Nóg ʼn koninklike troue in Windsor

Jack Brooksbank (31) en prinses Eugenie (28) (Foto: Instagram)

Jack Brooksbank (31) en prinses Eugenie (28) van Brittanje het onlangs bekend gemaak dat hulle oor net meer as drie maande ook in die St. George-kapel in Windsor wes van Londen ewige trou aan mekaar sal beloof – net sowat vyf maande ná prins Harry en Meghan Markle se troue.

Die paartjie het aan die begin van dié jaar in Nicaragua verloof geraak. Hulle is al vir meer as sewe jaar lank in ʼn verhouding.

Gedetailleerde besonderhede oor hulle troue is nog nié bekend gemaak nie; behalwe dat prinses Beatrice, Eugenie se suster, langs haar by die altaar sal staan. Die paartjie het volgens die webwerf Daily Mail beoog om in September vanjaar te trou, maar moes die troue na 12 Oktober skuif weens koninklike verpligtinge wat Eugenie moet nakom.

Volgens die webwerf Telegraph sal Eugenie, wat agtste in lyn vir die troon is, ook talle koninklike tradisies moet nakom wanneer sy met Brooksbank trou.

Een van dié tradisies is onder meer om kalmoes in haar ruiker in te sluit. Talle koninklike bruide soos onder andere Meghan Markle, koningin Elizabeth II en Kate, die hertogin van Cambridge, het in die verlede ʼn takkie kalmoes in hul ruiker gedra.

Hierdie tradisie het begin by koningin Victoria en Albert se oudste dogter, ook Victoria. Kalmoes verteenwoordig liefde, vrugbaarheid en onskuld en word al vir die laaste 170 jaar by Osborne House, koningin Victoria se vakansiehuis, gekweek.

Marlene Eilers Koenig, ʼn koninklike kenner, het aan die tydskrif Hello! gesê Brooksbank sal waarskynlik nié ʼn koninklike titel ontvang nie. Volgens Koenig is dit koninklike tradisie omdat Angus Ogilvy in 1963 met sy troue aan prinses Alexandra ʼn graafskap van die hand gewys het. Sedertdien het dit tradisie geword dat mans wat in die koninklike familie introu, nié titels ontvang nie.

Sarah Ferguson, hertogin van York en Eugenie se ma, het destyds oor die paartjie se verlowing gesê: “Ons is lief vir Jack en ek is so opgewonde om ʼn seun, ʼn broer en ʼn beste vriend in hom te hê. Eugenie is een van die wonderlikste mense wat ek ken en saam sal hulle suiwer harmonie wees.”

Ferguson en prins Andrew, Eugenie se pa, is in Julie 1986 getroud, maar ʼn dekade later, in Mei 1996, weer geskei. Sy was al talle kere vir sogenaamde koninklike skandale in die sop waarvan die grootste was toe sy in 2010 $700 000 van ʼn joernalis aanvaar het om die media toegang tot prins Andrew te gee. Sy het later vir dié skandaal om verskoning gevra en gesê sy het onder geweldige finansiële druk gebuk gegaan.

Prins Harry en Meghan het op 19 Mei vanjaar getrou. Lees meer oor dié troue op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Reine waarheid ·

Hoop sy volg nié tradisie en vind meer oor die plant “kalmoes” uit; oorspronklik van Asia,
Plant verwant aan opium papawer, GAL bitter
Vervuil gou groei in moeras vleie, as wortels rot is dit slangenes. Ander naam “variegatus” Bonte
Kalmoes “gif” Matt. 27:34 “gal” Jesus gewyer on dit te drink.
Tradisie? Laat my wonder hoekom vorige prinsesse sommige tradisies geignoreer of gebreek het.

John ·

@Reine waarheid En word dit nie in Eksodus 30:23 gesê om gebruik daarvan te maak as heilige salfolie nie? Hoekom is dit nou eweskielik so vreeslik as dit goed genoeg was vir die Ark van Getuienis?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.