Minnie Muis ontvang ster in Hollywood

(Xinhua/Li Ying)

Minnie Muis, die ikoniese Disney-karakter, is Maandag met ʼn ster op die gesogte Hollywood Walk of Fame vereer.

Dit kom 40 jaar nadat haar manlike medester, Mickey Muis, sý ster ontvang het. Mickey het ook Maandag Minnie se seremonie bygewoon.

Volgens die Los Angeles Times is dit vanjaar die 90ste herdenking van die vrystelling van die 1928-fliek Steamboat Willie, die eerste animasiefliek waarin Minnie Muis haar verskyning gemaak het. Sy het daarna in meer as 70 animasierolprente verskyn.

“Baie dankie vir hierdie wonderlike eer. Ek is so dankbaar,” het Minnie in ʼn blink polkakol-rokkie voor ʼn groot skare aanhangers gesê. “En ek wil vir al my vriende oor die wêreld dankie sê. Mickey, ek is so bly jy is hier om dié magiese dag saam met my te deel. Dit is regtig die beste dag ooit.”

Die Amerikaanse popsangeres Katy Perry, die supermodel Heidi Klum en die voorsitter van die Walt Disney-maatskappy, Bob Iger, het ook die seremonie bygewoon.

“Minnie se styl vergestalt pret in mode,” het Perry gesê. “Tot vandag kan niemand ʼn strik, die kleur rooi of ʼn polkakol heeltemal soos Minnie dra nie. Glo my, ek probeer. So vandag, ʼn kort 40 jaar nadat Mickey sy ster ontvang het, is ek verheug om Minnie te vereer en haar betowering saam met haar te vier.”

Iger het gesê Minnie het die vermoë om harte aan te raak en vreugde te bring waar sy ook al gaan. “En van al haar prestasies as kunstenares en modepop, dink ek wat ons die meeste van Minnie liefhet, is haar vermoë om ons te laat glimlag,” het Iger gesê.

“Ná 90 jaar in die bedryf, is dit beslis omtrent tyd dat jy jou ster ontvang,” het hy bygevoeg.

Ander Disney-karakters Donald Duck, Tinker Bell, Winnie the Pooh, Kermit the Frog en Sneeuwitjie het ook sterre op die Hollywood Walk of Fame.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.