Ooievaar kuier by dié bekendes in 2021

Die ooievaar het vanjaar ʼn draai gemaak by ʼn hele paar plaaslike en internasionale bekendes. Ons kyk na die babas wat reeds hul opwagting gemaak het, asook wie se babas op pad is.

Babas

Christel van den Bergh en David Louw het op 27 Maart ‘n babaseuntjie ryker geword. (Foto: Facebook)

Die akteurspaar Christel van den Bergh en David Louw, onderskeidelik bekend vir hul rolle as die paartjie Simon en Renate Greeff in die kykNET-sepie Getroud met rugby, het op 27 Maart ʼn pienkvoet ryker geword.

Die babaseuntjie heet Daniël David.

“So aan die einde van hierdie goeie Paasnaweek, wil ek en @louwdavid graag baie goeie nuus deel [sic]. Ons mooiste babatjie is op 27 Maart 2021 gebore. Die afgelope paar maande was baie spesiaal en ons wou dit graag privaat hou, maar noudat ons klein wonderwerkie hier is, kan ons nie anders as om dit te wil uitbasuin aan die wêreld nie,” het Van den Bergh in April op Instagram geskryf.

Charlize Berg se seuntjie, Kailer Noah John Linden. (Foto: Facebook)

Die Afrikaanse popsangeres Charlize Berg en haar man, Warren Linden, se babaseuntjie is op 19 April gebore.

Die seuntjie heet Kailer Noah John Linden en het 3,4 kg geweeg en was 51,5 cm lank by geboorte. Hy het ʼn ouer sussie, Aleiah Rose, wat in April 2018 gebore is.

Berg het in Oktober verlede jaar bekend gemaak dat sy swanger is. Sy het in Januarie vanjaar aangekondig dat sy ʼn seuntjie verwag.

Kobus en sy babaseuntjie, Pieter-Steph. (Foto: Verskaf)

Die bekende Idees vol vrees-grapmaker Kobus Galloway en sy vrou, Beatrix, het op 4 Mei ʼn babaseuntjie ryker geword.

Die seuntjie heet Pieter-Stephanus (Pieter-Steph) Galloway. Hy het 3,57 kg by geboorte geweeg en is 51,5 cm lank. Hy het ook ʼn sussie, Bea-mari (6), en boetie, Jacobus (3).

Simoné Pretorius en haar dogtertjie, Harper. (Foto: Facebook/Simoné Pretorius)

Die aktrise Simoné Pretorius en haar man, Andries, het op 3 Mei die ouers van ʼn babadogtertjie geword.

Pretorius het met ʼn foto op Instagram verklap dat klein Harper Harvest Pretorius gebore is. “Ons is so dronkverlief,” het Pretorius gesê.

Pretorius het in April op Instagram die betekenis van die baba se naam verduidelik. “Harper: ʼn instrument in God se hande (Openbaring 14:2), verskuiwer van atmosfere (1 Samuel 16:23), aanbidder (Psalm 43:4),” het sy geskryf.

Heidi en haar babaseuntjie, Hendré, in die hospitaal. (Foto: Instagram/heidi.co.za)

Die Vrystaatse sangeres Heidi en haar man, Henk Fourie, het in Junie aangekondig dat hulle ʼn babaseuntjie ryker geword het.

Heidi het op Instagram geskryf dat klein Hendré op Vrydag 18 Junie sy opwagting gemaak het. Hy het 3,4 kg geweeg en was 52 cm lank by geboorte.

Klein Jack Bam, Therese en Chris Bam se seuntjie. (Foto: Instagram/Therese Bam)

Therese Bam, die gewilde blondekop-aktrise en Kwêla-aanbieder, het in Junie vanjaar aan Maroela Media gesê sy is slaggereed om vanjaar op die ouderdom van 44 ma te word van ʼn babaseuntjie.

Sy het in Maart vanjaar aangekondig dat sy en haar man, Chris Bam, ouers gaan word ná drie jaar van sukkel.

Dié seuntjie, wat Jack heet, is op 18 Augustus gebore.

Riana Nel en Cornel de Beer met klein Reinhart in die agtergrond. (Foto: Instagram/Riana Nel)

Die sangeres en liedjieskrywer Riana Nel het in Junie op sosiale media aangekondig dat haar vierde seuntjie gebore is. Die babaseuntjie heet Reinhart.

