’n Mnr. SA met ’n hart van goud

Heinrich Gabler, mnr. Suid-Afrika van 2019, is nie net mooi nie, hy het ook ‘n hart van goud. (Foto: Verskaf.)

Deur Yolanda Wessels

Heinrich Gabler is op 8 Junie 2019 gekroon as die nuwe Mnr. Suid-Afrika. Sy grootwordjare was minder glansryk – hy het grootgeword in Huis Andrew Murray Kinderhuis in Wellington saam met sy twee ouer boeties. Dié drastiese ommeswaai was as gevolg van sy ma se ontydige dood in ’n motorongeluk. Hierdie hartverskeurende gebeurtenis was ook die laaste keer wat dié negejarige seuntjie sy pa sou sien.

Die eerste nege jaar was nie maklik nie, sy ma het lang ure gewerk en sy pa, ’n Duitser, was ’n alkoholis. Hy moes meestal maar na sy eie belange omsien en in dié opsig was die kinderhuis ’n veilige toevlug, want het hy ’n warm bed gehad en drie etes per dag.

Die eerste paar maande was nogtans nie maklik nie. Hy was verward en gebroke, maar kon in veiligheid en geborgenheid grootword by die kinderhuis.

“My ma was my rots en haar dood was die ergste wat met my kon gebeur, veral op daardie jong ouderdom. My geloof het reeds ’n groot rol gespeel en ek het geweet sy is op ’n beter plek en dit het my gerus laat voel.

“Die kinderhuis het my ’n tweede kans op die lewe gegee en ek het van dag een af besluit dat ek dié geleentheid met albei hande gaan gryp. Wellington is ’n baie spesiale dorp en my onderwysers het ’n groot rol in my lewe gespeel.”

Heinrich vertel sy geloof het hom deur baie dinge gedra. Alhoewel sy pa ’n ongelowige was en dit hom baie gepla het, was hy dankbaar vir vriende se ouers wat hom saamgeneem het kerk toe. Hy het van ’n vroeë ouderdom af geleer dat die Here vir sy kinders sorg.

“My ma het altyd vir ons gebid. Sy was ’n goeie mens en het altyd omgegee vir die minderbevoorregte en hawelose mense. Al het ons min gehad, het sy altyd vir ander gegee wat nóg minder gehad het.”

Alhoewel Heinrich aangeneem kon word, het hy verkies om in die kinderhuis te bly. Hy glo die Here het vir hom ’n visie gehad dat hy as mentor moes optree en daar wees vir dié wat hom nodig gehad het.

“As ek nou terugkyk, is dit presies wat gebeur het. Net om vir ander te wys dat dit nie die einde van die wêreld is as jy in ’n kinderhuis beland nie.

Ná skool het Heinrich onderwys studeer en vir sewe jaar skoolgehou en sport afgerig. Hy moes egter die onderwys verlaat ná sy kroning as Mnr. Suid-Afrika omdat hy nie gelyktydig onderwyser én Mnr. Suid-Afrika kon wees nie.

Heinrich se deelname in matriek aan ’n kompetisie was die begin van sy skoonheidsloopbaan. Daarna het hy as student aan skoonheidskompetisies deelgeneem en later ook aan provinsiale kompetisies deelgeneem.

“Jare later het ek gevoel die tyd is reg om aan ons land se mees gesogte skoonheidskompetisie vir mans, Mnr. Suid-Afrika, deel te neem. Die gevoel om dié kompetisie te wen, is iets wat ’n mens nie werklik kan beskryf nie. Dit is ’n massiewe voorreg vir my sowel as ’n baie groot verantwoordelikheid. Ek wil graag die beste van hierdie geleentheid maak.”

Om met kinders te werk, is sy passie en met sy kroning wil hy hê kinders moet soveel meer besef dat jy gróót mag droom.

“Hulle moet in hulself glo en dat enige iets moontlik is as jy dit baie graag wil hê – met harde werk natuurlik. Ek wil graag hê dat kinders holisties ontwikkel en die mooi van die lewe leer. Respek, liefde en omgee vir jou medemens is belangriker as om 100% vir jou wiskundetoets te kry. Akademie is belangrik, maar om ’n kind holisties op laerskoolvlak te laat ontwikkel, is vir my baie belangriker. Akademie speel weer op hoërskoolvlak ’n groter rol.”

(Foto: Verskaf.)

