Om vir grootheid bestem te wees

Marco en Marcel Spaumer (Foto: Verskaf)

Marco en Marcel Spaumer (Foto: Verskaf)

Is ʼn mens by geboorte reeds bestem vir iets, vra ek die Spaumer-tweeling wat kruisbeen voor my sit.

Ons sit op die tweede vloer in ʼn Atlantic Studios-produksiekantoor in Kaapstad waar die kykNET-sepie Suidooster vervaardig word. Die einste suidooster waaroor dié gewilde Afrikaanse sepie gaan, loei vandag met meer mening as ander dae.

Hulle kyk mekaar in die oë wanneer ek my vraag aan hulle stel – ʼn aksie wat deurentyd gebeur, byna asof hulle wil knik om te sê hulle dink inderdaad aan dieselfde antwoord. Hulle ís immers ʼn tweeling, maar wanneer jy mooi kyk, is daar tog ʼn groot verskil in hulle oë. Een gee ʼn ernstige kyk, in die ander een se oë dans stoute duiweltjies.

“Ek ken jou voor jy in die moederskoot gevorm is,” haal hulle soos een man ʼn frase uit Jeremia 1 aan om my vraag te beantwoord. “Reeds voor jou geboorte is jy bestem vir iets op aarde. Dit is iets waarin ons glo soos ons glo dat die son weer gaan opkom: Dat wanneer jy gebore word, jy net vir ʼn kort tydperk onthou waarvoor jy bestem is. En soos jy ouer word, vergeet jy. Maar dít is juis waaroor die lewe gaan; om weer uit te vind waarvoor jy bestem is.”

Marcel en Marco Spaumer het ʼn soort energie. Daar is íéts wat hulle uniek en gewild maak en hulle laat uittroon bó ander – nie ʼn grootheidswaan nie, inteendeel – hulle is uiters nederig. Dalk ʼn tevredenheid met wie hulle is.

“Dis passie,” skree hulle uit. “Ons het ʼn passie vir alles wat ons aanpak. Dís ons mantra, die ding waarmee ons alles in ons lewe aanpak. Ons glo ook dis die rede vir ons sukses, dat ons so ongelooflik passievol is oor alles wat ons aanpak.”

Die duo, wat veral bekendheid verwerf het as Sêr-aanbieders op kykNET, is deesdae voltyds betrokke by Suidooster – die eerste Afrikaanse sepie wat in Kaapstad geskiet word. Daar is Marcel die tekskoördineerder en Marco vertolk die rol van Tim du Plooy.

“Ons is dankbaar. Dankbaar dat ons nog altyd op die regte tyd op die regte plek was. En dat ons so baie geseën word,” sê hulle.

Pla dit hulle dat hulle bekendstaan as die Spaumer-tweeling?

Weer kyk hulle mekaar in die oë. Nóú dans daar duiweltjies in hul álbei se oë.

Marco en Marcel Spaumer (Foto: Verskaf)

Marco en Marcel Spaumer (Foto: Verskaf)

“ʼn Groot deel van ons sukses word toegeskryf daaraan dat ons baie dinge saam aangepak het. Ons werk goed saam, en ons weet dit. Maar tog is dit belangrik vir ons om elk as ʼn eie mens gesien te word, want net so veel as wat soos ons dieselfde is, so verskil ons ook van mekaar.”

Dit was immers nie ʼn doelbewuste besluit om saam by Suidooster te eindig nie. Marcel was reeds by Homebrew-produksies betrokke voor die sepie se bestaan, en Marco het soos ʼn handskoen gepas in die rol van Tim.

Die tweeling is veral baie uitgesproke oor hul geloof en vertel dit is vir hulle belangrik om ook in die vermaakbedryf toegewyd te kan wees. “Ons hoor dikwels dat mense die vermaakbedryf as Sodom en Gomorra uitmaak. Dit is nie so nie, inteendeel – Jesus was in die gemarginaliseerde gebiede gewees. Dit is ons doel om elke dag sy hande of stem te wees, en dit maak saak waar in die lewe ons is nie.

“Dit is in enige beroep belangrik om ʼn streep te kan trek en te besluit waarmee jy gemaklik is en waarin jy glo. Die probleem is dat ons almal wil behoort en ons almal wil erkenning ontvang wees. Maar dit is wonderlik om op ʼn jong ouderdom reeds te weet waar jou erkenning vandaan kom – nie van mense nie, maar van God,” sê hulle.

Die toekoms lyk selfs méér blink vir die Spaumers. Marcel wil nóg besiger raak en Marco beplan om bietjie rustiger te raak. “Maar tussen dit alles het ons nog baie op ons wenslys wat ons wil bereik. Weg van ʼn loopbaanperspektief wil ons net gelukkig wees en doen waarvoor ons geroepe is. En daarby wil ons God in alles eer.”

Suidooster is van Maandae tot Donderdae om 18:00 op kykNET (DStv kanaal 144) en kykNET & Kie te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.