Nuwe hoofstuk vir Vaughan Gardiner en gesin

Vaughan Gardiner, sy vrou Nerine, en hul twee dogtertjies, Ameline en baba Noëlle. (Foto: Christine Henrico/Christine Photography)

Met die intrapslag by Vaughan Gardiner en sy vrou, Nerine, se huis in Douglasdale, Johannesburg, is dit duidelik dat hier groot veranderinge aan die gebeur is.

In die hoek van die eetkamer staan ʼn paar halfgepakte bokse, in die woonkamer het daar net die mooiste klavier en ʼn enkele rusbank oorgebly en hier en daar lê speelgoed in hope opgestapel, gereed om ook in bokse te verdwyn.

Maar op die kombuistoonbank staan die koffiekoppies gereed langs ʼn vrolik versierde koek, en kan jy reeds die ketel in die agtergrond hoor fluit – ʼn duidelike teken dat kuiergaste hiér welkom is.

“Jammer vir die deurmekaarspul,” maak Vaughan dadelik verskoning. “Dit gaan maar dol hier by ons met alles wat nog gedoen moet word.” Agter haar pa se been loer die driejarige Ameline skaam-skaam uit en kort daarna kom Nerine ingestap met Noëlle, nou nege maande oud, in haar arms.

“Dol” is eintlik ligtelik gestel. Die Gardiner-gesin is immers besig om hul lewe in Suid-Afrika op te pak vir ʼn nuwe avontuur in Dubai. En hulle deel hierdie groot nuus vandag eerste met Maroela Media.

Die Gardiner-gesin is opgewonde oor die nuwe avontuur wat voorlê. (Foto: Christine Henrico/Christine Photography)

Oor die water

Dit was ʼn moeilike besluit, sê Vaughan en Nerine (31). Ook nie iets wat ooit regtig deel van hul beplanning was nie. Maar die Here lei ʼn mens dikwels op paaie wat jy nooit kon dink jy sal stap nie, en toe ʼn onmisbare geleentheid oor die gesin se pad kom, het hulle dit aangegryp.

Nerine, ʼn kopieskrywer, vertel ʼn talentwerwer het haar genader rakende ʼn bestuursposisie by ʼn internasionale maatskappy in Dubai. Nerine se ervaring as kopieskrywer vir talle groot banke en finansiële instansies het haar baie gesog in die bedryf gemaak aangesien dit spesialiskennis verg om kopie oor finansiële kwessies te skryf.

“Toe die talentwerwer met my kontak maak, het ek nooit eintlik gedink daar sal iets van kom nie. Ek dink nie ek het eers aanvanklik vir Vaughan daarvan vertel nie. Ek het regtig nie veel daarvan gedink nie,” sê Nerine.

Nadat die maatskappy haar egter genader het vir ʼn onderhoud en emigrasie al meer ʼn moontlikheid geword het, moes die egpaar eerlik met mekaar gesels oor hul pad vorentoe. “Dit was nogal ʼn groot kopskuif om te kan sê ons is nou regtig ernstig hieroor,” sê Nerine. “Toe het ons vir onsself gesê as hulle a, b en c vir ons kan aanbied, dan sal ons regtig moet gaan.”

Hulle het lank en hard gebid, sê Nerine, en die Here gesmeek om hulle te lei om die regte besluit te neem. “Ons het net gedink hier is te veel besluite, ons gaan dit alles aan die Here oorlaat.”

En alles het net wonderbaarlik reg in plek geval.

“Gedurende die proses was daar ʼn tyd dat ek gedink het ek gaan dit definitief nie vat nie. Maar toe ek die laaste onderhoud voer, het hulle my verseker ek sal steeds meer as genoeg tyd saam met my gesin hê, iets wat vir my baie belangrik is,” sê sy. “En toe is die besluit byna vir ons geneem.”

Ameline (3) sal in Dubai ʼn Franse skool bywoon. (Foto: Christine Henrico/Christine Photography)

Natuurlik is daar baie moeilike aspekte daaraan om te emigreer, waarvan seker die moeilikste is om jou familie en geliefdes agter te laat. Die werklikheid is egter dat hulle in elk geval ver van hul families af is, sê Vaughan.

