 11 Julie aangekondig word. Skryf in by www.misssa.co.za. Die wenner sal regstreeks op M-Net en Mzansi Magic aangewys word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Susan ·

Sjoe, kon hulle nie vir die vyf mooier klere gegee het vir die fotosessie nie? Daardie klere lyk regtig onvleiend en sakkerig. Sulke mooi vroue in sulke lelike klere.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.