‘Nou is ons drie’, sê sanger ná baba se opwagting

Juan en Shamodene Boucher se skattige klein Novah. (Foto: Facebook/Juan Boucher)

“‘Ons word een’ is nou uiteindelik drie lede.”

Só skryf die rasperstemsanger Juan Boucher oor die babadogtertjie wat hy en sy vrou, Shamodene, vandeesweek in hulle gesin verwelkom het.

Die Bouchers se jongste toevoeging heet Novah en is op Woensdag 2 Februarie omstreeks 15:10 gebore. Sy het 3,2 kg met geboorte geweeg en was 50 cm lank.

Juan en Shamodene het ook albei foto’s van dié pragtige nuweling op sosiale media gedeel. “Pappa se mooiste Novah,” het Juan gekoer.

“Jy is so volmaak, my liefiekind,” het Shamodene op Instagram geskryf. “Dankie vir almal se mooi boodskappies.”

Vonk Musiek, die platemaatskappy onder wie se vaandel Juan se treffers soos “Ek dink ek mis maar net jou hart” uitgereik is, het ook die egpaar op sosiale media gelukgewens.

“Ons almal by Vonk Musiek en almal wat deel is van Juan se loopbaan, wens julle baie geluk en ons weet julle gaan die beste ouers wees.”

Shamodene en Juan Boucher. (Foto: Kreativ)

Juan (37) en Shamodene (25) het mekaar in Januarie 2020 ontmoet en daardie Desember verloof geraak. Hulle is op 24 Maart verlede jaar in die Bosveld op Modimolle (Nylstroom) getroud.

Hulle het in Augustus verlede jaar die swangerskapnuus op sosiale media gedeel deur ʼn skattige sonarvideo op Facebook en Instagram te plaas.

“Ons kan nie wag om jou te ontmoet nie! Ons lief jou klaar so baie!” het Shamodene destyds geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.