Nuwe koninklike webblad, podsendings vir Meghan en Harry

Prins Harry en Meghan Markle, die hertog en hertogin van Sussex in September 2023 tydens ‘n besoek aan Denemarke. (Foto: Rolf Vennenbernd/dpa Picture-Alliance via AFP)

Prins Harry en sy vrou, Meghan Markle, het klaarblyklik ʼn nuwe koninklike blaadjie omgeslaan.

Hoewel hulle in 2020 ná hul onttrekking aan die koninklike lewe vermoedelik doelbewus wegbeweeg het van hul amptelike titels, het die egpaar nou ʼn nuwe webblad getiteld, “die kantoor van die hertog en hertogin van Sussex”, bekendgestel.

Hul nuwe webwerf, Sussex.com, vervang die vorige een, Archewell.com, en sal na bewering meer persoonlike bywerkings oor die hertog en hertogin se aktiwiteite verskaf.

Meghan en prins Harry het elkeen ook aparte profiele op die nuwe Sussex-webblad wat hul prestasies uiteensit, maar hul koninklike familiewortels word egter glad nie daarin vermeld nie.

Daar word verder vir die eerste keer op een van hul eie platforms na hul kinders as “prins Archie” en “prinses Lilibet” verwys – titels wat hulle in 2022 met hul oupa, koning Charles III, se troonbestyging ontvang het.

Maroela Media het vroeër berig dat Archewell ʼn woordspeling op prins Archie se naam is en ook die handelsmerk was waaronder hulle verskeie winsgewende ooreenkomste met media-instansies die afgelope drie jaar gesluit het.

‘n Skermgreep van die egpaar se nuwe webblad.

Een só ʼn ooreenkoms was die hertogin se opspraakwekkende Spotify-podsendingreeks, Archetypes – wat slegs uit een seisoen van agt episodes bestaan het.

Daar is destyds beweer dat die stromingsreus die voormalige koninklikes $20 miljoen (ongeveer R340 miljoen) vir dié inhoud, wat twee jaar geneem het om die lig te sien, betaal het.

Meghan het in dié reeks met bekendes soos Serena Williams en Mariah Carey oor verskeie onderwerpe rakende vrouwees gesels.

Die hutsmerk #VoetsekMeghan het selfs kort ná die première-episode plaaslik voorgeloop nadat die hertogin Suid-Afrikaners woedend gelaat het oor kommentaar wat sy oor Suid-Afrika in dié episode gemaak het.

Archetypes het egter nou ʼn nuwe tuiste gevind by die podsendingplatform Lemonada nadat Spotify in 2023 besluit het om nie die hertogin se reeks vir ʼn tweede seisoen te hernu nie.

Bekendes soos Julia Dreyfus van Seinfeld-faam en komediant Sarah Silverman is ʼn paar van die bekende name wat reeds op die Lemonada-platform te hoor is.

“Lemonada Media het vandag ʼn nuwe kreatiewe vennootskap met Meghan, die hertogin van Sussex, aangekondig. As deel van ons ooreenkoms sal Lemonada die eerste seisoen van die bekroonde reeks Archetypes vir alle klankplatforms versprei en ook ʼn nuwe oorspronklike reeks ontwikkel wat deur die hertogin van Sussex aangebied sal word,” het die platform in ʼn verklaring op hul sosiale media gesê.

“Ek is trots daarop om nou te kan deel dat ek by die briljante span by Lemonada aansluit om my liefde vir podsendings voort te sit,” het Meghan op haar beurt in ʼn verklaring aan CNN News gesê.

“Om ʼn vrouemaatskappy te kan ondersteun met ʼn reeks prikkelende en hoogs vermaaklike podsendings is ʼn fantastiese manier om 2024 af te skop.”

Bykomende bronne: CNN, The Independent

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.