Sy ouers is in Kaapstad, Nerine se ouers in Stellenbosch. “Ons het nie regtig ʼn groot ondersteuningsnetwerk hier nie. Ons het nou al met baie mense gesels en almal sê ons gaan sukkel sonder ons ondersteuningstelsel. Maar ons het in elk geval nie eintlik een hier [in Johannesburg] nie,” sê Vaughan.

Ja, natuurlik het hulle vriende wat vir hulle baie kosbaar is en wat hulle baie gaan mis. Maar Dubai is gelukkig net ʼn vlug ver en danksy tegnologie is dit baie makliker om vriendskappe oor ʼn afstand te koester.

In September sal hulle Suid-Afrika sak en pak verlaat. Ameline sal in Dubai ʼn Franse skool bywoon en Vaughan sal smiddae na klein Noëlle omsien aangesien hy van die huis af sal werk.

Vaughan meen die skuif na Dubai gee hom juis die geleentheid om nuwe geleenthede in die Afrikaanse musiekbedryf te ontgin. (Foto: Christine Henrico/Christine Photography)

Nuwe geleenthede

Bring dié skuif nou ʼn einde aan Vaughan se betrokkenheid by die Suid-Afrikaanse musiekbedryf? Allermins. Vaughan is meer opgewonde as ooit om die geleentheid aan te gryp om nóg ʼn groter rol in die bedryf te speel as wat hy reeds doen.

“Ek is al die afgelope 11 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf. Ek sing steeds en bring nog steeds musiek uit, maar die meeste van die werk wat ek doen, is vervaardiging en liedjieskryf vir ander kunstenaars,” vertel hy.

Talle groot treffers het al uit Vaughan se pen gevloei en hy het al liedjies geskryf vir onder meer Karlien van Jaarsveld, Steve Hofmeyr, Bok van Blerk, Lianie May, Nadine, Andriette, Dirk van der Westhuizen, Vernon Barnard en Caroline Grace. Baie van dié liedjies se lirieke is deur Nerine geskryf.

Saam met Hugo Ludik bedryf hulle ook Muse Productions, ʼn professionele liedjieskryf- en opname-ateljee wat alles van oorspronklike liedjies, ateljee-opnames, musiekvideo’s en bemarking vir kunstenaars bied.

Vaughan sal smiddae na klein Noëlle omsien aangesien hy van die huis af sal werk. (Foto: Christine Henrico/Christine Photography)

“Ek en Hugo het al lankal begin kyk om uit te brei Dubai toe. Daar is ʼn groot Afrikaanse gemeenskap en daar was al baie van ons kunstenaars wat Dubai toe is om daar te gaan optree,” vertel Vaughan.

“Ons was aanvanklik net so verbaas oor die ondersteuning wat Afrikaanse musiek in Dubai geniet, maar dit is wel die geval. Met ek wat nou daarheen verhuis, bied dit vir ons die ideale geleentheid om uit te brei daarheen, te kyk vir optreegeleenthede en samewerkingsgeleenthede en om die mark daar te leer ken.”

Hy sal beslis aanhou sing, sê Vaughan. “Ek is mal oor die Afrikaanse musiekbedryf, ek sal nooit ophou sing nie. Ek doen dit nou al vir so lank en dit is vir my regtig lekker. Ek wil nie uit die bedryf uit gaan nie. So, ek sal gereeld terugkom Suid-Afrika toe om hier te werk, ek sal aanhou musiek skryf, aanhou vervaardig. Van my werk sal net nou oor ʼn afstand en deur die internet gedoen word.”

Baie van die gesin se besittings is reeds in bokse gepak. (Foto: Christine Henrico/Christine Photography)

Bittersoet

Natuurlik is daar baie om na uit te sien. ʼn Lewe in ʼn eerstewêreldstad in een van die slimste stede ter wêreld. Om een van die wêreld se top-toeristebestemmings huis te noem. Die gemak om enige plek heen te reis van Dubai af. ʼn Lewe in ʼn stad met ʼn baie lae misdaadkoers en een van die laagste werkloosheidsyfers ter wêreld. Nuwe avonture en nuwe uitdagings.

