Nóg ʼn groot uitdaging wag op Rolene Strauss

Rolene Strauss (Foto: Facebook)

Eers die Mej. Wêreld-kroon, toe ʼn mediese graad en nóú gaan Rolene Strauss haar volgende groot projek aanpak: Die skoonheid het aangekondig dat sy en haar skoonsuster kragte in ʼn nuwe mediese praktyk gaan saamsnoer wat op onder meer die voorkoming van siektes fokus.

Nadat Rolene aanvanklik eers geheimsinnig was oor ʼn “spesiale aankondiging” wat sy binnekort sou maak, het sy dié nuus onlangs op sosiale media bevestig.

Die skoonheid het op sosiale media gesê dié praktyk van haar en skoonsus Ledivia Strauss gaan fokus op “voorkomende, geïntegreerde en estetiese sorg”.

“My hooffokus gaan ʼn nié-kliniese rol wees,” het sy op sosiale media laat hoor. “Ek gaan as ʼn ambassadeur vir holistiese en voorkomende gesondheidsorg vir vroue optree. Vir ons gaan dit alles oor voorkoming van onnodige siektes, teenveroudering en om jou te verander in die beste weergawe van jouself – binne en buite.”

Die praktyk, wat bekend staan as Revita Health en net buite die Paarl in die Wes-Kaap geleë is, bied op 13 Februarie ʼn geleentheid aan waar Rolene en haar skoonsus lede van die publiek sal toespreek oor hul doel en drome met die praktyk.

“Ek en Ledivia sal gaande daaroor wees om julle te leer ken en sommige lewensveranderende waarhede – met betrekking tot gesondheid, teenveroudering en die beste jy – met julle te deel,” het Rolene Dinsdag op Instagram laat hoor.

Diegene wat belangstel, kan ʼn e-pos stuur na [email protected]. Vir meer inligting, besoek Rolene se amptelike Facebook-blad.

Strauss was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anoniem ·

Ek is nuuskierig om te weet: is Rolene een van die vele afgestudeerde mediese studente wat (nog) nie ‘n plasing vir internskap gekry het nie?

Anoniem ·

Dis dalk maar beter so. Dan het sy ten minste meer tyd om mamma te wees vir haar seuntjie. Weet nie hoe hou vlees en bloed dit met daai lang skofte van 26+ ure nie…

$ ·

Rolene is pragtig en net soos sy nie snedige kommentaar lewer oor jou loopbaankeuse of besluite in jou lewe nie, kan jy haar gerus toelaat om haar lewe te leef soos sy wil. Sy kom jou nie te na deur mooi te wees en haar eie doelwitte na te streef nie. Sy het haar lewe, jy het joune.

M ·

Die lewe beweeg vir almal aan. Net so kan ons maar aanbeweeg, en stel ek nie belang om elke week n nuwe update oor Roelien se doen en late te lees nie. Haar tyd in die kollig, is wat my betref verby. Wat my betref was dit n advertensie artikel wat eintlik mense wil betrek by die nuwe skoonheids praktyk.

blom ·

En die fooie wat dokters nie deesdae vra nie? Gaan dit nog oor die doel om genesing of om geld te maak? Hoeveel dokters vra nie meer as wat die dekking is vd mediese fonds nie? Los Rolene uit , om te doen met haar lewe en kennis wat sy wil!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.