“Dankie, Jesus, vir u goedheid!” het sy by ʼn foto geskryf waar sy en haar man, Cornel de Beer, mekaar langs die pasgebore baba se bedjie soen. Die egpaar het ook drie ouer seuns, Tristian, Sebastian en Estiaan.

Prins Harry en Meghan tydens haar tweede swangerskap. (Foto: @misanharriman/Twitter)

Prins Harry en sy vrou, Meghan, het in Junie die geboorte van hul dogter, Lilibet Diana, aangekondig.

Die hertog en hertogin van Sussex sê in ’n verklaring klein Lili is vernoem na haar oumagrootjie, koningin Elizabeth II, wie se noemnaam Lilibet is.

Haar middelnaam, Diana, is gekies om haar ouma Diana, die prinses van Wallis, te vereer.

Lili, die agtste aanspraakmaker op die Britse troon en die koningin se 11de agterkleinkind, is op Vrydag 4 Junie in Santa Barbara in Kalifornië gebore. Sy het 3,2 kg by geboorte geweeg.

Ricus Nel en Liza Brönner se klein Lisa-Bella. (Foto: Afrikaans is Groot/Facebook)

Die sangerspaar Ricus Nel en Liza Brönner het in Augustus ʼn babadogtertjie verwelkom. Haar naam is Lisa-Bella.

Nel, bekend vir liedjies soos “Boerepompie” en “Harde kole”, het in Maart vanjaar aangekondig hulle word ʼn dogtertjie ryker.

Hulle is reeds die ouers van ʼn seuntjie, Dawid, wat op 22 November 2018 gebore is.

Scarlett Johansson en Colin Jost. (Foto: Film Magic/Facebook)

Die Black Widow-aktrise Scarlett Johansson en haar man, Colin Jost, het in Augustus bekend gemaak dat hulle ʼn babaseuntjie ryker geword het.

Die seuntjie heet Cosmo en is Jost (39) se eersteling. Dit is Johansson (36) se tweede kind – sy het ʼn sesjarige dogter, Rose Dorothy, uit haar huwelik met Romain Dauriac. Johansson en Jost is in Oktober verlede jaar getroud.

Pieter Marcato en sy baba, Ilhan. (Foto: Facebook/Pieter Marcato)

Die sanger en liedjieskrywer Pieter Marcato en sy vrou, Karin Smit, het in September ʼn babaseuntjie verwelkom.

Marcato is deel van die musiekgroep EON, waarvan die Getroud met rugby-akteur Altus Theart die voorsanger is. Die groep wys deesdae gereeld gesig in dié sepie namate Theart se karakter, Fafa Beltrame, sy nuwe musiekloopbaan ontdek.

Marcato het die baba se geboorte op sosiale media aangekondig. “Ons is baie opgewonde om die nuwe lid van ons gesin met julle te deel! Sê hallo vir Ilhan Smit,” het hy geskryf.

Prinses Beatrice en Edoardo Mapelli Mozzi op hulle troudag in Julie 2020. (Foto: Twitter/@RoyalFamily)

Prinses Beatrice, oudste dogter van prins Andrew en Sarah Ferguson, die hertogin van York, het op 18 September aan ʼn dogtertjie lewe geskenk.

Die Britse koningshuis het pas dié babanuus aangekondig. Dit is intussen aangekondig dat die dogtertjie Sienna Elizabeth Mapelli Mozzi heet.

Dit is Beatrice (33) en haar man, die eiendomsmagnaat Edoardo Mapelli Mozzi (36), se eersteling.

Hanna Grobler het dié foto van haar en baba Papillon op Facebook en Instagram gedeel.

Bok van Blerk en Hanna Grobler het in Oktober bekend gemaak dat hulle in September vanjaar ʼn babadogtertjie ryker geword het.

Grobler het die nuus op sosiale media gedeel en gesê die dogtertjie heet Papillon Anna Pepler. Volgens Grobler se inskrywing is sy op 21 September om 16:00 met ʼn keisersnee in die lewe gebring.

Sy het in haar inskrywing verduidelik dat sy voor die geboorte gereeld gemonitor is aangesien haar en Van Blerk (wie se regte naam Louis Pepler is) se oudste seuntjie, Louis, in April 2015 doodgebore is.

Die egpaar het ook ʼn seuntjie, Samuel, wat in Desember 2016 gebore is, en ʼn dogtertjie, Yamila, wat in Mei 2018 gebore is.

