Nuwe Mej. SA ingehuldig

Adé van Heerden (Foto: Facebook)

Adé van Heerden, die skoonheid wat vroeër vanjaar as die eerste prinses in die Mej. SA-skoonheidskompetisie aangewys is, is pas as die nuwe Mej. SA ingehuldig.

Van Heerden en die Mej. SA-bestuur het dié nuus op sosiale media bevestig.

Die skoonheid se inhuldiging as die nuwe kroondraer kom nadat Mej. Suid-Afrika Demi-Leigh Nel-Peters, op 27 November by The Axis-teater in Las Vegas in die VSA as Mej. Heelal gekroon is. Nel-Peters se lewe ná haar kroning gaan merkwaardig verander. Sy verhuis onder meer na New York in die VSA waar sy ʼn luukse woonstel ontvang.

Die Mej. Heelal-organisasie sal gedurende haar tydperk as Mej. Heelal haar lewenskoste dek terwyl sy haar pligte as die kroondraer van dié titel uitvoer. Sy word egter verplig om die kroon as Mej. SA te oorhandig, waarna die tweede prinses daarvoor in aanmerking kom.

Boipelo Mabe, wat vroeër vanjaar as die tweede prinses in die Mej. SA-kompetisie aangewys is, is deur Van Heerden as eerste prinses gekroon. Mabe sal gereed staan om Van Heerden se verantwoordelikhede oor te neem wanneer sy nie meer haar pligte kan nakom nie.

“Soos een protea [Nel-Peters] vertrek om te blom as Mej. Heelal, vra ons julle om saam met ons te staan wanneer ons ʼn nuwe protea [Van Heerden] met ope arms verwelkom. Suid-Afrika, ontmoet dus jul nuwe Mej. SA – Adé van Heerden,” het die Mej. SA-bestuur op Facebook geskryf.

Van Heerden het ook ʼn foto van haar inhuldiging op sosiale media gedeel. “Dankie, Suid-Afrika. Ek hoop ek kan julle goed dien as julle nuwe Mej. SA.” Van Heerden het vroeër dié maand tydens die Mej. Wêreld-kompetisie onder die tien mooistes geëindig en in die uitdunrondes die “Beauty with a Purpose”-toekenning gewen.

Lees meer oor Mej. SA op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

amvi ·

Baie geluk. Bly dat politiek nie ook weer finale se hier gehad het nie. Dit is mooi, dis goed en dis reg so.

Bokkie ·

Baie geluk . Wonder net – die pysgeld en motor en, en … wat Demi Leigh ontvang het met haar kroning as Mej SA, word dit nou “oorgedra” na Ade?

Anoniem ·

Demi-Leigh is Mej SA, waarom op aarde moet sy haar pryse oorgee aan Ade? Ade is slegs die acting Miss SA aangesien Demi nou Mej Heelal is. En die reels vd Miss SA kompetisie maak voorsiening vir presies hierdie soort situasie sodat die eerste prinses se pryse by haar nuwe verantwoordelikhede aangepas word.

CG ·

Sjoe, ons het darem mooi meisies! Duidelik het ons voorouers nie net die beste gene vir vasberadenheid, dapperheid, deursettingsvemoe, vindingrykheid, gasvryheid en vriendelikheid saamgebring nie, maar ook gene vir mooiwees! Sommer baie trots!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.