Nuwejaarsgeskenk vir bekende sjef ná groot hartseer

Gordon Ramsay, sy vrou Tana, en hul kinders, Megan, Matilda, Jack en Holly. Foto: Instagram

Die wêreldbekende Britse sjef, Gordon Ramsay (52), en sy gesin het vandeesweek vreugdevolle nuus saam met hul Nuwejaarsboodskap gedeel.

Ramsay se vrou, Tana (44), is swanger met die egpaar se vyfde kind.

Ramsay het ʼn video op Instagram gedeel waarin elke lid van sy gesin sy aanhangers ʼn gelukkige Nuwejaar toewens. Nadat Tana heel laaste haar gelukwensinge gedeel het, beweeg die kamera af om Tana se reeds ver swanger magie te wys.

“En raai wat, dit is ʼn gelukkige Nuwejaar, want ons het nog een op pad!” sê Ramsay van agter die kamera en die res van die gesin klap vrolik hande.

Die Ramsay-egpaar, wat al 22 jaar lank getroud is, het reeds vier ander kinders – Megan (21), Matilda (17) en die tweeling, Jack en Holly (19).

Die egpaar het in 2016 deur diep waters gegaan toe Tana op vyf maande swangerskap ʼn miskraam gehad het. Sy het ʼn seuntjie verwag.

Op ʼn vraag van ʼn Instagram-volgeling wat die geslag van die nuwe baba en verwagte geboortedatum is, het Ramsay geskerts: “Ek het ʼn groot mond en alles, maar regtig?”

Ramsay is ʼn multi-Michelin-ster-sjef en TV-persoonlikheid wat bekend is vir sy vurige humeur. Hy is die eienaar van talle toonaangewende restaurante, onder meer in Londen, Las Vegas, Dubai, Siena in Italië, Bordeaux in Frankryk, Doha in Katar en Hongkong.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.