Mev. SA durf Drakensberg aan ná beproewing

Mev. Suid-Afrika, Nicole Capper. (Foto: Facebook)

Mev. Suid-Afrika, Nicole Capper. (Foto: Facebook)

Nicole Capper, Mev. Suid-Afrika, is ondanks haar noue ontkoming op die berg Everest vroeër vanjaar nie afgeskrik van bergklim nie en vandeesmaand trek sy weer haar stewels aan wanneer sy die Cathedral Peak-uitdaging ten bate van Mandeladag aandurf.

Capper beoog om op 18 Julie saam met 67 ander bergklimmers Cathedral-piek in die Drakensberg uit te klim in ʼn poging om fondse in te samel en bewustheid te skep vir jong meisies wat jaarliks etlike skooldae misloop omdat hulle nie toegang het tot sanitêre ware nie.

Die Cathedral Peak-uitdaging word aangebied in samewerking met Trek4Mandela en volgens Capper nooi sy enigiemand wat voel hulle is fiks genoeg om dié uitdaging saam met haar aan te durf.

“As jy drie maal per week oefen behoort jy dit te kan doen,” het Capper aan Maroela Media gesê. “Dit is ’n klim van 20 km. Dit is dus nie maklik nie, maar dit is beslis doenbaar!”

Sy het vertel daar is op die oomblik sowat 20 plekke oop vir voornemende klimmers wat saam met haar en die Trek4Mandela-span dié bergreeks in KwaZulu-Natal wil aandurf. “Ons kan meer mense akkommodeer, sou hulle belang stel. Mense wat nie die berg wil uitklim nie, maar wat steeds ʼn bydrae wil maak, kan op die webwerf inligting kry oor hoe om sanitêre ware te skenk.”

Capper het vertel sy het in April vanjaar Everest saam met Sibusiso Vilane, die eerste swart Suid-Afrikaner wat dié staptog voltooi het, aangepak. Vilane is betrokke by Trek4Mandela en saam het hulle planne beraam oor hoe hulle tydens Mandeladag kan teruggee aan die gemeenskap.

“Ek het ʼn vrou ontmoet wat my in Bloemfontein geneem het om die meisies in die skole te ontmoet wat daagliks sukkel met die kwessie van sanitêre ware. Die meisies het diep in my hart ingekruip en om hulle te help het in ʼn passie vir my ontwikkel.”

Nicole Capper.

Sy snoer dus haar passies vir liefdadigheid en bergklim saam om vanjaar op Mandeladag ʼn bydrae te maak en om ander aan te moedig om dieselfde te doen. “Ek is geensins ʼn held nie. Ek is net ʼn gewone Suid-Afrikaanse vrou met buitengewone doelwitte om ʼn verskil te kan bewerkstellig.”

Capper is in April vanjaar in Nepal gehospitaliseer nadat sy hoogtesiekte by die basiskamp van berg Everest opgedoen het. “Dit was ʼn moeilike staptog, want die lugredery het op pad daarheen my bagasie verloor. Ek het net die klere gehad wat ek aangehad het toe ek daar aangekom het. Ek het ʼn slaapsak gehad, maar moes met my lyf op die koue gletser slaap.”

Sy vertel sy het op pad terug siek begin voel. “Die vog het in my longe begin opdam en ek het gesukkel om asem te haal.”

Capper het ʼn dogter, Tatum, by wie sistiese fibrose op ses weke gediagnoseer is, en die beproewing op Everest het haar aan haar dogtertjie laat dink. “So vreesaanjaend soos dit was, het dit my laat beleef hoe dit voel om nie te kan asemhaal nie. Dit het die vlam vir liefdadigheid net hoër laat brand in my hart.”

Belangstellendes kan die Cathedral Peak-uitdaging se webwerf besoek vir meer inligting oor die staptog sowel as tariewe en akkommodasie.

Sy beplan ʼn Kilimanjaro-staptog in Augustus. “Jy berou altyd die dinge wat jy nié gedoen het nie,” het Capper bygevoeg. “Om deel te wees van so ʼn staptog is ʼn baie bevrydende ondervinding wat jy in jou lewe nie sal vergeet nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

no way ·

Nie ‘n manier wat ek soveel berge klim vir enige iets nie.

Huh? ·

Ek is nou al moeg om aan die Kerkstraatbom herinner te word.

B ·

Is so half en half bekend met daardie roete. Ek hoop daar is toue aangebring op die boonste steil & klim gedeeltes want dis letterlik een misstap (op plekke) en jy kom met die koerant huis toe.
(Die volle uitdaging is 20km lank en klim 1531m tot 3005m. Hou maar ‘n ogie op die weer en moontlike ys op die voetpad, veral in die skudu.)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.