Maar daar is niks in Dubai wat die plek kan inneem van hul verbintenis met Suid-Afrika wat diep in hul wese gewortel is nie. “Ons het ʼn kultuur hier wat jy nêrens anders in die wêreld kan kry nie,” sê Vaughan.

Nerine knik instemmend. “Afrikaanse mense is lekker mense. Dit is ʼn ongelooflike kultuur,” sê sy. “En die Afrikaanse taal is net so uniek. Dit is vir my lekkerder om in Afrikaans te werk as in Engels, want ek voel ek kan myself beter uitdruk in Afrikaans. Dit is ʼn taal wat geskep is uit gevoel.

“Die rede hoekom hierdie taal so lieflik is, is omdat dit geskep is deur die mense wat die taal gebruik. Dit is nie êrens deur ʼn klomp akademici uitgedink nie. Dit is ʼn kombuistaal en die woorde dra emosie soos geen ander taal nie.”

Die Gardiner-gesin sê hul wortels sal altyd in Suid-Afrika wees. (Foto: Christine Henrico/Christine Photography)

En ja, sy is hartseer dat hul dogters nie Afrikaans en die kultuur van die Afrikaanse mense gaan ken soos hulle dit ken nie. “Ons sal altyd deur Afrikaanse mense omring wees en ons kinders sal natuurlik altyd Afrikaans kan praat, maar hulle gaan nie grootword met dieselfde leefwyse en in dieselfde gemeenskappe as ons nie,” sê sy.

“Ons weet nie of ons gaan terugkom nie. Ons weet nie nou nie, ons wil kyk hoe dit daar gaan. Maar as ons nié terugkom nie, gaan hulle nie die lewe wat ons hier het, ken nie. Hulle gaan so anders as ons grootword. En dit is ʼn moeilike ding om regtig te verwerk.”

Tog is die opwinding meer as die hartseer, die avontuurlus meer as die vrees. Die volgende fase van die Gardiners se lewe sal in Dubai afspeel, maar hul wortels is vir ewig onlosmaaklik deel van die Suid-Afrikaanse grond.

“Ons harte bly net hier.”

(Foto: Christine Henrico/Christine Photography)

(Foto: Christine Henrico/Christine Photography)

(Foto: Christine Henrico/Christine Photography)

(Foto: Christine Henrico/Christine Photography)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Elize ·

Hulle gaan net in Dubai kom werk en bly kan nie emigreer nie. Sterkte met die skuif.

Bren ·

Korrek , net werk , westerlinge kan nie immigreer daarheen nie. Dis n werklike wyse besluit, Solank mens werk het , bly jy daar. Since there is no way for foreigners to receive permanent residency or citizenship in the UAE, there is logically no true Golden Visa. However, through investment into the country, expats can receive 3-year, renewable temporary residency to live abroad long-term in Dubai without having to seek employment.

Steve van Deventer ·

Alle voorspoed julle mooi mense! Ons weet julle gaan ‘n groot sukses hiervan maak!!

Karen ·

Wonder net; hoe hulle daar aan die Here gaan vashou en kerk toe gaan. Dis waar ware geloof getoets word…. . Different strokes for different folks.

Peter ·

@Karen, hier is massiewe Christen Kerke, en ek kan amper waarborg dis voller as kerke in RSA.

Anna ·

Hier is ‘n Afrikaanse kerk in Dubai met ‘n Afrikaanse predikant.
Hier is verskeie Christen kerke van alle denominasies hier. Almal is vry om hulle eie geloof openlik te beoefen hier.

Michelle ·

Hi Karen daar is baie christelike kerke in Dubai ook, so dit behoort nie n probleem te wees nie.

Katrien ·

Alle sterkte en voorspoed vir julle . Julle sal dit maak. Elk dink jul is die wonderlikste, eerlikste en opregste paartjie wat ek ken. Hou aan met sing. Sal jul beslis ondersteun. Wens ek kon saam.

Jack ·

Sterkte daar!
Verkoop maar al die wintersklere ook hier – gaan nie nodig wees daar nie…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.