Minnesanger en sy krulkopvrou haak af

Jannie (66) en sy Therina (52) (Foto: Verskaf)

Tien jaar gelede toe Jannie du Toit (66) ʼn aangename krulkopvrou ontmoet het, het hy nooit besef dat dié einste vrou ʼn dekade later die paadjie na die kansel sou stap om aan hom ewige trou te beloof nie.

Die sanger vertel Woensdag aan Maroela Media hy is steeds in die wolke nadat hy en sy Therina (52) onlangs in Melville in Johannesburg getrou het.

Die egpaar se eerste afspraak was in Oktober verlede jaar en hulle is reeds sedert November in ʼn verhouding. Dit was nie nodig vir lank wag nie, skerts die sanger in ʼn telefoniese onderhoud, daarom het hy Therina sommer al in Februarie vanjaar die jawoord gevra by sy gastehuis wat hy die afgelope twee dekades in Melville bedryf.

“Dit was amper nie eens nodig om op een of albei my knieë te gaan nie,” skerts hy. “Dit het net reg gevoel; ons het geweet ons moet saam wees. Ek het sommer vir haar gesê: ‘Wil jy nie maar met my trou nie?’ Toe sê sy: ‘Ja, asseblief!’”

Die egpaar het destyds ontmoet toe Jannie die Nasionale Raad vir Persone met Gestremdhede in Suid-Afrika (NCPPDSA), die organisasie vir wie Therina destyds gewerk het en waarvan sy vandag die nasionale direkteur is, genader het om ʼn musiekproduksie wat hy destyds opgevoer het, meer toeganklik vir persone met gestremdhede te maak.

Destyds was hulle in afsonderlike verhoudings, maar toe albei verlede jaar dieselfde tyd weer enkellopend is, het Jannie terstond met haar ʼn afspraak gemaak. “Ek glo nog altyd dat die Here se hand in alles is – ook in ons verhouding. Ons is dankbaar dat ons nou eindelik bymekaar kan wees.”

Die egpaar was reeds met hul wittebrood in Clarens in die Vrystaat. Jannie se jongste album, Oesjaar, word later vanjaar uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.