Nóg ʼn bondeltjie vir Joshua na die Reën ná seer

Joshua, Danél en Anán (Foto: Instagram)

Nes die titel van sy 2013-liedjie voorstel, was daar deur goed én sleg nog altyd lig op die horison – selfs wanneer storms gewoed het en moeilike tye eenvoudig nié wou verbygaan nie. Daarvan kan hy getuig, vertel die Afrikaanse sanger Joshua na die Reën nadat hy en sy vrou, Danél, onlangs ná ʼn miskraam ʼn tweede pienkvoet in hul huis verwelkom het.

Joshua, oftewel Jacques de Villiers, vertel Woensdag aan Maroela Media hy en sy vrou het op 30 Januarie die jongste toevoeging tot hul gesin verwelkom.

Ja, hy is nou wel omring deur drie vroue in die huis, maar hy sou dit beslis nié anders wou hê nie.

Die egpaar het hul dogtertjie Elgin genoem – ʼn naam wat vir hul albei geestelike betekenis dra en byna soos ʼn geskenk voel wat aan hulle gegee is. Elgin beteken “edelwit” of “rein”.

“Nadat ek en Danél vir Anán (3) gehad het, het die dokters vir ons gesê dat ons waarskynlik nie weer swanger sal kan word nie,” vertel hy. “Ons het egter bo alles tog swanger geraak, maar moes kort daarna deur die seer van ʼn miskraam werk. Kort ná die miskraam het Danél na my toe gekom en gesê dit is byna asof die naam Elgin die heeltyd in haar gedagtes opduik. Later het ons wel bevestiging gekry dat dit haar naam moet wees. Nou is ons geseën met nóg ʼn bondeltjie in die huis en ons is ongelooflik gelukkig.”

Joshua sê die jong Elgin groei teen só ʼn pas dat sy waarskynlik binnekort net so groot soos Anán gaan wees. “Sy kon nie wag om haar klein sussie by die huis te verwelkom nie,” sê hy. “Ons het doelbewus van die begin af op só ʼn manier opgetree dat sy nie afgeskeep voel nie. Ek dink hulle gaan nog selfs baie closer raak.”

Die sanger het die laaste paar weke bietjie van die musiektoneel verdwyn om tyd saam met sy gesin deur te bring. Hy is egter nou gereed om weer volstoom aan die werk te spring en is reeds weer volgende week in die ateljee.

Vir meer inligting, besoek Joshua se amptelike Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amanda ·

Veels geluk jul twee!! So bly vir jul. Ek kan ook nie meer wag vir n nuwe cd nie. Jy IS ons BESTE afrikaanse sanger. Eg, eerlik en beskeie. Jou optredes is die beste. … Het jou by Die Boer in Durbanville gaan kyk. En elke keer jou Godgegewe talent bewonder. Sterkte vir die pad vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.