Heinrich het op 22 Februarie in Manila, in die Filippyne, aan Manhunt International deelgeneem.

Dié kompetisie is vanaf 1999 die mees gesogte skoonheidskompetisie vir mans ter wêreld.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring met die wete dat ek my land op ’n internasionale verhoog verteenwoordig. Dit was ook my eerste besoek aan die Filippyne. Die mense is ongelooflik vriendelik. Ek het reeds baie aanhangers gehad wat my al vir ’n geruime tyd baie graag wou ontmoet en ek is bly ek kon saam met hulle tyd deurbring.”

Heinrich vertel dat skoonheidskompetisies oor die jare baie verander het en dat jy deesdae oor die “volle pakket” moet beskik.

“Dit help nie jy het net ’n mooi gesig en lyf, maar geen persoonlikheid of intellek nie. Jy moet darem ook ’n goeie rolmodel wees vir die jonger generasie.”

Natuurlik moes Heinrich vooraf baie voorbereiding vir die kompetisie doen. Hy moes, byvoorbeeld, baie hard in die gimnasium oefen, gereeld draf en seker maak dat hy baie gesond eet om sy liggaam gesond te hou.

Oor die kompetisie self sê Heinrich hy is ’n gemaklike mens en pas aan by enige situasie en aspek van die kompetisie.

“Ek dink my beste eienskappe is dat ek almal respekteer, ’n positiewe gesindheid het en dat almal my energie aansteeklik vind.”

“Ek is ongelooflik dankbaar vir die geleentheid. Ons het baie kleedrepetisies gedoen, geoefen, fotosessies gehad en baie min geslaap, maar dit was beslis die moeite werd. Ek sal definitief ander aanraai om deel te neem, maar jy moet ten minste 1,85 m lank wees en daarvan hou om op die loopplank jou lyf model te hou.”

Heinrich het dit baie geniet om die ander deelnemers beter te leer ken en meer te leer oor al die verskillende lande wat verteenwoordig was by die kompetisie.

“My persoonlike opinie oor dié kompetisie is dat dit gegaan het oor loopplankmodelwerk, niks anders nie. Daar was geen onderhoude met beoordelaars, geen vrae aan finaliste nie, dus het dit vir my baie koud en onpersoonlik gevoel. Maar indien jy net ’n loopplankmodel wil word, is Manhunt die ideale kompetisie vir jou.”

Ondanks die feit dat Heinrich nie die titel huis toe gebring het nie, was dit ’n hoogtepunt dat sy suster saam met hom kon reis.

“Ek het ook tyd saam met die uitvoerende hoof van die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie, JP Robberts, deurgebring en ons het goeie vriende geword. Die laagtepunt vir my was dat die kompetisie so onpersoonlik was – geen onderhoude en geen interaksie nie. Jy was maar net ’n nommer. Ek voel by so ’n groot kompetisie moet ’n mens darem tyd saam deurbring en mekaar beter leer ken. Maar ten spyte daarvan was ek gemaklik en bly vir almal wat iets gewen het. Goeie sportmanskap is vir my baie belangrik, want daar is altyd net een wenner.

(Foto: Verskaf.)

Heinrich koester drome om ’n suksesvolle besigheidsman en entrepreneur te word. Hy wil ook graag een van Suid-Afrika se beste motiveringsprekers word.

“Ek het reeds my eie nieregeringsorganisasie (NGO) gestig, UpcycleSA, wat sporttoerusting aan minderbevoorregte skole en gemeenskappe skenk. Om tyd met daardie kinders en mense op my uitreike deur te bring, is vir my baie kosbaar.”

Hou gerus dié man dop – hy is nie net sag op die oog nie, maar het ’n hart van goud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wondermaarnet ·

Wat ‘n pragtige storie en ‘n nog pragtiger man!

Annette ·

Dit was nou lekker om so `n mooi storie te lees. Heinrich, ons is trots op jou. Die uiterlike verander met die jare maar integriteit bly. Mag jy nog groot hoogtes in jou lewe bereik en altyd jou Skepper eer vir en met die talente en gawes wat Hy jou gegee het.

Marcello ·

Wat ‘n mooi en talentvolle man, en so natuurlik, dit is een van die oulikste Mnr. SA’s wat ek kan onthou. Absoluut ‘n rolmodel vir kinders wat in moeilike omstandighede groot word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.