Julia Anastasopoulos se babaseuntjie. (Foto: Instagram)

Die aktrise Julia Anastasopoulos, bekend as die grappige selfhelpghoeroe Suzelle DIY, het in Oktober ʼn seuntjie ryker geword.

Anastasopoulos, wat ook in Showmax se komediereekse Tali’s Baby Diary en Tali’s Wedding Diary te sien was, het die nuus op Instagram gedeel met ʼn skattige swart-en-wit foto van haar slapende baba.

Die seuntjie is Anastasopoulos en haar man, die rolprentmaker Ari Kruger, se tweede kind. Hy is gebore nadat hulle 41 weke op hom gewag het. Sy het intussen bekend gemaak die baba heet Zach. Hy het ook ‘n sussie, Zoe, wat in Julie 2018 gebore is.

Elijah Luca van Niekerk. (Foto: Wayde van Niekerk/Facebook)

Die Suid-Afrikaanse 400 m-rekordhouer Wayde van Niekerk en sy vrou, Chesney, se eersteling is in November gebore.

Van Niekerk het op Facebook met foto’s van hul pasgebore babaseuntjie, Elijah Luca van Niekerk, gespog.

Sean-Marco Vorster, wat in ‘Legacy’ en ‘Alles Malan’ te sien is, saam met sy babadogtertjie, Ayla. (Foto: Instagram/Sean-Marco Vorster)

Die akteurspaar Sean-Marco Vorster en Jay Anstey, wat onderskeidelik die rolle van Stefan en Lexi in die M-Net-telenovelle Legacy vertolk, het in Desember op Instagram aangekondig dat hul babadogtertjie gebore is.

Die dogtertjie, Ayla, is op 6 Desember gebore. Volgens die paartjie se inskrywings is klein Ayla deur middel van vrygeboorte in die lewe gebring. Dit beteken dat geen mediese hulp verleen is tydens die geboorte nie.

Swangerskappe

Juan en Shamodene Boucher het in Augustus dié sonarfoto op Instagram gedeel. Hulle dogtertjie, Novah, word in Februarie 2022 gebore.

Die rasperstemsanger Juan Boucher en sy vrou, Shamodene, word in Februarie 2022 ʼn pienkvoet ryker.

Shamodene het dié nuus in Augustus op sosiale media gedeel deur ʼn skattige sonarvideo op Facebook en Instagram te plaas.

“So geseënd. Baba Boucher kom 11 Feb 2022 [sic],” het Shamodene by die video op Instagram geskryf.

Hulle het intussen bekend gemaak dat die babadogtertjie se naam Novah sal wees.

Janina Oberholzer het pas bekend gemaak dat sy haar eersteling verwag. (Foto: Facebook/Janina Oberholzer)

Janina Oberholzer, aanbieder van die kykNET-program Toks en Tjops, het in Augustus aangekondig dat sy haar eersteling verwag.

Sy het die aankondiging op sosiale media gemaak met ʼn foto van ʼn babapakkie wat lees: “Worth every single shot.” Die baba is deur middel van IVF-behandeling verwek.

“Ons het bitter lank vir hierdie oomblik gebid en nou kan ons uiteindelik die nuus met almal deel. Ek wou al lankal die nuus verklap, maar het eers net hierdie hoofstuk saam met Ryno geniet,” het Oberholzer gesê.

Dit is intussen bekend gemaak dat hulle ʼn seuntjie verwag.

Rosie Huntington-Whiteley en Jason Statham verlede jaar op die Oscars se Vanity Fair-partytjie. (Foto: Frazer Harrison/Getty Images/AFP)

Jason Statham, die akteur bekend vir sy rolle in aksieflieks soos The Fast and the Furious en The Bank Job, en sy verloofde, die supermodel Rosie Huntington-Whiteley, het ook in Augustus aangekondig dat hulle nog ʼn pienkvoet verwag.

Die egpaar het in 2017 hul eersteling, Jack, verwelkom. Huntington-Whiteley (34) het ʼn foto op Instagram geplaas waar sy met ʼn bababoepie spog. “Ta-da, #round2,” het sy by die foto geskryf.

Statham (54) en Huntington-Whiteley het mekaar in 2009 ontmoet en het in 2016 hul verlowing op die tapyt by die Golden Globe-geleentheid bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.