Mej. SA wys haar staal op internasionale loopplank

Mej. Suid-Afrika, Zozibini Tunzi. (Foto: Verskaf)

Zozibini Tunzi dra nou maar eers ʼn maand lank die Mej. Suid-Afrika-kroon, maar dié 25-jarige skoonheid sal dié week reeds op die internasionale loopplanke te sien wees.

Tunzi is tans in New York waar sy deel sal wees van die glansryke New York‑modeweek. Tunzi sal Suid-Afrika op die loopplank verteenwoordig in unieke Xhosa-ontwerpe, natuurlik met haar kenmerkende natuurlike haarstyl. Sy sal onder meer in ontwerpe uit die ikoniese versameling van die Belgies-gebore Mosambiekse ontwerper, Eliana Morargy, op die loopplank verskyn.

Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. SA-kompetisie, meen Tunzi is die eerste Mej. SA wat só vinnig bekend geword en volgelinge bymekaargemaak het. Die Oos-Kaapse meisie het ʼn paar honderd volgelinge op Instagram gehad toe sy vir Mej. SA ingeskryf het. Vandag het sy meer as 196 000 volgelinge.

“Zozi se aanhangers is uitgesproke, konsekwent en oorvloedig in hul bewondering vir haar. Nou, nog maande voor die Mej. Heelal-kompetisie, is sy reeds een van die Mej. Heelal-deelnemers met die meeste volgelinge en in die vyfde plek van al die lande wat deelneem,” sê Weil.

“Ons is verheug, maar geensins verbaas, deur Zozibini se gewildheid nie. Sy het dit alles – natuurlike skoonheid, styl en sjarme. Sy is ʼn rolmodel vir jong vroue en veral vir jong swart vroue. Haar besluit om haar natuurlike skoonheid te omarm stuur ʼn boodskap vir vroue dat hulle nie versierings nodig het om mooi te wees nie. Hulle is beeldskoon net soos hulle is.”

Tunzi hou deur haar sosialemediaplatforms aanhangers op hoogte van alles waarmee sy in New York besig is. Sy het onder meer met die Suid-Afrikaanse ambassadeur by die konsulaat vergader om onlangse gebeure in Suid-Afrika te bespreek, en sal ook ʼn onderhoud toestaan aan Essence, die grootste glanstydskrif vir Afro-Amerikaanse vroue in die VSA.

Mej. Suid-Afrika, Zozibini Tunzi. (Foto: Verskaf)

Tunzi sal ook tyd deurbring saam met die bekende Suid-Afrikaanse komediant, Trevor Noah, wat nou die aanbieder van The Daily Show is. Sy sal ook met verteenwoordigers van die internasionale modelagentskap IMG ontmoet. IMG is deel van die moedermaatskappy wat Mej. Heelal besit.

“Ek het nie besef dat my besluit om my hare natuurlik te hou vir die Mej. SA-kompetisie sulke verreikende gevolge sou hê nie. Dit lyk asof ek die internasionale gesig vir natuurlike haarstyle vir Afrika-vroue word. Ek het nooit bedoel om dit te wees nie, maar ek is baie bly as vroue toenemend besef dat hulle, as hulle dit verkies, nie haarstukke en pruike hoef te dra om as mooi geag te word nie,” het Tunzi gesê.

Sy verklap op Instagram dat haar besoek aan New York die eerste keer is wat sy buite Suid-Afrika se landsgrense kom. “Dit is ʼn groot avontuur. Ek het baie uitgesien na my tyd in New York en sien natuurlik uit na my hele jaar as Mej. Suid-Afrika.”

Die New York‑modeweek sal van 6 tot 14 September plaasvind en bestaan uit talle modevertonings deur van die wêreld se voorste modeontwerpers.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Liza ·

Kyk ek is nou nie snaak nie, maar hierdie jaar se Mej Suid Afrika is ongelooflik mooi….
Sy het dit maar net ………
Sterkte vorentoe girl……..

madels ·

Ja sy is voorwaar n pragtige vrou! Baie bly vir haar dat sy as mej. SA gekroon is.

Penellope Jones ·

Sjoe sy is verskriklik mooi!
Pragtige gelaatstrekke!

kolla ·

Sy’s smoking hot. Sal nie verbaas wees as sy die titel wen nie.

E.K. die eerste ·

Ek bewonder haar veral dat sy haar natuurlike hare hou en nie allerhande goed wil insit om “lang” hare te hê nie. En ja, sy is pragtig en wat ek al gesien het oulik en sjarmant ook nog!

Pippie ·

Chappies en Apools,…gelukkig verskil smaak en duidelik het die meeste mense wat hier kommentaar gelewer het goeie smaak want Zozibini is pragtig. Duidelik ook die een met die beste eienskappe daarom was sy die wenner! U GO GIRL

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.