Nóg omstredenheid rakende koninklike troue

Prins Harry en Meghan Markle tydens ‘n seremonie wat hulde bring aan afgestorwenes in die weermag (Foto: Kensington-paleis)

Meghan Markle gaan na bewering dié naweek tydens haar huweliksbevestiging met prins Harry in Londen sonder haar pa die paadjie na die kansel stap aangesien die aktrise en aanstaande koninklike se pa glo nié die troue gaan bywoon nie.

Thomas Markle (73), Meghan se pa, het dié nuus glo aan die Amerikaanse poniewebwerf TMZ bevestig.

Markle het glo besluit om nié die troue by te woon nie nadat dit aan die lig gekom het dat hy onlangs ingestem het om vir paparazzi-foto’s te poseer wat dit laat voorkom het asof hy voorbereidings vir sy dogter se troue tref.

Hy het ook aan die webwerf bevestig dat hy nog herstel nadat hy glo verlede week ʼn hartaanval gehad het – glo veroorsaak deur die poniepers se beriggewing wat hom die afgelope paar weke voor die troue in ʼn swak lig uitgebeeld het. Dít nadat die poniepers hom gehamer het oor onder meer sy gewig en sy verhouding met Meghan.

Markle het gesê hy het besluit om die koninklike troue mis te loop sodat hy nie “die koninklike familie of sy eie dogter verder verneder nie”.

Volgens CNN is prins Harry en Meghan “baie bekommerd” oor Markle se gesondheid en die druk waaronder die media hom plaas. Hoewel Meghan “ongelukkig” is oor die onlangse gebeure met die paparazzi-foto’s, het sy glo aan ʼn bron na aan die koninklikes gesê sy sou steeds wou hê dat haar pa haar troue bywoon.

“Dit is ʼn baie moeilike en persoonlike tyd vir Meghan in die dae voor haar troue,” het ʼn woordvoerder van die Kensington-paleis aan CNN gesê. “Sy en prins Harry vra weereens dat die media haar pa se privaatheid en die netelige situasie respekteer.”

Meghan se halfsuster, Samantha, het dié week aan ʼn Britse televisiekanaal gesê sy het haar pa aangeraai om vir die paparazzi-foto’s te poseer om sy beeld in die media ʼn positiewe hupstoot te gee. “Hulle [die paparazzi] neem jou nie af wanneer jy groente en water koop nie, hulle neem jou af op soveel onvleiende maniere moontlik. Ek het gesê hy moet die wêreld wys dat hy aan sy figuur werk en besig is met ander goeie dinge wat sy gesondheid bevorder.”

Samantha kon nie bevestig of Thomas betaling vir die foto’s ontvang het nie. Sy wou nie verder uitbrei oor sy gesondheidstoestand nie.

Thomas en sy vrou, Doria Ragland, is geskei toe Meghan nog jonk was. Die aanstaande koninklike het by ʼn vorige geleentheid gesê haar ouers is steeds goeie vriende en die gesin gaan steeds saam met vakansies. Ragland het nog nié op enige mediaversoeke rakende die foto-debakel gereageer nie.

Ragland sal na verwagting eerskomende Saterdag tydens die koninklike troue die rol van albei ouers op haar skouers neem en ook saam met Meghan na die kansel stap. Kensington-paleis het egter nog niks inligting oor dié verwikkelinge bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

VanAfrika ·

Ag Geez wat daarvan as hy dit gedoen het, n foto is n foto en tuff as hy geld gekry het daarvoor. Vir wat is alles n staatgeheim of staats issue. Laat die man sy kind se troue bywoon, dis al wat hy nog het om vir haar te doen en nog n memory om saam met sy kind te bou, magtie

Pop ·

Hierdie sirkus gaan ook nie lank hou nie. Arme Harry gaan nog bitter trane huil oor die vroutjie. En die stomme koningshuis is al deur soveel skandale ek voel skoon jammer vir hulle.

VanAfrika ·

Ja sy het haar getroude man via sms afgesê en sy ringe aan hom terug gepos, as sy hier koue voete kry na al die druk van die koningshuis sal sy dieselfde doen? Sy is hoeka gewoond en doen haar eie ding.

ChrisE ·

Ja nee, ek sien swarigheit vir tant Liesbet en haar aanhangers. Die spreekwoord lui mos, die wiel draai, maar hy draai stadig en verseker.

Juan Olivier ·

Die Afrikaners was nog maar altyd baie geplae met die Britte se koninklike familie van die Cape Dutch dae af.

Nettie ·

@Juan Olivier – “Die Afrikaners” het bloedweining keuse gehad “as om maar baie ‘geplae’ te wees met die Britte se koninklike familie van ‘Cape Dutch’ se dae” af. Die Engelse het I 1796 die eerste keer die Kaap kom vat, die tweede keer in 1806 tot en met 1961, met Republiekwording (en Unie-wording in 1910, al was almal toentertyd nog steeds Britse onderdane).

In 1899 – 1902 het hulle ons land kom vat, die ou ZAR en ou OVS met al die goud en diamante – Rhodes, die Robbies! En in 1899 – 1902 het hulle sowat 27 000 vroue, kinders en bejaardes se dood veroorsaak deur hulle in vieslike, onvoldoende, vuil kampe te stop met te min/swak kos, dokters/verpleegsters en simpatie/empatie.

So ja, “die Afrikaners” was maar nog altyd behep met die Engelse – en nie noodwendig uit eie keuse nie!

jaco ·

Nettie, as die Engelse nog steeds in beheer van SA was, sou die volgende goed nie hier gewees het nie:
plakkerskampe
reusagtige werkloosheid
swak en vuil staatshospitale
swak lae standaaard onderwys
regstellende aksie
en n LANG lys ander goed. Dink maar goed voordat jy hulle net slegmaak.

Marinda ·

Typical of the paparazzi. They have nothing better to write about.

Karen van Zyl ·

Kry iemand nie DIE BOODSKAP nie? ek meen wragtig, hoeveel meer voor jy iets doen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.