Niks keer dié jong akteur om drome na te streef

Righard van Jaarsveld. (Foto: verskaf)

“Hy kom dalk dom voor, maar eintlik is hy net naïef en doen wat alle tienerseuns te skaam is om te doen.”

Dít is hoe die 20-jarige Righard van Jaarsveld sy karakter, Tommie, in die kykNET-telenovelle, Diepe Waters, beskryf.

Van Jaarsveld, wat al van kindsbeen af ’n liefde vir die Afrikaanse vermaakbedryf het, staan ná maande lange verfilming van Diepe Waters steeds verstom oor die geleentheid wat hy gekry het om op die kassie saam met van sy grootste akteurshelde te wees.

“Ek is nou al bietjie meer gewoond daaraan, maar soms moet ek myself nog knyp,” het die nederige jong akteur aan Maroela Media vertel.

Vir dié rol moes hy nie net ’n toneelspel-oudisie aflê nie, hy moes swem ook. Hy lag wanneer hy dink aan die dag wat hy sy swem-oudisie opgeneem het.

“Ek het na ’n skool in Pretoria gegaan en hulle gevra of ek hul swembad kan gebruik daarvoor. Daar gekom, het ek besef dat ek nooit my swembroek ingepak het nie. Toe doen ek dit maar in my onderbroek.”

Hoewel hy nie die rol van Johan, vir wie hy oorspronklik ’n oudisie afgelê het, gekry het nie, het sy toneelspel en swemvernuf tog beïndruk. Hy is weer genooi, dié keer vir die rol van Tommie.

Kort nadat hy vasgestel het dat hy dié rol losgeslaan het, is hy swembad toe gestuur saam met die res van die akteurs wat swemmers in die telenovelle vertolk.

“Ons het vier keer ’n week gaan swem om voor te berei. Ons het selfs ’n afrigter gehad.”

Van Jaarsveld, wat nooit op skool of daarna belanggestel het in dié sportsoort nie, is vandag ’n kranige swemmer.

“Die gogga het my gebyt. Toe die voorbereidingstyd verby was, het van die akteurs opgehou oefen, maar ’n paar van ons het aangehou oefen,” vertel Van Jaarsveld.

“Ons het eintlik professionele swemmers wat vir ons instaan vir die swemtonele, maar ek het nou die dag sommer self geswem.”

Boorling van Johannesburg, het hy as kind gretig aan elke verhoogproduksie deelgeneem.

“Jy kan enigiets noem, ek het dit waarskynlik al op die verhoog gespeel. Ek was selfs al ’n appel wat oor die verhoog moes rol,” het Van Jaarsveld laggend vertel.

Hy het egter nog nie besef dat sy liefde vir die verhoog en die beroep waarin hy homself sou bevind, verweef is nie.

“Ek wou in ’n stadium ’n dokter word. Vandag dink ek dat ek waarskynlik ’n dokter in Binnelanders of Grey’s Anatomy sou wou wees.”

Van Jaarsveld erken maklik dat hy in ’n huis grootgeword het waar sepies deel van die aandroetine gevorm het.

Righard van Jaarsveld saam met Liam Bosman en Johnny Potsanyane agter die skerms by “Diepe Waters”. (Foto: verskaf)

Hoewel hy internasionale rolprente en reekse geniet, is dit die Afrikaanse vermaakbedryf wat deur die jare sy hart vinniger laat klop het.

In sy matriekjaar, toe al sy vriende aansoeke by universiteite begin indien, het hy besef dat hy nie verder kon wonder oor waarheen sy toekoms op pad is nie.

Hy het besluit om ’n waagsprong te waag en ’n oudisie by die Performing Arts Lifestyle Institute (PALI) in Pretoria af te lê. Al sy eiers was nou in dié een mandjie.

“Ek het nog altyd geweet dat ek ’n akteur wou word. Ek het myself so ingelewe by elke karakter, dat daar nie eintlik ’n ander pad vir my was nie.”

Toe sy aanvaardingsbrief uiteindelik in Oktober van sy matriekjaar in sy e-posbus beland, het hy geweet dat daar nie meer omdraaikans is nie.

Hy het besef dat sy drome nou aan sy deur klop; geluk sou nie vir hom beskore gewees het as hy nie ’n kans gewaag het om dit na te streef nie.

Van Jaarsveld, wat onlangs in die AfriForumTV-rolprent, Die Val, ook te siene was, skroom nie om agter die skerms ook te werk nie.

“Ek het al byna alles agter die skerms gedoen; ek het die grootste respek vir die span wat alles aan die gang hou.”

Sy drome, vertel Van Jaarsveld, is vir hom meer kosbaar as enigiets anders in die lewe.

“As jou drome jou nie bang maak nie, droom jy nie groot genoeg nie.”

Harde werk, toewyding en vertroue dat dit wat vir hom bestem is, sal seëvier, is waaraan hy sy drome koppel.

“Geen droom is te groot en geen dromer is te klein nie. Mens moet nooit vergeet om te droom nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.